Hoofgedagtes:
1. Die vroue se liefde.
2. Jesus se liefde.Geliefdes,
Wanneer ons aan Paasfees en Nagmaal dink, is ons geneig om NET by Jesus se KRUISIGING vas te steek!
Ons dink aan Sy ontsaglike LYDING ~
sowel LIGGAAMLIK as GEESTELIK.
Ons dink aan Sy BEGRAFNIS en die hartseer daarvan.
Maar ons VERGEET van sy OPSTANDING!
En dit moet ons tog goed besef:
SONDER die OPSTANDING het ook Jesus se DOOD aan die kruis,
vir ons GEEN betekenis nie!
SONDER die OPSTANDING het ons ‘n DOOIE verlosser
en ‘n DOOIE verlosser kan vir jou NIKS doen nie!
SONDER die OPSTANDING het ons ook nie die TROOS en VERSTERKING van die Nagmaal nie!
Jesus het opgestaan ~
dít is die HOOGTEPUNT!
Jesus het opgestaan ~
dít is die SAAMTREKPUNT van die kruisevangelie!
Jesus het opgestaan ~
dít gee die VERSEKERING van ons VERLOSSING uit die mag van die sonde en die dood!
Jesus het opgestaan ~
dít is die OORWINNINGSBOODSKAP van die liefde!
Kom ons kyk na die OPSTANDINGSLIEFDE by Jesus se leë graf.
Ons kyk:
1. na die VROUE se liefde en
2. na Jesus se liefde.
Ons Here Jesus is die Vrydag GEKRUISIG en VOOR 6 uur die aand BEGRAWE.
Dit was ‘n HAASTIGE en KLEIN begrafnis in die tuin van Josef van Arimathéa.
Nie EEN van Sy disspipels was daar nie!
Net Josef van Arimathéa en Nikodemus en
Maria Magdalena en die ander Maria het die begrafnis bygewoon.
Omdat die Sabbat Vrydagaand 6 uur begin het,
het hulle nie tyd gehad om al die speserye te koop wat gewoonlik by ‘n begrafnis gebruik is nie.
Maar toe die sabbat verby was,
het Maria Magdaléna en
Maria, die moeder van Jakobus,
en Salóme
speserye gekoop om Hom te gaan salf.
Dit was Saterdagaand na 6 uur,
want die Sabbat het van 6 uur Vrydagaand
tot 6 uur Satedagaand geduur.
Toe was dit reeds te laat om die speserye graf toe te neem.
Daarom het hulle dit VROEG die volgende môre gedoen,
dit wil sê die Sondag môre.
Uit hierdie optrede van die vroue, geliefdes, blyk hulle LIEFDE vir Jesus!
Hulle offer BAIE vir Hom op ~
selfs in Sy DOOD.
Toe Hy GELEEF het,
het hulle Hom GETROU gevolg waar Hy ook al gaan.
Die vroue was GEDURIG in die agtergrond teenwoordig.
Hulle was dáár toe Jesus aan die kruis op Golgota GESTERF het.
Hulle was dáár toe Hy in Josef se tuingraf BEGRAWE is.
En nou ~
VROEG die Sondag môre is hulle TERUG by die graf om die LAASTE eer aan Hom te bewys.
Dit is hulle LAASTE daad van LIEFDE aan Jesus die Nasaréner wat gekruisig is ~
soos vers 6 sê.
Hier sien ons die vroue se VREESLOSE liefde vir Jesus!
Dit was GEVAARLIK om met Hom geassosiëer te word!
Op daardie stadium het die gemoedere in Jerusalem HOOG geloop.
Die owerpriesters het die mense opgesweep TEEN Jesus.
Hulle het 2 dae gelede nog in Pilatus se hofsaal geskreeu:
Kruisig Hom!
Daarby het hulle nie net die KRUISDOOD self VERAG nie,
maar ook die een wat gekruisig is.
Só DIEP was hulle VERAGTING vir iemand wat aan ‘n kruis gesterf het,
dat hulle sy LIGGAAM in die dal van Hinnom weggegooi het.
Die dal van Hinnom was die ASHOOP buite Jerusalem!
Daarom was dit GEVAARLIK om enigiets met só ‘n mens te doen te hê.
Maar die vroue is nie daarvoor BANG nie!
Hulle is BEREID om die risiko te loop.
Hulle is bereid om hierdie OPOFFERING vir Jesus te maak.
Want hulle het OPREG in Hom GEGLO!
Hulle het Hom waarlik LIEFGEHAD!
En ons, geliefdes?
Hoe lyk ONS liefde vir Jesus?
Hoe word ONS liefde vir Hom in ons lewens SIGBAAR?
Is ONS bereid om OPOFFERINGS te maak in Sy diens?
Hoe gaan ons liefde vir Hom nou,
NA die Nagmaal, SIGBAAR word?
Want ons het weer die VERSEKERING ontvang
dat Hy volledig BEREID en GEWILLIG was om HOMSELF vir ons in die dood OOR te gee!
Hy het ONS skuld op Hom geneem
en ten VOLLE daarvoor betaal,
SONDER om vir die SKANDE van die kruis TERUG te deins!
Hoe gaan jou LIEFDE vir Hom SIGBAAR word?
Kom ons kyk nou ook hoe Jesus se liefde op daardie opstandingsmôre by die graf sigbaar geword het.
Op pad graf toe het die vroue gewonder hoe hulle die groot klip voor die graf gaan wegrol.
Maar die Here het SELF iemand gestuur om die graf vir hulle OOP te maak!
Vers 4 sê:
En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was.
Mattheus 28:2 – 3 sê dat ‘n ENGEL van die Here die graf OOPGEMAAK het.
Nou moet ons dit tog goed verstaan, geliefdes.
Die engel het NIE die graf oopgemaak,
sodat JESUS kan UITKOM nie.
Hy was toe REEDS nie meer in die graf nie.
Hy het KLAAR opgestaan en uitgegaan,
TERWYL die graf nog TOE was!
Want Hy is God.
Dink maar aan Sy verskyning aan die dissipels waarvan ons in Johannes 20 lees.
Terwyl die deur GESLUIT was,
het Jesus skeilik TUSSEN sy dissipels gestaan.
Daarom het die engel NIE die graf kom oopmaak
SODAT Jesus kan uitgaan nie,
maar sodat die VROUE en die dissipels,
kan SIEN dat die graf LEEG is ~
dat Hy NIE meer dáár is nie!
Die leë graf en die engel wat aan die regterkant sit, was vir die vroue ‘n geweldige skok!
Hulle verwag om Jesus se LIGGAAM in die graf te sien!
Hulle soek ‘n DOOIE Jesus,
‘n LIGGAAM wat aan die kruis GESTERF het!
Maar Hy is nie DAAR nie!
Hy het OPGESTAAN!
Hy LEWE!
Nou sou ‘n mens kon verwag dat die engel die vroue sou TEREGWYS,
omdat hulle nie GEGLO het toe Jesus REGUIT gesê
dat Hy in Jerusalem gevang en
uitgelewer en doodgemaak sal word en
dat Hy drie dae later uit die dood sal opstaan nie. (Markus 10:33 – 34)
In plaas van ‘n TEREGWYSING oor hulle ONGELOOF,
gee die engel aan die vroue ‘n GERUSSTELLING!
Ook hierdie SONDE van ONGELOOF,
is deur Jesus volledig BETAAL!
Sò, geliefdes, het die Here MOEITE gedoen om ons te VERSEKER dat Jesus WERKLIK opgestaan het!
Sy opstanding is ‘n ONWEERLEGBARE feit!
Ons kan nie anders nie:
Ons MOET dit GLO!
Want kyk:
Die plek waar Hy in die graf gelê het, is LEEG!
Die VROUE het dit GESIEN!
En ‘n boodskapper uit die HEMEL het dit GETUIG!
Want ELKEEN wat dit GLO, kry daaruit ook die SPESIALE boodskap:
Jesus Christus het KLAAR vir AL jou sonde BETAAL!
Hy VERWYT jou nie, maar ROEP jou:
Kom na My toe!
GLO in My en jy SAL lewe, soos Ek lewe!
Die engel dra Jesus se boodskap van LIEFDE oor.
Dit is ‘n boodskap van liefde aan die DISSIPELS:
Gaan sê vir Sy dissipels ~
Hulle is steeds JESUS se DISSIPELS ~
al het hulle ALMAL weggehardloop
en Hom in Sy uur van VERNEDERING, NOOD, LYDING en DOOD heeltemal ALLEEN gelaat.
HY het HULLE nie alleen gelaat nie.
Hy is steeds DIESELFDE liefdevolle en begripvolle Meester wat al vir 3 jaar BY hulle is.
En dan volg Jesus se SPESIALE liefdesboodskap aan Petrus!
Gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus!
Sy naam word SPESIAAL genoem!
Waarom?
Petrus was dan die dissipel wat Jesus VERLOËN het!
Petrus het homself dan van Jesus GEDISTANSIEER!
Petrus het homself van Jesus LOSGEMAAK toe hy GESWEER het:
Ek ken nie daardie man van wie julle praat nie! (Markus 14:71)
En toe het die haan DRIE maal GEKRAAI.
Jesus het OMGEDRAAI en Petrus AANGEKYK (Lukas 22:61)
En Petrus het in TRANE uitgebars (Lukas 22:62)!
Dit was trane van HARTSEER ~
trane van BEROU!
Hy het ONTHOU dat Jesus hom GEWAARSKU het!
Hy het besef dat hy alle bande met Jesus VERBREEK het!
Die hele naweek,
vir DRIE dae loop hy al met die selfverwyt wat in sy hart BRAND!
En nou, die SPESIALE boodskap:
Gaan sê vir Sy dissipels,
en vir Petrus!
Dit is ‘n liefdesboodskap van Jesus Christus wat uit die dood OPGESTAAN het!
Dit is die TROOS van die LEWENDE Christus!
Hy WEET dat Petrus bitter BEROU het!
Hy KEN die BRANDENDE selfverwyt!
Daarom ‘n LIEFDESBOODSKAP!
NIE ‘n bestraffing nie;
Ook nie ‘n VERWYT nie;
Ook nie VERWERPING nie!
Jesus HERSTEL ‘n gebreekte verhouding!
Dit is ‘n VASBINDING aan Jesus wat OPGESTAAN het!
Dit is VOLLEDIGE vergifnis!
Hier, geliefdes, sien ons die LIEFDE van Jesus Christus wat uit die dood OPGESTAAN het!
Sonder die OPSTANDING, het Sy lyding en kruisiging vir ons GEEN troos nie!
Maar die OPSTANDING sê:
Jesus Christus het in JOU plek gestaan!
Hy het vir AL jou skuld VOLLEDIG betaal!
Hy WIL met JOU gessosiëer wees ~
vir EWIG!
Want JY is SYNE!
Van hierdie LIEFDESBOODSKAP verseker die Here ons met die OPSTANDING.
Hy BEVESTIG hierdie liefdesboodskap met die Nagmaal.
Daarom MAG ons nie net by die KRUIS bly staan nie!
Stap verder na die OOP graf!
Gryp met die hande van GELOOF aan die OPGESTANE Jesus vas!
Want Hy het KLAAR vir al jou sonde BETAAL!
Maar STRY dan ook HARD deur die krag wat die Heilige Gees uit genade aan jou gee!
Stry HARD om jou liefde aan Hom te bewys.
Stry hard om aan Hom alleen GEHOORSAAM te wees
uit DANKBAARHEID vir Sy genade!
Amen.
Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment