'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Thursday, 26 May 2011

Markus 15:37 – 38: Die oopgemaakte pad na God toe!

Lees:  Markus 15:21 – 41

Hoofgedagtes:
1.  Wanneer is die pad oopgemaak?
2.  Hoe is die pad oopgemaak?

Geliefdes,

Met al die reën en padwerke op baie plekke in ons land, het ‘n mens die afgelope tyd dikwels by paaie uitgekom wat TOEGEMAAK is!
      Namate die padwerke VOLTOOI is,
      kon jy ook met blydskap by paaie uitkom wat OOPGEMAAK is ~
      NUWE paaie!
      Ag, dit is mos LEKKER om op ‘n NUWE pad te ry!
      En tog word die NUWE paaie weer OUD.
      Met verloop van tyd vorm slaggate en
      dan soek jy weer ‘n BETER pad.

Maar daar is ‘n pad wat altyd NUUT bly!
 Dit is die pad na God toe.
 Dit is die pad wat Jesus OOPGEMAAK het.
 Jy kan NET op HIERDIE pad loop, deur in Jesus Christus te GLO.
 ELKEEN wat waarlik in Jesus glo, kan weet:
 HIERDIE pad sal NOOIT weer voor jou TOEGEMAAK word nie!
 Daarvan VERSEKER die Here ons met die Nagmaal!

Kom ons kyk dan na die OOPGEMAAKTE pad na God toe.
Ons vra:
1.  Wanneer is die pad oopgemaak?
2.  Hoe is die pad oopgemaak?

Die pad na God toe, geliefdes, is oopgemaak, die OOMBLIK toe Jesus GESTERF het!
  Want kyk, Hy het ANDERS as ander mense aan die kruis gesterf.
  Sy dood is ‘n DOELBEWUSTE en
  vooraf BEPLANDE daad.
  Hy het BESLUIT om te STERF!
  Ons teks sê:
  Maar Jesus het met ‘n groot stem geroep
  en die laaste asem uitgeblaas.
  Volgens Lukas 23:46 het Jesus uitgeroep:
  Vader, in U hande gee Ek my gees oor!

So is Jesus se HARDE uitroep aan die kruis,
  NIE ‘n WANHOOPSKREET nie.
  Dit is ook nie ‘n ANGSKREET nie!
  Sy uitroep aan die kruis,
  is die AANKONDIGING van Iemand wat ten volle in BEHEER is!
  Jesus Christus het BESLUIT om op DAARDIE oomblik te STERF ~
  en nou het Hy dit GEDOEN!
  Hy het BESLUIT om sy lewe op DAARDIE oomblik AF te lê
  en hy DOEN dit!
  En verder:
  Hy het Sy lewe AFGELÊ,
  dit as’t ware BY Sy Vader NEERGESIT
  om dit later weer OP te neem!

Jesus se dood is ‘n DOELBEWUSTE en VRYWILLIGE daad!
 Hy, ons Goeie Herder, het Sy lewe GEWILLIG vir ons AFGELÊ ~
 so het Hy self in Johannes 10:11 gesê het!
 En die groot stem of HARDE stem waarmee Hy uitgeroep het,
 dit is die BEWYS daarvan.
 Gewoonlik kom die einde vir iemand wat gekruisig is,
 as ‘n LAASTE byna ONHOORBARE snik.
 Die lewe vloei ONGEMERK weg
 as gevolg van die geweldige PYN en volslae UITPUTTING.
 Aan die einde is daar skaars genoeg KRAG oor om die laaste asem uit te BLAAS ~
 dit GLY sommer vanself weg!

Maar Jesus het met ‘n groot stem geroep!
 Sy lewe het nie uit Hom UITGEGLY nie.
 Sy lewe is ook nie van Hom af WEGGENEEM nie.
 Hy het dit SELF neergelê.
 DAARDEUR het Hy die PAD na God toe vir ons OOPGEMAAK!
 Want die OOMBLIK toe Hy die laaste asem uitgeblaas het,
 gebeur daar ‘n GEWELDIGE ding in die TEMPEL.
 Vers 38 sê:
 En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur ~
 van bo tot onder.

Die voorhangsel ~
 dit is mos die DIK gordyn,
 gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe,
 soos die Here in Exodus 36:35 beveel het.
 Hierdie gordyn het mos die HEILIGE en ALLERHEILIGSTE dele in die tempel van mekaar GESKEI.
 Ons kan sê:
 die ALLERHEILIGSTE is die TROONSAAL van God!
 Daar het die VERBONDSARK gestaan.
 En die verbondsark was mos die TROON van God,
 want Hy is die Koning wat oor Sy volk regeer.

NIEMAND mag in hierdie allerheiligste,
 in hierdie TROONSAAL van God ingaan nie!
 Hier het as’t ware in GROOT letters gestaan:
 TOEGANG VERBODE!
 Waarom?
 Want God is HEILIG en ons is SONDIG.
 As jy in Sy teenwoordigheid kom,
 MOET jy dadelik DOODGEMAAK word a.g.v. jou SONDE!

In sy groot GENADE het God in die Ou Testament bepaal
 dat die NET die hoëpriester,
 EEN maal per jaar op die Groot Versoendag,
 by die allerheiligste mag ingaan (Levitikus 16).
 En dan mag hy ook NET daar ingaan,
 as hy VOORAF vir sy EIE
 en vir die volk se sonde GEOFFER het!

Maar nou:
 Die OOMBLIK toe Jesus aan die kruis STERF,
 toe SKEUR die voorhangsel skielik MIDDELDEUR,
 op die plek waar dit HANG!
 Dit skeur van BO tot ONDER in TWEE stukke.
 God het SELF die toegang tot Sy troon OOP gemaak!
 Nou staan daar staan NIE meer in groot letters:
 TOEGANG VERBODE nie!
 Nou staan daar:
 VRYE TOEGANG deur Jesus Christus! (Hebreërs. 1:19 – 20)

U sien, geliefdes,
 Jesus MOES hierdie VERSKRIKLIKE dood aan die kruis sterf ~
 GEWILLIG en VRYWILLIG sterf ~
 sodat elkeen wat in Hom GLO,
 nou VRYE toegang tot God se genadetroon kan hê!
 ELKEEN wat in Jesus Christus GLO
 as jou ENIGSTE Verlosser en Saligmaker,
 kan nou SELF na God toe gaan!
 Jy kan nou met vrymoedigheid IN Sy troonsaal INGAAN
 en daar,
 VOOR Sy troon,
 kan jy SELF om VERGIFNIS vir jou sonde pleit,
 omdat en SLEGS omdat
 Jesus Christus,
 jou Hoëpriester,
 die VOLLE prys in jou plek BETAAL het! 

Dit is die VERSEKERING van die GESKEURDE voorhangsel!
 Só het God SELF die nuwe en lewende pad OOPGEMAAK ~ soos Hebreërs 10:19 – 20 sê.
 Hy het die pad oopgemaak om dit NOOIT weer te sluit nie!
 Vir ELKEEN wat in Jesus Christus GLO,
 sal daar NOOIT weer ‘n VOORHANGSEL,
 ‘n dik GORDYN wees wat jou toegang tot God se troon VERSPER nie!

Daarvan, geliefdes, VERSEKER die Here ons vandag weer met die Nagmaal.
 Die GEBREEKTE brood en
 die wyn wat UITGESTORT is ~
 die SIGBARE tekens waardeur die Here SELF bevestig:
 Kyk!  Die VOORHANGSEL is beslis MIDDELDEUR geskeur!
 Jy HET deur die geloof VRYE toegang tot God se troon!
 Kom dan,
 buig ELKE dag voor Sy troon!
 STORT jou hart voor Hom uit.
 Praat met Hom oor jou VREUGDE en PYN.
 Praat met Hom oor jou SONDE en ELLENDE.
 BELY dit voor Sy troon.
 En GRYP met die hande van GELOOF aan Jesus Christus vas!
 Want Hy het die pad na God se genadetroon vir jou OOPGEMAAK!

Amen.

Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment