'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Monday, 16 May 2011

Spreuke 30:27: Die wysheid van die sprinkane: Eendrag maak mag.

Lees: Spreuke 30

Hoofgedagtes:
1. Orde.
2. Koersvas.
3. Eenheid.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Wat verwag die Here van ons gedurende die jaar wat voorlê?
      Die Spreukedigter, Agur, het na God se stem in die NATUUR geluister.
      Want die Here praat met ons deur sy Woord,
      maar ook deur die NATUUR.

Agur het AANDAGTIG geluister!
 Die BEDRYWIGE miere wat voor sy voete rondskarrel, het vir hom gesê:
 Gebruik die GENADEGAWES en
 die GENADETYD wat God aan jou gee
 om jou geestelike voorraadskure tot BARSTENS toe VOL te maak
 met die KRAGTIGE kos van Sy Woord!
 Die SKUGTER en SKAAM dassies wat vinnig tussen KRANSE gaan skuil, het vir hom gesê:
 Jy HET ‘n veilige Rotswoning.
 Bly altyd NABY Hom en
 LUISTER na die BRANDWAGTE
 sodat jy BETYDS in jou Rotswoning kan skuil!

Nou kyk Agur na ‘n sprinkaanswerm!
  Hulle VERWOESTINGSWERK is SKRIKWEKKEND!
  Maar hy kyk nie net NEGATIEF na die sprinkane nie!
  Hy SPITS as’t ware sy ore ~
  want deur die SPRINKANE gee die Here ook ‘n POSITIEWE boodskap!

Ons moet onthou dat dat vers 24 ook op die SPRINKANE van toepassing is.
  Hulle het ook BUITENGEWONE wysheid!
  Deur HULLE wil die Here ook aan ons BUITEGEWONE wysheid leer.
  Daarom het die sprinkane vir ons ‘n lewensnoodsaaklike boodskap!

Hulle boodskap kom na ons toe in 3 vrae:
1.    Is daar ORDE in jou lewe?
2.    Het jou lewe ‘n VASTE rigting?
3.    Is die EENHEIDSBAND met jou medegelowiges STEWIG vasgebind?

Van die sprinkane sê Agur:
 Die sprinkane het geen koning nie,
 en tog trek die hele swerm in goeie orde uit.

Dit is een van die EIENAARDIGHEDE van ‘n sprinkaanswerm ~
 hulle het nie ‘n KONING nie!
 In die hele swerm, is daar NIE een wat die LEIDING neem nie.
 Daar is NIE een wat BESLUITE neem
 en BEVELE gee nie!
 En tog is ‘n swerm met MILJOENE sprinkane,
 nie ‘n DEURMEKAAR gebondel nie!
 Hulle trek in goeie orde uit

En so vra die sprinkane vir ons:
 Mensekind, jy met al jou VERMOËNS,
 jy met al die VERSTAND wat die Here jou gegee het,
 jy met al die mooi GAWES en TALENTE wat jy ontvang het,               
 is daar ORDE in jou lewe?
 Is daar ORDE in jou HUIS,
 in jou HUWELIK,
 in jou GESINSLEWE?
 Of laat jy toe dat die CHAOS van SONDE die orde VERSTEUR?
 Is daar ORDE in jou GELOOFSLEWE?
 ‘n Ordelike OPBOU van jou GELOOF deur die Woord van God?
 ‘n Ordelike lewe in GEHOORSAAMHEID aan Hom?
 ‘n Ordelike lewe in volle VERTROUE op Hom alleen?

En verder:
 Word die ORDE wat God deur sy Woord gee, in jou lewe SIGBAAR in jou optrede
 by jou WERK,
 in die SKOOL,
 in jou VRIENDEKRING?
 Kan hierdie orde GEHOOR word in jou GESPREKKE
 en in jou verhouding met ander mense?
 Of is jy ‘n ORDELOSE gelowige wat godsdiens RESERVEER en
 BEPERK tot ‘n paar MINUTE per week
 of tot hoogstens EEN uur per Sondag?

Die Here ROEP elke gelowige om die CHAOS van SONDE te BEVEG deur ‘n ORDELIKE lewe in gehoorsaamheid aan Sy Woord.
 En die sprinkane vra vir ons:
 is daar ORDE in jou STRYD teen die sonde?
 In jou PERSOONLIKE stryd teen dit wat VERKEERD loop in jou VERHOUDING met God?
 Maar ook in jou stryd teen die sonde in die wêreld waarin jy woon?
 Is daar VORDERING in jou stryd ~
 of is jy TEVREDE met die WANORDE wat sonde teweeg bring?

Dit is die BUITENGEWONE wysheid van die sprinkane ~
 daar is ORDE want die HELE swerm trek in FORMASIE!
 Hierdie FORMASIE waarin die sprinkane trek,
 kan net daar wees omdat elkeen KOERSVAS in DIESELFDE rigting beweeg!
 Dit maak van ‘n sprinkaanswerm, ‘n VREESAANJAENDE gesig!
 Dit is soos ‘n leër wat VASBERADE vorentoe beweeg
 om die DOELWIT te bereik
 en die vyand te VERNIETIG!

So het die profeet Joël in hoofstuk 2:7 – 8 ‘n naderende sprinkaanswerm beskryf:
 Hulle storm vorentoe ~
 soos dapper SOLDATE; 
 hulle klim oor die stadsmure. 
 Elkeen gaan REG vorentoe ~
 hulle verander nie van rigting nie! 
 Die een stamp nie teen die ander nie; 
 Elkeen BLY op sy PAD! 
 Hoe hulle ook SNEUWEL voor die verdediging,
 hulle raak NIE van KOERS af nie! (’83 vertaling)
 In ‘n sprinkaanswerm WEET elkeen wat van hom verwag word ~
 en hy kom sy verantwoordelikheid na!
 Dit word nie op ‘n ander AFGESKUIF nie.
 Daar word nie gesê:
 “Iemand ANDERS kan dit doen” nie!

Daarom roep die sprinkane ons op om nie RIGTINGLOOS deur die lewe te PLOETER nie!
 Daar moet ‘n VASTE rigting in jou lewe wees ~
 die RIGTING wat God in sy Woord bepaal het!
 En daardie rigting is
 REGUIT na Hom toe!

Want Hy het SELF die PAD vir ons OOPGEMAAK in Jesus Christus!
 Toe Hy aan die KRUIS gesterf het, het die voorhangsel in die Tempel MIDDELDEUR geskeur.
 Die MIDDELMUUR
 wat SKEIDING tussen ons en God gemaak het,
 is WEGGENEEM.
 Christus is die WEG en die WAARHEID en die LEWE.
 Ons HOOR Hom sê:
 niemand kom na die Vader
 behalwe deur My nie! (Johannes 14:6)

Daarom vra die sprinkane vir ons:
 WAARHEEN is jy met jou lewe op pad?
 Wat is jou LEWENSRIGTING?
 Dryf jy SAAM met die STROOM al VERDER van God af WEG?
 Of beur jy TEEN die sondestroom in,
 saam met jou medegelowiges
 en deur die KRAG van die Heilige Gees
 al NADER aan God?
 Laat jy toe dat die sonde jou lewensrigting VERANDER?

Want, geliefdes, as ons bely dat ons deur GELOOF aan Christus BEHOORT,
      dan MAG ons nie toelaat dat SONDE ons SAAMSLEEP nie!
      Die RIGTING van ‘n kind van God se lewe,
      loop ALTYD na Hom toe!
      Jou woorde, gedagtes en dade moet altyd wys
      dat jy na Hom toe op pad is!

As ons dan vra:
 Wat verwag die Here van ons gedurende die nuwe jaar?
 dan antwoord die sprinkane:
 Kies jou RIGTING en
 volg dit KOERSVAS!
 Of in die woorde van Josua 24:15 ~
 Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien!

Maar, geliefdes, ons leer nog iets by die sprinkane:
  Wanneer die swerm uittrek,
  is daar nie DRAADSITTERS en
  DWARSTREKKERS nie!
  Hulle beweeg as ‘n EENHEID,
  ALMAL in dieselfde rigting!

Dit is die derde stukkie BUITENGEWONE wysheid wat die Here deur die sprinkane vir ons leer ~
  daar is ‘n EENHEIDSBAND waarmee ons SAAMGEBIND word!

In hierdie EENHEID lê die KRAG van die sprinkane!
 Sprinkane tel ook NIE onder die GROOT en STERK diere van die skepping nie.
 EEN sprinkaan ALLEEN boesem GEEN vrees in nie.
 Jy kan hom maklik doodmaak.
 Maar ‘n SWERM sprinkane is dit ‘n VREESAANJAENDE gesig!
 Hulle KRAG lê in hulle EENHEID.
 Hulle is SAAMGEBIND deur ‘n onsigbare EENHEIDSBAND.

Dit is ‘n SKRIKWEKKENDE gesig as ‘n sprinkaanswerm soos ‘n WOLK op die horison verskyn!
 Jy staan MAGTELOOS wanneer hulle in hulle MILJOENE op die veld toesak.
 Jy staan met AFGEKAPTE hande
 wanneer hulle binne ‘n paar uur die veld STROOP
 sodat dit KAAL en DOLLEEG agterbly!

Jy voel MAGTELOOS omdat NIKS hulle van rigting kan laat verander nie!
 Dit help ook NIKS om die veld aan die brand te steek.
 Hulle val eenvoudig in hulle DUISENDE in die vlamme
 totdat dit GEBLUS is.
 En die wat oorbly,
 sit die verwoestingswerk voort!
 Die Here het aan hulle die instink gegee om BYMEKAAR te BLY,
 om SAAM kos te soek en ~
 SAAM te STERF!

Daarom vra die sprinkane:
 Christene,
 KERK van die Here,
 GEMEENTE van Christus,
 staan julle SAAM en
 stry SAAM julle SAAM teen die VYAND!

En, geliefdes, hoe NODIG het ons nie hierdie oproep nie!
 Ons leef in ‘n wêreld waar ‘n SONDIGE verdeeldheid letterlik MILJOENE slagoffers eis!
 Mense wat bymekaar HOORT en
 mekaar MOET ondersteun,
 spat UITMEKAAR!
 HUWELIKKE verbrokkel;
 GESINNE word uitmekaar GESKEUR;
 LIDMATE en GEMEENTES wil NIKS met mekaar te doen hê nie!

Die WORTEL van die kwaad is SELFSUG
 en EIE belange,
 EGOÏSME!
 Mense wil nie by mekaar BETROKKE raak nie.
 Want dalk moet ek iets van MYSELF gee!
 Ek moet myself VERLOËN ~
 en daarvoor sien ek nie kans nie!

Ons kry hierdie gesindheid ook in die KERK van Christus ~
 ja, geliefdes, ook in hierdie GEMEENTE!
 En ELKE Sondag BELY ons:
 Ek GLO aan die GEMEENSKAP van die HEILIGES!
 Dit beteken:
 Ek GLO dat ek skatte en gawes van Christus ontvang het en
 dat ek VERPLIG is om dit GEWILLIG en met VREUGDE
 tot voordeel van my MEDEGELOWIGES te gebruik!

Daarom vra die sprinkane vir ELKEEN van ons: 
 hoe lyk JOU betrokkenheid by jou MEDELIDMATE?
 Hoeveel MOEITE doen ons vir MEKAAR?
 Hoeveel moeite doen JY vir ANDER lidmate?

Ons hoor dat mense sê: 
 Die kerk is KOUD en DOOD!
 Lidmate stel nie in mekaar belang nie!
 Elkeen lewe net vir homself!
 Die sprinkane vra vir ELKEEN van ons:
 Is dit nie dalk JY wat KOUD en DOODS is nie?
 Wat doen JY om jou eenheid met jou medegelowiges te BELEEF en uit te leef?

Want die buitengewone wysheid van die sprinkane moet in die KERK sigbaar word!
 En hulle buitengewone wysheid sê:
 EENDRAG maak MAG!
 EEN vir ALMAL en
 ALMAL vir EEN!

Daartoe  ROEP die Here ons deur die sprinkane!
 DAARVOOR gee Hy vir ons nog ‘n jaar!
 Dit is wat Hy gedurende die jaar van ons verwag:
 Om ORDELIK te lewe,
 in GEHOORSAAMHEID aan Sy Woord.
 Om KOERSVAS,
 al NADER en NADER aan Hom te beweeg.
 Om as EENHEID in Christus met mekaar saam te lewe.

Geliefdes, gaan die BUITEGENWONE wysheid van die sprinkane in JOU lewe sigbaar word?

Amen.

Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment