'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Thursday, 26 May 2011

Filippense 2:6 – 8: Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens.

Lees:  Filippense 1:27 – 2:18;  Nederlandse Geloofs Belydenis (NGB) artikel 19

Geliefde broeders en susters en kinders,

Soos ons verlede Sondag gevra het, vra ons vandag weer:
      Wat GLO jy van Jesus Christus?
      Jou antwoord op hierdie vraag, bepaal HOE jou lewe gaan lyk ~
      NOU, terwyl jy hier op aarde lewe,
      maar ook wat van jou gaan word NA jou dood!

Want alles EINDIG nie met jou dood nie!
  Na jou dood hier op aarde, sal jy VOORTLEWE ~
 in die hemel BY God, ~
 of in die HEL, WEG van God af!
  Ja, die HEL is nie ‘n toestand van BEWUSTELOOSHEID waar jy NIKS sal VOEL en NIKS sal BELEWE nie!
 In die hel word onbeskryflike LIGGAAMLIKE pyn en smart gely.
 Maar ook onbeskryflike GEESTELIKE pyn en smart!

WAAR gaan jy LEWE, NADAT jy hier op aarde gesterf het?
  Die antwoord op hierdie vraag, word BEPAAL deur dit wat jy van Jesus Christus GLO.

Ons kan sê:
  Jesus Christus staan in die SENTRUM van die hele Bybel!
  ALLES wat God van Homself in die Bybel openbaar, draai om Christus!
  Daarom gee ons belydenisskrifte baie aandag aan dit wat ons van Christus glo.

In artikel 18 van die NGB, bely ons dat Jesus waarlik MENS was.
  Hy is as MENS uit die maagd Maria gebore.
  Hy het AL die swakhede van ons menslike natuur gehad.
 Daarom het Hy MOEG en VAAK geword sodat Hy moes SLAAP.
 Het het HONGER en DORS gehad sodat hy moes EET en DRINK.
 Hy was HARTSEER en het GEHUIL.
 Hy het GESTERF en is BEGRAWE.
  Jesus Christus het ‘n swak menslike natuur gehad, NETSOOS ons!

Maar daar was EEN uitsondering:
  Hy was totaal SONDER sonde, sodat Hy vir ONS sonde kon BETAAL!
  Want iemand wat self SONDIG is, ~ 
  iemand wat self BANKROT is as gevolg van sy eie SKULD,
  kan nie vir ander se skuld betaal nie!

In artikel 19 bely ons dat Jesus ook waarlik God is!
  Sy Goddelike en menslike nature is ONAFSKEIDELIK met mekaar verenig en verbind!

Ons teks stel dit bo alle twyfel!
  Jesus Christus is WAARLIK God
  en WAARLIK mens in EEN Persoon.
  Hierdie 2 nature kan NIE van mekaar LOSGEMAAK word nie.
  Dit is soos die SON en sy STRALE:
  Jy kan tog nie ‘n sonstraal van die son af LOSMAAK nie!
  Netso kan Jesus se Goddelike en menslik nature NIE van mekaar LOSGEMAAK word nie.

Daarom sê ons teks:
 Hy, wat in die gestalte van God was,
 het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,
 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem
 en aan die mense gelyk geword;
 en in gedaante gevind as ‘n mens,
 het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe,
 ja, die dood van die kruis.

Kom ons kyk eers wat die woorde gestalte van God beteken.
 Miskien moet ons eers sê wat dit NIE beteken nie:
 Ons het NIE hier met ‘n VERGELYKING te doen nie.
 Daarom kan ons nie sê dat Jesus net SOOS God GELYK het nie.
 Die gestalte van God beteken:
 Dit is God SELF!
 Jesus is SELF God en
 Hy sal God BLY!
 Hy het nie van gestalte VERANDER nie ~
 netsoos GEEN mens van gestalte kan verander
 en byvoorbeeld die gestalte van ‘n dier kan aanneem nie!

Die uitdrukking:
 gestalte van God sê vir ons:
 dat Jesus reeds van VOOR sy GEBOORTE,
 God is!
 Daarom lees ons in Johannes 1:1, 14:
 In die begin was die Woord, en die Woord was by God,
 en die Woord was God.
 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—
 en ons het sy heerlikheid aanskou,
 ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom.

Die Woord is Jesus Christus.
 Hy IS van ALTYD af God.
 Hy het nie OPGEHOU om God te wees,
 toe Hy as MENS uit Maria GEBORE is nie.
 Hy het nie sy Godheid VERLOOR
 of AFGELÊ
 of EENKANT neergesit nie!
 Daarom sê ons teks:
 Hy, wat in die gestalte van God was,
 het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie!

Dit beteken dat Hy nie nodig gehad het om Sy Godheid of Goddelike natuur te VERKRY of te VERDIEN nie!
 Hy is van ALTYD af God.
 Hy het nie eers God GEWORD
 met Sy GEBOORTE of
 met Sy OPSTANDING uit die dood nie.

Daarby het Hy ook nie Sy Godheid beskou as iets wat van Hom af WEGGENEEM kan word nie.
 Hy het nie nodig gehad om met alle MAG en KRAG aan Sy Goddelike natuur VAS te KLOU,
 asof iemand Hom daarvan kan BEROOF nie.
 Tydens die versoeking in die woestyn,
 wou die duiwel hê dat Jesus sy Goddelike mag moet BEWYS
 deur van klippe brood te maak
 en van die Tempel se dak af te spring.
 Maar Jesus het geweier en eenvoudig net gesê:
 Daar staan geskryf ~
 en dit was vir die duiwel genoeg om te besef dat Jesus waarlik God is.

Ook toe Hy GESTERF het en BEGRAWE is, het Hy NIE sy Goddelike natuur VERLOOR nie.
  In die DOOD het Hy sy Goddelike natuur BEHOU
 sodat Hy deur die KRAG daarvan
 die dood kon OORWIN deur op te staan.
  Daarom is Sy OPSTANDING die duidelike bewys dat Hy waarlik God is.

Maar, geliefdes, WAT beteken hierdie belydenis dat Jesus WARE God en WARE mens is, dan vir ons?
  Waarom hang ons LEWE daarvan af,
  nou en na die dood?

As ons nie GLO dat Jesus WARE God en WARE mens is nie,
 dan is ons nog NIE uit die mag van die sonde en die dood VERLOS nie!
 Dan moet ons nog SELF vir ons sonde BETAAL.
 Dan is daar vir ons GEEN ewige lewe moontlik nie.

Maar nou ~ Jesus Christus IS ware God en ware mens!
 Hy HET die mag van die dood OORWIN.
 Hy HET die ewige lewe in ons plek vir ons verdien,
  sodat ons kan weet:
 Wanneer ek hier op aarde sterwe,
 gaan ek DEUR die graf na God toe
 om vir altyd BY Hom te bly!
 Want Jesus het IN die graf INGEGAAN en
 daar DEURGEGAAN en
 anderkant UITGEKOM,
 sodat ek
 en ELKEEN wat in Hom glo,
 NOOIT verlore sal gaan nie ~
 nooit in die HEL sal beland nie,
 maar vir EWIG sal met Hom ~
 BY Hom sal lewe!

Hierdie VASTE geloof kom ook nie uit ONSSELF nie!
 Ons glo dit NIE omdat ons dit met ons menslike verstand presies haarfyn kan VERKLAAR en VERSTAAN nie.
 Eintlik kan NIEMAND die twee nature van Christus werklik VERSTAAN nie!
 Maar deur die genade van die Heilige Gees kan ons dit van harte GLO ~
 al verstaan ons dit nie.

En hierdie GELOOF gee aan ons heerlike TROOS in die wêreld waar ons met so baie ONSEKERHEDE te doen kry.
 Hierdie GELOOF gee aan ons RUSTIGHEID wanneer ons met die dood gekonfronteer word;
 en wanneer ons BANG word vir al die lelike dinge wat om ons gebeur;
 en wanneer ons met KOMMER in ons harte na die toekoms kyk.
 Want hierdie geloof in Jesus Christus
 wat ware God en ware mens is,
 verseker ons dat NIKS,
 ABSOLUUT niks ons van God se liefde kan skei nie,
 die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Maar, geliefdes, ons moet versigtig wees om NET vir HIERDIE lewe op Jesus te vertrou!
 Jou geloof in Christus,
 wat ware God en ware mens is,
 BEPAAL jou bestemming na jou dood!
 Die vraag:
 WAT word van jou NA jou dood?
 word beantwoord deur dit wat jy van Christus GLO!

Glo jy dat Hy van EWIGHEID af WARE God is EN
  dat Hy met sy GEBOORTE ‘n WARE menslike natuur aangeneem het?
  Dan kan jy WEET:
  Wanneer ek hier op aarde sterf,
  SAL ek IN die graf INGAAN en
  daar DEURGAAN en
  aan die anderkant BY Christus UITKOM ~
  omdat Hy die pad in my plek OOPGEMAAK het!
  Maar as jy dit NIE glo nie,
  nou-ja, dan kan jy eweneens weet:
  wanneer ek sterf,
  dan gaan ek beslis vir ewig in die hel beland!

Hoe tragies, geliefdes, dat hierdie geloof in Christus, deur die duiwel MISBRUIK word om baie mense te MISLEI!
  Baie mense, ook GELOWIGES sê:
  dit maak nie saak WAT jy van Christus glo nie
  Net SOLANK jy darem in Hom glo.
  Maar, dit wat jy van Christus glo, is van LEWENSBELANG!
  Dit bepaal of jy na jou dood, in die HEMEL,
  BY God gaan lewe ~
  en of jy in die HEL,
  WEG van God af, gaan lewe!

Daarom, geliefdes:
 Maak in jou voorbereiding vir Nagmaal seker WAT jy van Christus glo!
 Jou LEWE,
 nou en na jou dood,
 hang daarvan af!
Amen.

Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom