'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Wednesday, 18 May 2011

Spreuke 30:28: Die geitjie leer: Bly volhardend in jou Koning se paleis.

Lees:  Spreuke 30

Hoofgedagtes:
1.  Jy kan in die paleis van jou Koning woon.
2.  Volhard in die paleis van jou Koning.
3.  Kom jou verantwoordelikheid na.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Wat verwag die Here van ons gedurende hierdie jaar en deur ons hele lewe?

Hierop het Agur ons na die NATUUR verwys.
      Die Here antwoord ons deur 4 klein boodskappertjies.
         Die MIERE leer vir ons:  
         Gebruik die genadegawes en genadetyd wat God aan jou gee
         om jou geestelike voorraadskure VOL te maak met die KRAGTIGE kos van Sy Woord.
         By die DASSIES leer ons:
         Bly NABY jou Rotswoning,
          sodat jy BETYDS by Hom kan skuil wanneer jou brandwagte waarsku.
         By die SPRINKANE leer ons:
         Kry jou lewe in ORDE en
         beweeg KOERSVAS saam met jou medegelowiges na God toe.

Kom ons kyk nou na die BUITENGEWONE wysheid wat die Here deur die skugter GEITJIE vir ons leer.
 Agur sê:
 ‘n Geitjie kan jy met die hande gryp,
 en tog is hy in konings se paleise!

‘n Geitjie is baie KLEIN en WEERLOOS en SKADELOOS!
  Hy kan homself nie teen sy vyande VERDEDIG nie.
  Hy het nie TANDE waarmee hy sy vyand kan VERSKEUR nie.
  Hy beskik ook nie oor die VREESAANJAENDE gebrul van ‘n LEEU,
  waarmee hy sy vyande kan skrikmaak nie.
  Al AFSKRIKMIDDEL wat die geitjie het, is sy STERT!
  En dit val af as jy hom wil vang!
  Eintlik is dit ‘n BELAGLIKE manier om ‘n vyand te probeer verdryf!

Maar die Here gee vir ons die volgende lewensbelangrike boodskap deur die weerlose geitjie met sy kraalogies:
1.    Jy KAN in die paleis van jou Koning BLY.
2.    VOLHARD in die paleis van jou Koning.
3.    Kom jou verantwoordelikheid na.

Van hierdie weerlose diertjie sê Agur:  
  ‘n Geitjie kan jy met die hande gryp,
  en tog is hy in konings se paleise!

Ons ken ‘n geitjie, of soos ons hom ook noem, ‘n AKKEDIS.
 Hulle is KLEIN en SKAAM en RATS!
 Hulle het klein SUIERTJIES onder hulle pootjies
 waarmee hulle met GEMAK teen ‘n muur
 en selfs teen die ONDERKANT van die DAK kan loop.
 ‘n Akkedissie kruip deur die KLEINSTE gleufie om homself BINNE-in ‘n gebou tuis te maak.
 Jy kry hulle ook in die koning se PALEIS!
 Selfs DAAR het die akkedissie VRYE toegang!
 Hy sit teen die VERSIERDE mure en mooi PLAFONNE waar hy alles met sy kraalogies dophou!

Moontlik het Agur die geitjie daar sien sit.
 En hy het sy ore GESPITS om die BOODSKAP van hierdie klein reptiel te hoor.
 Met verwondering hoor hy hoe hierdie klein skepseltjie van God as’t ware vra:
 Mensekind, is jy ook in die Koning se PALEIS?
 Maak jy jou ook DAAR tuis?

Agur, wat self ‘n gelowige was, het geweet:
 dit gaan nie oor ‘n AARDSE koning met sy pragtige paleis van KLIP en HOUT nie!
 Maar dit gaan oor God,
 die Koning van HEMEL en AARDE!

En die geitjie vra:
 Bly jy NABY Hom ~
 IN Sy PALEIS?
 Soek jy by Hom SKUILING?
 Soek jy by Hom KOS vir jou GELOOF?

En verder:
 Besef jy die groot VOORREG wat jy het?
 Jy het VRYE toegang tot God se TROON!
 Jy hoef nie deur BARSTE en SKEURE in die muur te KRUIP
 om by Hom in sy paleis uit te kom nie!
 Want Hy het SELF die DEUR vir jou OOPGEMAAK in Jesus Christus,
 sy ENIGGEBORE Seun!
 Christus het deur Sy LYDING en DOOD en
OPSTANDING die deur na God toe OOPGEBEUR.
 Hy het die MUUR van SONDE wat tussen jou en God gestaan het,
 AFGEBREEK en dit VERNIETIG!
 En nou kan jy deur GELOOF in Hom,
 VRYELIK na jou Koning toe gaan!

Luister hoe JUBEL die skrywer van die brief aan die Hebreërs:
 Terwyl ons dan, broeders,
 vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus
 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen,
 dit is sy vlees,
 en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het,
 laat ons toetree met ‘n waaragtige hart
 in volle geloofsversekerdheid,
 die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete
 en die liggaam gewas met rein water! (10:19-22).

Jesus Christus en Hy ALLEEN het die pad na God toe vir ons OOPGEMAAK!
 Hy is self die WEG en die WAARHEID en die LEWE!
 NIEMAND kom na die Vader toe nie,
 BEHALWE deur Hom!
 Hierdie Pad moet ons vanjaar en ELKE dag van ons lewe volg!  
 By hierdie DEUR, ons Here Jesus,
 kan ons met VRYMOEDIGHEID ingaan
 en daar BLY!

Maar, geliefdes, HOE kan ons op hierdie pad loop?
 HOE kan ons by hierdie deur INGAAN?

Hierop is daar net een genadige antwoord:
 Glo in Jesus Christus ~
 en jy sal LEWE!
 Glo in Jesus Christus ~
 en die DEUR na God se PALEIS,
 Sy VADERHUIS,
 gaan voor jou OOP!

So roep die geitjie na ons:
 KOM!
 Woon IN die Koning se PALEIS!

Maar die geitjie sê nog iets:
      Hou AAN en hou UIT!
      VOLHARD!
      Dit is die 2de stukkie wysheid wat die Here deur die geitjie aan ons leer ~
      VOLHARD!
      VOLHARD op die pad na die Vaderhuis!
      VOLHARD
      totdat jy in die Koning se PALEIS is!

Die pad van die geitjie om IN die koning se paleis in te kom, is ‘n MOEILIKE pad.
 Hy moet dikwels deur NOU skrefies en gaatjies kruip.
 Hy moet ‘n pad OOPBEUR!
 Maar die geitjie hou AAN!
 Hy hou nie op VOORDAT hy BINNE-IN die koning se paleis is nie!
 Daardeur MOEDIG hy ons aan:
 Broeder en suster en kinders:
 VOLHARD!
 Moenie moed OPGEE as daar TERUGSLAE en TEENSPOED op jou pad kom nie!
 Moenie OMDRAAI nie,
 maar hou AAN en
 hou UIT!

In ons lewe waarin alles teen ‘n VINNIGE pas moet gebeur, is hierdie wysheid van die geitjie tog so nodig!
  Ons eet KITS-KOS.
  Ons soek KITS-OPLOSSINGS vir probleme.
  Ons wil KITS-MILJOENÊRS word.
  En wanneer daar TEENSPOED en TERUGSLAE kom,
  word ons so gou MOEDELOOS!
  Ons WIL nie SUKKEL nie.
  Ons wil nie SWAARKRY nie.
  Ons wil nie VOLHARD nie!

Maar die lewe van ‘n gelowige moet juis ‘n VOORBEELD stel van VOLHARDING!
  Ons moet veral VOLHARD in ons stryd teen die DUIWEL!
  Hy hou nie ‘n OOMBLIK op om jou aan te val nie.
  Hy wil nie hê dat jy NABY die Here,
  IN Sy PALEIS moet bly nie.
  Daarom val hy jou AANHOUDEND aan, sonder ophou!

Maar die geitjie moedig jou aan:
 VOLHARD in jou STRYD teen die SONDE en die DUIWEL!
 Moenie MOEDELOOS word en tou OPGOOI nie!
 MOENIE uit die PALEIS van jou Koning UITGAAN nie!
 Wanneer jy uit SWAKHEID in sonde val,
 staan dan OP en gaan DADELIK terug na jou Koning toe!
 En BLY NABY Hom!

Ag, geliefdes, hoe MAKLIK dwaal ons nie in die BESIG-WEES van elke dag WEG uit die Koning se paleis nie!
 Gewoonlik is jy aan die BEGIN van ‘n nuwe jaar ERNSTIG in jou voorneme om die Here met YWER te dien.
 Maar jou BESIGE lewe neem GOU oor!
 Al die GEJAAG om alles te doen wat van jou verwag word!
 Stadig begin jy AFSKEEP in jou verhouding met God!
 Jy vergeet om Bybel te lees.
 Jy bid vinnig en gejaagd.
 Jy MEET en TOETS nie meer dit wat jy doen aan die Woord van God nie.
 Die DONKER kolle van sonde word al hoe meer.
 En so DWAAL jy uit die paleis van jou Koning weg!

Maar die geitjie roep:
 BLY in die paleis van jou Koning!
 VOLHARD!
 Want wie volhard tot die einde toe, sal gered word (Mattheus 24:13).

Hierdie jaar wat voorlê, en elke dag van jou lewe VEREIS volharding!
 Daar kan dinge gebeur wat jou KWAAD maak,
 BRIESEND kwaad!
 Daar kan dinge gebeur wat jou BLY maak.
 Daar kom BEKOMMERNIS op jou pad ~
 en HARTSEER!
 Daar kom ook TELEURSTELLINGS.
 Jy beleef dae wanneer dit vir jou voel of alles te veel word!
 Soms vra jy:
 Is alles die moeite werd?
 Is dit die moeite werd om aan te hou GLO?

Die geitjie sê:
 Gelowige kind van God,
 jy wat bely dat jy aan Christus behoort:
 VOLHARD in die GELOOF!
 BLY altyd NABY jou Koning!
 Bly IN Sy paleis!

Maar, geliefdes, die geitjie het nog ‘n stukkie BUITENGEWONE wysheid.
 Hy is nie LEDIG waar hy teen die MUUR of teen die plafon sit nie.
 Hy vang INSEKTE!
 Hy is ‘n NUTTIGE skepseltjie van God!
 Hy het ‘n VERANTWOORDELIKHEID wat hy NAKOM!

Daarom sê die Here deur die geitjie vir ons:
 Jy is ‘n NUTTIGE skepsel van God ~
 die KROON van Sy skepping!
 Jy het ‘n VERANTWOORDELIKHEID!
 Kom jy jou verantwoordelikheid na?
 ROEI jy die INSEKTE van SONDE rondom jou uit?

Want dit is die TAAK wat God aan ELKE gelowige gee:
 Om SONDE in hierdie wêreld te BEVEG en
 UIT te ROEI!
 Nie net sonde in jou EIE lewe nie,
 maar ook in die wêreld en die gemeenskap waarin jy woon.
 Jou taak is om die SKADELIKE,
 die VERKEERDE dinge,
 die sonde-GOGGAS uit te roei!
 Jy moet ALLES beveg wat TEEN God se Woord ingaan.
 Jy moet dit deur jou VOORBEELD doen!

Die klein geitjie roep:
 Kom hierdie verantwoordelikheid NA!
 Wees DIENSBAAR in hierdie wêreld!
 BEVEG die sonde ORAL en ALTYD met WOORD en DAAD!
 Dit is wat God van ons verwag ~
 VANDAG en MÔRE en ELKE dag van jou lewe!

Geliefdes, die Here PRAAT met ons deur die NATUUR.
 En ons moet na Sy stem LUISTER.
 Elke keer as jy ‘n MIER sien,
 staan eers stil en LUISTER na sy BUITENGEWONE wysheid.
 Deur die miere sê die Here:
 GEBRUIK die GENADEGAWES en
 GENADETYD wat God gee om jou geestelike voorraadskure VOL te maak met die kragtige kos van Sy Woord!
 As jy dalk êrens ‘n DASSIE sien,
 begryp dan ook iets van hulle wysheid!
 Want deur hulle sê die Here:
 Bly NABY jou Rotswoning en
 vlug BETYDS na Hom toe wanneer jy die waarskuwing van die BRANDWAGTE hoor.
 As jy ‘n SPRINKAAN sien,
 luister ook na sy boodskap!
 Deur hom sê die Here:
 Beweeg KOERSVAS saam met jou medegelowiges na God toe!
 En as jy die klein geitjie haastig teen die muur sien hardloop,
 luister dan ook na sy boodskap:
 want deur hom sê die Here:
 Jy KAN met VRYMOEDIGHEID in die paleis van jou Koning ingaan!
 VOLHARD in Sy paleis en
 kom jou verantwoordelikheid na!

Amen.

Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment