'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Wednesday, 18 May 2011

Markus 15:11, 15: Die keuse.

Lees:  Markus 15:1 – 20

Hoofgedagtes:
1.  Die skare se keuse.
2.  Pilatus se keuse.
3.  Jesus se keuse.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Jy moet ELKE dag baie KEUSES maak!
      Sommige van jou keuses het GEEN invloed op die verloop van jou lewe nie.
      Maar dan is daar weer keuses wat jy moet maak,
      waardeur jou HELE lewensloop beïnvloed word.
      Dan is daar ook keuses wat selfs tot in EWIGHEID ‘n invloed op jou lewe uitoefen.
      En nou gebeur dit dikwels dat die keuse wat jy in ‘n bepaalde situasie maak,
      deur ander MENSE of OMSTANDIGHEDE beïnvloed word.
      So was dit met die keuses wat in Pilatus se hofsaal gemaak is.
      Daardeur is BAIE mense se lewens beïnvloed!

Ons kyk vanoggend na 3 keuses wat in Pilatus se hofsaal gemaak is.
Daar is:
1.  die skare se keuse wat deur die owerpriesters beïnvloed is;
2.  Pilatus se keuse wat deur die skare beïnvloed is  en
3.  Jesus se keuse in gehoorsaamheid aan Sy Vader se opdrag.

Van ‘n REGVERDIGE verhoor vir ons Here Jesus Christus, was daar GEEN sprake nie!
 Die owerpriesters het VROEG die Vrydagoggend reeds besluit om Hom DOOD te maak.
 Hulle kon egter nie SELF die vonnis voltrek nie.
 Dit moes deur die Romeinse owerheid BEKRAGTIG word.
 Daarom het hulle Jesus dadelik na Pilatus toe geneem.

Hulle AANKLAG teen Jesus het ‘n POLITIEKE kleur!
  Hulle sê dat Jesus Homself die Koning van die Jode noem.
  Daarmee gee hulle voor dat Hy ‘n GEVAAR vir die staat is!
  Dat Hy besig is om OPSTAND teen die Romeinse staat te stook!
  Hulle stel Hom aan Pilatus voor as ‘n GEVAARLIKE rewolusionêre Leier ~ 
  ‘n TERRORISTE-leier!

Dit was ‘n aanklag wat Pilatus nie sommer kon IGNOREER nie!
  Hy sal die saak MOET hanteer!
  In sy ondersoek kom hy onder die indruk van die Man se ONSKULD!
  Mattheus en Lukas en Johannes sê dat Pilatus méér as één keer UITDRUKLIK gesê het:
  Ek vind geen skuld in hierdie Man nie! (Lukas 23:4; Johannes 18:38; 19:4, 6)
  In Markus 15 is dit duidelik dat Pilatus ALLES probeer het om Jesus LOS te laat.

Sy LAASTE uitweg is hierdie KEUSE waarvoor hy die Jode stel.
 Hy was gewoond om op die Paasfees vir die Jode ‘n gevangene van HULLE keuse vry te laat.
 En nou stel Pilatus sy DUBBELTAL:
 Hulle moet KIES tussen Jesus Christus
 en Barábbas!

Hierdie Barábbas was ‘n OPROERMAKER!
 Hy was ‘n OPSTANDIGE rebel wat probeer het om die Jode van die Romeine te BEVRY.
 Hy was een van die BENDELEIERS van destyds,
 wat met dade van sabotasie en terrorisme probeer het om die Romeinse regering uit Palestina te verdryf.
 Hulle wou VRYHEID vir die Jode bewerk deur WAPENGEWELD.

Barábbas se naam is ook van besondere belang.
 Die naam is saamgestel uit die Aramese woorde:
 bar – wat seun beteken en
 abba – wat vader beteken.
 So beteken die naam Barábbas dan:
 Seun van sy vader!
 Volgens ‘n redelike goeie oorspronklike Griekse teks, was sy noemnaam ook Jesus!
 So staan dit in Mattheus 27:17 in die ’83 vertaling.

Sien u die geweldige KEUSE wat die Jode moes maak, geliefdes?
 Kies tussen Jesus Barábbas en
 Jesus Christus!
 Kies tussen Jesus,
 die seun van sy vader en
 Jesus, die Seun van die ewige Vader,
 die Seun van God!

En die saak word nog méér aangrypend as ons kyk na die INHOUD van die keuse:
 Die naam Jesus beteken mos:
 verlosser, redder, saligmaker!
 Die Jode moet kies tussen 2 soorte VERLOSSINGS:
 Aan die een kant:
 Die verlossing van Barábbas ~
 dit is TYDELIKE en AARDSE verlossing;
 ‘n politieke verlossing;
 ‘n verlossing wat AARDSE voorspoed en geluk moet bring;
 ‘n verlossing deur wapengeweld;
 en opstand
 en moord op ander mense!

Aan die ander kant:
 Die verlossing van Christus ~
 dit is ‘n HEMELSE en EWIGE verlossing;
 ‘n verlossing uit die mag van die SONDE en die duiwel;
 ‘n verlossing wat EWIGE vreugde en ware saligheid by God bring;
 ‘n verlossing deur die liefde van God;
 ‘n verlossing deur Jesus se EIE bloed aan die kruis!

GEWELDIG hierdie keuse!
 Wat sal die skare kies?
 Ons weet watter keuse die skare gemaak het, geliefdes!
 Onder AANHITSING van die owerpriesters kies hulle vir Jesus Barábbas!
 Die woord wat ons met aanhits vertaal het,
 word op ander plekke as aardbewing vertaal!
 Dit is die Griekse woord:
 anaseismos ~ waarvan ons woord seismograaf afgelei is.
 ‘n Seismograaf is die instrument waarmee die krag van aardbewings gemeet word!
 Kyk na die AARDSKUDDENDE keuse:
 NIE Jesus Christus nie,
 maar Jesus Barábbas!
 NIE God se EWIGE verlossing nie,
 maar ONS EIE aardse verlossing!

En nou moet ons vir onsself vra, geliefdes:
 Wat kies ONS?
 Want ons staan ELKE dag voor hierdie AARDSKUDDENDE keuse:
 Jesus Christus of Jesus Barábbas?
 Nou sal ons dit tog NOOIT waag om te sê:
 Ek kies vir Jesus Barábbas nie!!
 Maar wat sê ons LEWE en LEWENSWYSE?
 Gehoorsaamheid aan Christus of
 gehoorsaamheid aan Barábbas?
 Die koninkryk van God of
 my EIE belange?
 Opbou van my geloof op Sondag in die eredienste of
 wat ookal my uit die eredienste weghou?
 Nee sê vir dinge wat teen God se Woord ingaan of
 ja sê ter wille van vriendskap?
 Christus BEVEEL my om só en só op te tree of
 ALMAL maak maar so?

Só, geliefdes, kan jy die lysie langer en langer maak!
 Elke dag is die keuse:
 Jesus Christus of Jesus Barábbas?
 Wat kies jy?
 Wat antwoord jy met jou LEWE en LEWENSWYSE?

Maar daar was nog iemand wat ‘n KEUSE moes maak ~
 Pilatus!
 Ja, hy moes ook kies!
 Want NIEMAND kan by Jesus verbykom
 SONDER om die keuse te maak nie.
 NIEMAND kan NEUTRAAL teenoor Jesus staan nie.
 ELKEEN wat met Hom gekonfronteer word,
 MOET ‘n keuse maak.

Pilatus het aanvanklik hard probeer om Jesus VRYGELAAT te kry!
      Hy het GEWEET dat die owerpriesters Hom uit nydigheid oorgelewer het ~ vers 10.
      Hy redeneer met die Jode:
      Watter kwaad het Hy dan gedoen? (vers 14)
      Maar die skare het nog méér OPROERIG geraak!
      Hulle skreeu toe nog harder:
      Kruisig Hom!
      Pilatus het GEWEET dat Jesus ONSKULDIG was.
      Mattheus en Lukas en Johannes sê dat Pilatus méér as één keer UITDRUKLIK gesê het:
      Ek vind geen skuld in hierdie Man nie! (Lukas 23:4; Johannes 18:38; 19:4, 6)

En dan sê vers 15 wat Pilatus se keuse was:
 hy het Barábbas vir hulle losgelaat;
 en nadat hy Jesus laat gésel het,
 het hy Hom oorgelewer om gekruisig te word.
 Ook Pilatus kies VIR Jesus Barábbas en
 TEEN Jesus Christus!
 Pilatus kies TEEN die ewige verlossing van God!
 Pilatus gooi God se genade WEG!

Waarom?
  Omdat Pilatus aan die skare hulle sin wou gee!
  Hy kies TEEN Jesus Christus uit VREES vir die Jode!
  TEEN Jesus Christus t.w.v. EIE gewildheid!
  TEEN Jesus Christus t.w.v. EIE voordeel!

Want Pilatus was BANG dat die Jode ‘n OPSTAND sal stook en hom by die keiser van Rome sal aankla!
  Dit kan daartoe lei dat Pilatus van sy posisie ONTHEF word;
  dat sy HELE loopbaan daarmee heen is;
  dat hy ALLES verloor waarvoor hy sy lewe lank gewerk het;
  dat hy al sy EER en AANSIEN en VOORDELE as die GOEWERNEUR kan verloor!

En ons, geliefdes?
 Hoe dikwels speel ons EIE eer en aansien en voordeel en belange die OORHEERSENDE en BESLISSENDE rol in ons keuses?
 Ons laat ons keuses nie BEHEERS en OORHEERS deur:
 Wat verwag Christus van my? nie,
 maar:
 Wat hou vir MY die meeste voordeel in?
 Wat sal die MENSE van my dink en sê?
 Ons vra nie:
 Hoe wil die Here MY in sy diens GEBRUIK,
  ten spyte van my besige program? nie,
 maar:
 EK het nie TYD nie!
 My WERK laat my nie toe nie!

Wat OORHEERS en BEHEERS jou keuses, geliefdes?

Daar was nog ‘n DERDE Persoon in Pilatus se hofsaal wat moes kies ~
 ons Here Jesus Christus!
 Deur die HELE sogenaamde VERHOOR het Hy die MINIMUM gesê.
 Hy het nie eens PROBEER om Homself te VERDEDIG teen die vals beskuldigings nie.
 Hy het GEWEET dat Hy heeltemal ONSKULDIG is.

En toe volg die bevinding en uitspraak van die regter, Pilatus!
 Mattheus vertel dat Pilatus water geneem en
 sy hande voor die skare gewas en
 gesê (het):
 Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man;
 julle kan toesien! (Mattheus 27:24)
 En dan die VONNIS:
 Nadat hy Jesus laat gésel het,
 het hy Hom oorgelewer om gekruisig te word. (Markus 15:15)

Jesus doen NIKS!
 Hy SÊ niks!
 Hy praat eers weer toe Hy aan die kruis hang!
 En toe het Hy ook net 7 keer gepraat ~
 die 7 kruiswoorde.
 Ja, Hy KON keer dat hulle Hom KRUISIG,
 want Hy is waarlik GOD!
 Maar hy doen NIKS
 en sê NIKS!
 Hy het Homself GEWILLIG oorgegee.
 Hy is BEREID om te STERF ~
 in die PLEK van sy VYANDE,
 in die plek van SONDAARS!

Só het Jesus GEKIES!
 Ja, Hy is ook voor die keuse gestel:
 Die Jesus Barábbas-pad ~
 die MAKLIKE pad van AARDSE verlossing en heerskappy en eer!
 Of die pad van Jesus Christus ~
 die pad van LYDING aan die KRUIS!

Onthou u dat Hy aan die BEGIN van sy bediening deur die Gees die woestyn ingelei is om deur die duiwel versoek te word? (Mattheus 4)
 Onthou u wat die versoeking was wat die duiwel voor Hom gelê het?
 Die duiwel het Hom na ‘n baie hoë berg geneem
 en Hom al die koninkryke van die wêreld
 en hulle heerlikheid gewys, 
 en vir Hom gesê: Al hierdie dinge sal ek aan U gee
 as U neerval en my aanbid. (Mattheus 4:9)
 En toe het Jesus al gekies:
 Gaan weg, Satan!
 Want daar is geskrywe:
 Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Dit is HIERDIE keuse wat in Pilatus se hofsaal FINAAL bevestig word!
 Jesus kies die PAD van die KRUIS ~
 die pad van HELSE lyding, pyn en godverlatenheid!
 Hy kies die pad uit LIEFDEVOLLE gehoorsaamheid aan Sy Vader!
 Hy kies die pad uit LIEFDE vir ONS,
 sodat ELKEEN wat in Hom GLO,
 GERED kan word!

Ja, geliefdes, sodat ONS deur die GELOOF gered kan word!
 Sodat ONS deur die GENADE van die Heilige Gees KAN kies!
 Sodat ons die PAD van GELOOF kan kies!
 Sodat ons TEEN Jesus Barábbas en
 VIR Jesus Christus kan kies!

In HIERDIE keuse VERSTERK die Here ons met die Nagmaal.
 Gaan berei jou dan DEEEGLIK voor.
 Kyk HOE die keuse
 wat jy uit GENADE deur die werk van die Heilige Gees VIR Jesus Christus gemaak het,
 in jou lewe SIGBAAR word
 deur jou DAAGLIKSE keuses!

Amen.

Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment