'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Wednesday, 18 May 2011

Markus 14:35, 37: Jesus se eensame lyding.

Lees: Markus 14:32 – 42

Hoofgedagtes:
1.  Afstand in Jesus se lyding.
2.  Nabyheid in Sy lyding.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Wanneer ons aan die lyding van ons Here Jesus Christus dink, is ons geneig om NET by Sy LIGGAAMLIKE lyding vas te  steek.
      Ons dink aan die VERSKRIKLIKE pyn wat Hy aan die kruis gely het.
      Die doringkroon wat in sy kop INSTEEK;
      die SPYKERS deur sy hande en voete geslaan;
      sy hele GEWIG wat aan die spykers hang; 
      wonde wat OOPSKEUR ~
      om nie eens van die ondraaglike pyn in sy INGEWANDE te praat nie!
      Dit is hierdie LIGGAAMLIKE lyding wat ‘n mens AANGRYP!
      Dit is díe SENSASIONELE en WREDE manier waarop Hy tereggestel is,
      waaroor mense NAGMERRIES kry!
      Jesus se LIGGAAMLIKE lyding was inderdaad GEWELDIG!

Maar ons mag NOOIT van Sy GEESTELIKE lyding vergeet nie!
 Toe Judas se bende Hom in hegtenis neem,
 het AL sy dissipels weggehardloop!
 Die AANKLAGTE teen Hom is so opsigtelik VALS,
 dat Pilatus Hom ONSKULDIG bevind het ~
 en tog gee hy Hom oor om GEKRUISIG te word!
 Die soldate spoeg in Sy gesig;
 hulle SPOT met Hom!
 In hierdie GEESTELIKE lyding mag ons ook nie van Sy EENSAAMHEID vergeet nie!
 Hy was HEELTEMAL alleen ~
 van MENSE verlaat;
 ook van God verlaat!

Jesus se EENSAAMHEID in sy lyding het reeds met Sy worsteling in Getsémané begin.
  Daar sien ons Hom reeds ALLEEN in die gebed worstel.

Ons gaan die volgende paar Sondae Jesus se lyding in die prediking behandel.
  Vanoggend kyk ons na Sy EENSAAMHEID in sy lyding.
  Ons kyk na:
1.  die AFSTAND wat Jesus in sy lyding soek en
2.  na die NABYHEID wat Hy in sy lyding soek.

Met Jesus se GEBEDSWORSTELING in Getsémané, geliefdes, moet ons BAIE versigtig omgaan!
 Eintlik kan NIEMAND van ons die DIEPTE van hierdie worsteling verstaan nie.
 Want NIEMAND het VOOR Jesus só in die gebed geworstel nie.
 En NIEMAND sal NA Hom weer só ‘n worsteling beleef nie.

Kom ons plaas eers die gebeure van ons teks in die verband waarin dit staan.
 Jesus en sy dissipels het reeds die laaste PAASMAALTYD geëet.
 Tydens die maaltyd het Hy vir hulle gesê dat een van hulle Hom sal VERRAAI.
 Hy het ook vir hulle gesê dat hulle ALMAL daardie selfde nag,
 van Hom af sal WEGHARDLOOP
 en dat Petrus Hom sal VERLOËN.
 Hierop het Petrus geantwoord:
 Al sal almal ook aanstoot neem,
 dan tog nie ek nie.
 Al moes ek saam met U sterwe,
 ek sal U nooit verloën nie!

Hierna het hulle na Getsémané vertrek, die olyfboord waar Jesus en sy dissipels dikwels rustigheid gesoek het.
 Van die 8 dissipels wat Hy by die ingang tot die tuin laat agterbly het, weet ons eintlik niks.
 Ons weet slegs van die 3 wat Hy saamgeneem het,
 naamlik Petrus en Johannes en Jakobus.
 Hulle moes nie net GETUIES van sy lyding wees nie.
 Hulle moes Hom ook ONDERSTEUN!
 Daarom die opdrag in vers 34:
 Bly hier en waak (saam met my – Mattheus 26:38)

Die dissipels moet SAAM met Jesus BID!
 Hy wil ONDERSTEUNING van sy DISSIPELS hê ~
 veral ondersteuning in GEBED!
 Hulle, wat die NAASTE aan Hom staan op aarde,
 Sy VRIENDE (Lukas 12:4; Johannes 15:14 – 15),
 moet Hom in hulle gebede DRA!
 Want Jesus het vir hulle gesê:
 My siel is diep bedroef tot die dood toe!

Nou moet ons dit goed verstaan, geliefdes.
 Jesus was nie bedroef,
 omdat Hy BANG was vir die geweldige LIGGAAMLIKE pyn en lyding wat op Hom gewag het nie.
 Hy was ook nie HARTSEER,
 omdat Hy bang was vir die liggaamlike DOOD nie.
 Jesus was diep bedroef,
 Hy was ontsteld oor die GODVERLATENHEID wat op Hom gewag het!
 Hy was diep bedroef en ontsteld
 omdat Hy GEWEET het dat Hy die ONBESKRYFLIKE lyding en pyn
 HEELTEMAL alleen sal moet dra!
 Daardie ALLEENHEID het reeds in Getsémané begin.

Hier leer ons Jesus ken in Sy MENSLIKE natuur ~
 Hy was WAARLIK mens, netsoos ons!
 Want dit is mos ONS behoefte wanneer ons swaarkry, nie waar nie, geliefdes!
 Dan het jy ook die ONDERSTEUNING van jou medegelowiges só nodig.
 Dink net watter BEMOEDIGING dit vir jou gee
 as weet dat medelidmate, familie en vriende vir jou BID!
 Hulle dra, uit liefde vir jou,
 ook JOU saak aan die Here op.
 Daarmee probeer ons God nie DWING om te doen wat ONS vra nie!
 Maar ons dra MEKAAR in gebed aan die Here op,
 omdat ons mekaar LIEFHET!
 Daarom mag ons tog NOOIT vergeet of OPHOU om vir mekaar te BID nie.

Dit is mos die rede waarom die Here ons aan mekaar gegee het!
 Dit is die rede waarom Hy ons SAAMGEBIND het as ‘n GEMEENTE  ~ 
 sodat ons MEKAAR kan ondersteun!
 Ondersteun in ons SWAARKRY,
 in ons LYDING,
 in ons STRYD teen VERSOEKINGS en SONDE wat op ons pad kom.
 Ondersteun in die BEDIENING van God se Woord in die gemeente.
 Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus ~
 so BEVEEL die Here ons in Galasiërs 6:2.

Ons Here Jesus het in sy menslik onbeskryflike lyding die NABYHEID van sy dissipels en vriende GESOEK!
 Daarom het Hy net 'n bietjie verder gegaan en gebid!
 Lukas sê:
 Dit was omtrent so ver as ‘n mens met ‘n klip kan gooi (22:41)
 Jesus het net ‘n KLIPGOOI ver van sy dissipels neergebuig om te bid.
 ‘n Klipgooi is mos nie BAIE ver nie.
 Dit is wel EENKANT, maar tog NABY.
 Daarmee BEVESTIG Jesus dat Hy hulle ondersteuning NODIG het!
 Daarom die opdrag in vers 34:
 Bly hier en waak (saam met My)!

Daarna het Hy ‘n bietjie verder gegaan voor Hy op die grond geval en gebid het.
 Hierdie bietjie verder
 of soos Lukas sê ~ KLIPGOOI,
 wys dat ons Here Jesus ook AFSTAND tussen Hom en sy dissipels gesoek het!
 Hy wou EENKANT wees in Sy lyding.
 Hy wou hê dat sy dissipels GETUIES moet wees van Sy lyding.
 Hulle moes SIEN en HOOR hoe Hy ly.
 Maar hulle moes nie ALLES sien en hoor nie!

Kort tevore, toe hulle saam was in die vertrek waar Jesus die Nagmaal ingestel het ~
 toe moes hulle NABY Hom wees.
 Hulle moes ELKE woord duidelik HOOR en elke daad duidelik SIEN!
 By die Nagmaal moes hulle TEENAAN Hom wees,
 want die Nagmaal is mos ‘n GEMEENSKAPSMAALTYD.
 Daar was hulle SAAM met Hom aan tafel ~
 Johannes het selfs met sy kop op Jesus se BORS gelê (13:23)!  

Maar nou is daar AFSTAND!
      Afstand in Sy lyding, sodat hulle nie alles DUIDELIK kan sien en hoor nie.
      Jesus word al méér en méér GEÏSOLEER in sy lyding.
      Hy moet die STRAF van God op ONS sonde heeltemal ALLEEN dra!
      Daarom reeds die EENSAAMHEID in Getsémané.

En Hy was EENSAAM!
 Want hulle wat Hom moes ONDERSTEUN,
 Sy dissipels wat SAAM met Hom in gebed moes WAAK,
 HULLE het aan die SLAAP geraak!
 Toe Hy na Sy AFGESONDERDE worsteling weer bemoediging in hulle nabyheid kom soek,
 kry Hy hulle aan die slaap.
 Dit is asof ‘n mens die TELEURSTELLING in sy stem hoor wanneer Hy vir Petrus sê:
 Simon, slaap jy?
 Was jy nie in staat om een uur te waak nie?

Let op, geliefdes, dat Jesus nie sê: Petrus nie!
  Op daardie stadium was die OORMOEDIGE dissipel NIE ‘n Petrus,
  ‘n ROTS nie!
  Hy was nog Simon ~
  en Simon beteken:
  die een wat luister!
  Petrus wat ‘n paar uur tevore GEDINK het dat hy die ROTS is,
  toe hy gesê het dat hy bereid was om SAAM met Jesus te STERF ~
  hy is NIE die ROTS wat hy dink nie!
  Hy moet nog eers goed LUISTER!
  Want eers as jy goed GELUISTER het,
  dan kan jy uitgaan om deur die GENADE van Jesus ‘n ROTS te wees.
  ‘n ROTS vir jou medegelowiges.
  ‘n Rots wat SAAM met jou medelidmate kan WAAK en BID.
  ‘n Rots wat jou medelidmate se laste dra en so die wet van Christus vervul ~ soos Galasiërs 6:2 sê.

In Getsémané het Jesus alreeds die vlamme van God se toorn oor ONS sonde in Sy EENSAAMHEID voel brand!
  ‘n Eensaamheid wat daardie selfde nag nog GROTER sou word.
  ‘n Paar minute later sou AL sy dissipels nie net SLAAP nie,
  maar van Hom af WEGHARDLOOP!
  Nog later sou Hy aan die kruis die DIEPSTE eensaamheid ~
  die eensaamheid van Godverlatenheid beleef!

En wat ‘n mens die meeste tref, geliefdes, is dat Jesus hierdie eensaamheid GEWILLIG gedra het!
 Hy het nie daarvan WEGGEHARDLOOP nie.
 Hy het dit nie al KLAENDE gedra nie.
 Hy het sy dissipels nie bitterlik VERWYT nie!
 Selfs toe Hy sy teleurstelling uitspreek,
 omdat hulle aan die slaap geraak het,
 doen Hy dit nog LIEFDEVOL en met BEGRIP!

Só is ons Here Jesus Christus!
 Vol LIEFDE en BEGRIP.
 Hy VERSTAAN ons SWAKHEDE.
 Hy VERSTAAN ook ons LYDING!
 Want Hy het na sy menslike natuur gely.
 En Sy optrede in sy diepe lyding is so TIPIES menslik!
 Hy het opgetree soos ‘n MENS optree!

Dieselfde byna TEENSTRYDIGE manier waarop ONS ons lyding hanteer, dit kry ons ook by Jesus!
 Die begeerte tot NABYHEID en
 AFSONDERING in die lyding!
 Vra maar vir enige mens wat al ‘n swaar lyding moes deurgaan:
 Soms is daar tye dat jy NIE alleen wil wees nie!
 Jy SOEK mense om jou.
 Jy wil iemand NABY jou hê ~
 daar hoef nie GEPRAAT te word nie,
 soos Job se vriende vir 7 dae in STILTE by hom op sy ashoop gesit het.
 Maar dan kom daar weer tye dat jy NET alleen WIL wees!
 Dat jy net jou smart ALLEEN wil uithuil!
 Dat jy ALLEEN jou worsteling wil worstel ~
 net jy en jou hemelse Vader.

Maar die HELE tyd, in jou alleenheid en in die nabyheid, wil jy WEET:
 Daar is medegelowiges vir jou BID.
 Medegelowiges wat SAAM met jou voor God staan.
 Medegelowiges wat ook JOU saak aan die Here opdra!

Daarom, geliefdes, moet ons tog NOOIT van mekaar VERGEET nie!
 Moet mekaar tog nooit ALLEEN laat nie.
 Moet tog nooit aan die SLAAP raak teenoor mekaar nie.
 Bly ALTYD net ‘n KLIPGOOI van mekaar af ~
 in tye van VREUGDE,
 maar ook in tye van LYDING!
 Want Jesus het in EENSAAMHEID gely,
 sodat ONS NABY mekaar kan bly
 om vir mekaar te BID
 en mekaar te ondersteun!

Amen.

Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment