Hoofgedagtes:
1. Jy het ‘n Rotsvesting.
2. Bly naby jou Rotsvesting sodat jy betyds by Hom kan skuil.
3. Luister na jou brandwagte sodat jy betyds vir gevaar kan vlug.
Geliefde broeders en susters en kinders,
Wat verwag die Here van ons gedurende hierdie jaar?
Die MIERE het ons geleer:
GEBRUIK die GENADEGAWES en
die GENADETYD wat God aan jou gee
om jou voorraadskure VOL te maak met die kos van Sy Woord.
Want die genadetyd, die SOMERTYD gaan VERBY.
En dan volg die WINTERTYD van SKAARSTE en SWAARKRY!
Vanoggend kyk ons na die 2de KLEIN boodskappertjie van die Here ~ die KLIPDASSIES.
Ook van hulle geld die woorde van vers 25 ~
hulle is klein op die aarde,
maar hulle is uitermate wys.
Dit is opmerklik dat Agur nie net sê dat die vier klein diertjies WYSHEID het nie.
Hy KWALIFISEER hulle wysheid.
Hulle is uitermate wys!
Kom ons kyk na die BUITENGEWONE wysheid wat die Here deur die klipdassies vir ons gee. Ons leer 3 dinge by die dassies:
1. Ons HET ‘n ROTSVESTING.
2. Ons moet NABY ons Rotsvesting bly, sodat ons BETYDS daar kan skuil.
3. Ons het ook BRANDWAGTE na wie ons moet LUISTER, sodat ons BETYDS vir GEVAAR kan vlug.
Ook van die dassies sê Agur:
Hulle is nie ‘n magtige volk nie!
Hulle tel ook onder die WEERLOSE diertjies van die wêreld
WEERLOOS omdat hulle nie enige betekenisvolle BESKERMING teen groter roofdiere het nie.
Hulle het nie HORINGS of
STERK kloue met SKERP naels waarmee hulle hulleself kan VERDEDIG nie.
Hulle kan nie eens ‘n gat in die grond grawe om daarin weg te kruip nie!
Maar hulle KRAG lê in hulle BUITENGEWONE wysheid!
Agur sê:
en tog maak hulle hul huis in die rots!
Die dassies besef:
Dit help NIKS om agter jou SWAKHEID te SKUIL nie.
Jy moet iets daaraan DOEN!
Daarom maak hulle hulle HUISE in die ROTSE.
Hierdie STOMPLYF diertjies woon HOOG op die berge en heuwels, tussen ROTSE en KRANSE.
Hulle wei in die berggras en eet wilde vrugte en boomblare.
Hulle bak LUILEKKER in die son op die hoë rotse.
Dit mag lyk of hulle DWAAS is,
asof ‘n vyand hulle skielik kan OORVAL!
Maar op die HOOGSTE rots sit ALTYD ‘n brandwag!
Hy bespied die wêreld noukeurig.
Wanneer hy gevaar sien kom, maak hy dadelik ALARM!
In ‘n OOGWINK skarrel al die dassies tussen die rotse in.
Hulle kruip in ROTSSKEURE en nou gangetjies weg.
Daar is hulle VEILIG ~
ONBEREIKBAAR vir enige vyand!
HIERIN lê die WYSHEID van die dassies!
Hulle maak staat op hulle ROTSWONING.
Daar is hulle VEILIG!
En dit is die 1ste stukkie wysheid wat die Here ons deur die dassies leer.
Dit is asof hulle vir ons sê:
Mensekind, besef jou eie NIETIGHEID!
Besef dat jy met al jou KRAG en al jou VERSTAND,
eintlik BAIE swak is.
So het Dawid mos in Psalm 103:15 – 16 gesing:
Die mens — soos die gras is sy dae;
soos ‘n blom van die veld, so bloei hy.
As die wind daaroor gaan,
is dit nie meer nie
en sy plek ken hom nie meer nie.
Maar, geliefdes, om net jou eie SWAKHEID te besef, bring jou ook nog niks in die sak nie!
As jy altyd NET met jou eie SWAKHEID en NIETIGHEID besig bly;
as jy net DAARTEEN vaskyk,
dan verstaan jy nog niks van die WYSHEID wat die dassies ons leer nie!
Want hulle leer:
Swakheid is NIE ‘n VERSKONING nie!
Jy MOET en jy KAN iets daaraan DOEN!
Daarom skuil die dassies in die KRANSE!
DAAR is hulle VEILIG!
DAAR het hulle RUS!
DAAR het hulle VREDE!
Om tussen die rotse te skuil ~
dit is hulle VERANTWOORDELIKHEID ~
en hulle kom dit na!
So leer die dassies vir ons:
Gaan skuil ALTYD by jou ROTS!
In Psalm 18 het Dawid gesing:
Die HERE is my rots en my bergvesting! (18:3).
‘n Rots, ‘n bergvesting is ‘n plek waar jy VEILIG is;
‘n plek waar kan SKUIL wanneer gevaar dreig.
So is die Here vir ons!
Hy is ons ROTS,
ons BERGVESTING waar ons kan skuil!
Hoe NODIG het ons nie hierdie BERGVESTING nie!
Ons kyk weer eens na ‘n jaar wat voor ons lê.
En dit lyk, soos ELKE ander jaar, vir ons DONKER.
Daar is BAIE dinge wat ons BANG maak.
Daar is so BAIE ONSEKERHEDE.
Daar is so BAIE dinge wat SKIELIK kan VERANDER!
Dan is daar ook nog die STRYD teen die SONDE wat jou GEEN ruskans gee nie!
Die dassies sê:
Gelowige kind van God, ONTHOU:
Jy HET ‘n ROTSVESTING!
Jy HET ‘n VEILIGE skuilplek!
Moet daarom nie op ANDER plekke jou rustigheid en veiligheid soek nie.
Gaan SKUIL by jou Rotsvesting!
Want in Jesus Christus, IS God jou ROTS by Wie jy VEILIG kan skuil!
Hy het al die ANGS en bange Godverlatenheid van die hel deurstaan,
sodat jy wat in Hom GLO,
NOOIT SONDER die Rots sal wees nie!
Deur die GELOOF kan jy na Hom toe VLUG.
Deur die GELOOF kan jy by Hom gaan SKUIL.
Jy kan jou HART voor Hom UITSTORT met die sekerheid:
Hy sal jou NOOIT wegstuur nie!
Maar, geliefdes, die dassies het vir ons ook ‘n baie ernstige aanmoediging:
Bly altyd NABY jou Rots!
So tree die dassies self ook op.
Hulle wei NABY die kranse.
As gevaar dreig, spring hulle vinnig tussen die rotse in!
Hulle kies DADELIK die KORTSTE pad terug na die veiligheid van die kranse!
Daardeur leer hulle vir ons:
Bly altyd NABY jou Rotsvesting!
MOENIE van Hom af WEGDWAAL nie!
Want: Wie VER van U sy weg wil gaan, stap op ‘n donker AFGROND aan ~
so sing ons in Psalm 73.
Ag, geliefdes, ons is dikwels so DWAAS!
Ons vertrou op ons EIE insig en
EIE vermoë en
EIE krag.
Ons SPEEL soms met die VUUR van SONDE en
dink dat ons NIE ons hande sal verbrand nie.
Ons laat toe dat die gejaagde lewe ons so VASDRAAI
dat ons ONGEMERK al VERDER van ons Rots af wegdwaal.
Ons verwaarloos ons VERHOUDING met ons Rots, Jesus Christus.
Bybelstudie en gebed en
erediensbywoning word al MINDER.
Ek het nie eens TYD vir MYSELF nie ~
hoe kan jy verwag dat ek gemeentefunksies moet bywoon
en betrokke moet raak by my medelidmate?
So leef ons!
So dwaal ons deur die jaar al VERDER van ons Rots af weg!
En skielik kom daar NOOD en BEPROEWING op jou pad.
Dan staan jy ALLEEN ~
SONDER ‘n HAND wat jou ondersteun ~
SONDER ‘n hand wat jou na jou Rots toe TERUGLEI!
Maar die dassies roep:
Bly ALTYD naby jou Rots,
sodat jy DADELIK by Hom kan skuil!
Want in GEEN ander skuiling is jy werklik VEILIG nie!
Daarom kruip die dassies nie agter BOSSIES of tussen die GRAS weg as gevaar dreig nie!
Hulle weet:
Daar is net EEN plek waar hulle werklik VEILIG is,
naamlik tussen die KRANSE!
Ag, geliefdes, hoe dikwels is ons nie geneig om VALSE skuilings te soek nie!
Ons kruip weg onder die BOSSIES van
ons eie MENSGEMAAKTE sekuriteite.
Die BOSSIES van ons baie VERSKONINGS.
Die BOSSIES van SELFVERONTSKULDIGING.
Ons sê:
Ek is maar net ‘n SONDIGE mens ~
daarom KAN ek nie met my sonde breek nie!
Ek is te SWAK om teen my sonde te STRY ~
daarom aanvaar ek dit en
die Here sal dit seker ook aanvaar want Hy verstaan my!
So dwaal ons al verder van ons Rotswoning af weg!
Ons is TEVREDE om onder die BOSSIES te skuil!
Maar die dassies roep:
Bly altyd NABY jou Rotswoning!
Vlug BETYDS na HOM toe!
As ons nou vra:
WAT verwag die Here van ons gedurende hierdie jaar?
Dan antwoord die dassies:
MOENIE onder BOSSIES skuil nie.
MOENIE wag tot die vyand OP jou is nie.
Vlug BETYDS na jou Rots toe!
Dit bring ons by die 3de stukkie wysheid wat die dassies aan ons leer:
Luister na jou BRANDWAGTE, sodat jy betyds kan VLUG!
Wanneer die BRANDWAG waarsku, VLUG al die dassies DADELIK tussen die kranse in!
Hulle WAG nie eers om te SIEN of dit nie DALK ‘n VALS alarm is nie.
Hulle vlug ONMIDDELLIK!
Daarmee sê hulle vir ons:
LUISTER na die BRANDWAGTE wat die Here aan jou gee.
En vlug BETYDS ~
SONDER HUIWERING!
Want uit genade gee Hy aan ons BRANDWAGTE om ons BETYDS te WAARSKU teen gevaar!
Die GROOTSTE en MEES BETROUBARE Brandwag wat die Here aan ons gee, is Sy Woord en Gees!
Deur Sy Woord leer Hy ons wat REG en VERKEERD is ~
en WIE ons VYAND is.
Die Woord leer ons WIE die ROTS is
waar ons veilig kan skuil.
Die Woord lei ons na die ROTS,
ons Here Jesus Christus.
En die Heilige Gees bind ons met die band van geloof aan Hom vas.
Die Heilige Gees leer ons om in ons VREUGDE en VOORSPOED DANKBAAR te wees,
en met ons SMART,
ons KOMMER en
SONDE na ons Rots te vlug.
Maar, geliefdes, die Here gebruik ook MENSE as BRANDWAGTE om BETYDS te waarsku!
Aan KINDERS gee Hy OUERS.
Aan GELOWIGES gee Hy ouderlinge, diakens en predikante om ALARM te maak wanneer gevaar dreig.
Hy gee ook MEDELIDMATE,
medegelowiges om jou te HELP
sodat jy BETYDS na jou Rots kan vlug!
Daarom roep die dassies ons op:
LUISTER na jou BRANDWAGTE wat die Here aan jou gegee het!
En vlug DADELIK ~
sodat jy NIE in die nette van sonde verstrik raak nie!
Maar die dassies roep ook:
Wees self ‘n BRANDWAG in hierdie wêreld!
‘n Brandwag wat ander waarsku en oproep om na die Rots,
Jesus Christus te vlug!
Geliefdes, WAT vra die Here van ons gedurende hierdie jaar?
Deur die dassie boodskappertjies sê Hy:
In Christus HET jy die BESTE Rotsvesting!
Bly ALTYD naby Hom!
LUISTER na die BRANDWAGTE wat Hy aan jou gee
sodat jy BETYDS kan vlug wanneer gevaar dreig!
Amen.
Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment