'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Monday, 16 May 2011

Spreuke 30:24 – 25: Die wysheid van die miere: versamel in die somer genoeg kragkos vir die winter.

Lees:  Spreuke 30

Hoofgedagtes:
1.  Gebruik die genadegawes wat God aan jou gee.
2.  Gebruik die genadetyd wat Hy ter wille van Christus aan jou gee.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Die wisseling van ‘n jaar, is gewoonlik ‘n tyd van VOORRAADOPNAME!
      Dit is die tyd wanneer jy TERUGKYK na die jaar wat verby is
      en VORENTOE kyk na die jaar wat voorlê!

Wanneer jy TERUGKYK, moet jy vir jouself vra:
 Het ek gedurende die afgelope jaar GEGROEI ~
 GEGROEI in my VERHOUDING met God?
 GEGROEI in my verhouding met ander MENSE?
 Was daar GROEI in my STRYD teen die SONDE?
 Het ek GEGROEI in my BETROKKENHEID in die GEMEENTE
 en by my medelidmate?

En wanneer ons dan VORENTOE kyk en bepaalde VERWAGTINGS vir die NUWE jaar stel, moet ons in die 1ste plek vra:
  Wat verwag die Here van MY?

Op hierdie vraag gee ons teks vir ons ‘n antwoord.
  Want die Here PRAAT met ons op baie maniere.
  En nou gaan dit NIE oor BUITENGEWONE en OPSPRAAKWEKKENDE dinge nie ~
  dat Hy byvoorbeeld in ‘n DROOM met jou praat en vir jou sê wat Hy van jou verwag nie!
  Nee, die Here praat met ons deur Sy Woord,
  en ook deur die NATUUR!

Die Spreukedigter het AANDAGTIG geluister na God se stem in die NATUUR.
 Hy hoor hoe die Here met ons praat deur 4 KLEIN diertjies wat Hy geskape het.
 Vier is dit wat klein is op die aarde,
 maar hulle is uitermate wys.

Ons kyk gewoonlik na die GROOT dinge in die natuur wat ‘n groot indruk op ons maak.
 Daar is die sogenaamde groot vyf wat almal graag wil sien.
 Die groot OLIFANT en
 die pragtige LUIPERD.
 Die statige LEEU,
 Die gevaarlike buffel en
 die renoster.
 Maar die Here gebruik ook KLEIN diertjies om met ons te PRAAT!
 Agur vestig ons aandag op 4 KLEIN diertjies wat as’t ware God se BOODSKAPPERS is.

Kom ons luister na die boodskap van die Here deur die MIERE.
Die boodskap sê:
 Die miere is nie ‘n sterk volk nie,
 en tog berei hulle hul voedsel in die somer.

Ons ken die miere!
 Hulle is baie KLEIN en HULPELOOS teen vyande.
 Jy kan sonder enige INSPANNING letterlik HONDERDE van hulle doodmaak.
 Ons het almal al PROBLEME met die miere gehad!
 Hulle DRING oral in.
 Hulle is sommer net LASTIG.
 So kyk ons NEGATIEF na die miere!

Maar die Here wil deur hulle aan ons ‘n POSITIEWE boodskap bring.
 Deur die miere leer Hy vir ons in die 1ste plek:
 Gebruik die GENADEGAWES wat God aan jou gee,
 al lyk dit ook KLEIN in jou eie oë!

Ons teks sê: Die miere is nie ‘n sterk volk nie!
 Hulle is KLEIN en SWAK. 
 Hulle het nie fisiese KRAG nie of
 BULTENDE spiere soos ‘n SIMSON nie!
 Maar hulle WYSHEID is GROOT ~
 BUITENGEWOON groot! 
 Hulle staar hulle nie BLIND teen die feit dat hulle KLEIN en SWAK is nie.
 Hulle GEBRUIK die gawes wat die Here aan hulle gee.
 Watter gawes?
 Die gawes van YWER en VOLHARDING!

Hoe dikwels sien ons nie hoe ‘n KLEIN miertjie ‘n stukkie kos aansleep wat soms twee of drie maal GROTER is as hyself nie!
 Hy hou aan en aan.
 Hy BEUR en SPARTEL
  totdat hy die stukkie kos tot by sy gaatjie gesleep het!

Die miere gooi nie tou op omdat hulle KLEIN en SWAK is nie!
 Hulle raak nie MOEDELOOS
 omdat hulle nie so STERK is soos die ander insekte en diere nie.
 Hulle GERBUIK net die GAWES wat die Here aan hulle gegee het.
 En hulle gebruik dit met YWER en VOLHARDING!

En ons, geliefdes? Die Here gee aan ons BAIE gawes!
 Hy gee die gawe van GESONDHEID.
 Ook die gawe van WERK.
 Hy gee die gawe van genoeg geld om in jou daaglikse behoeftes te voorsien.
 En dan is daar ook die gawes van GELOOF en HOOP en LIEFDE ~
 Liefde vir God en liefde vir mekaar.
 En wat van die gawe van die GEMEENTE ~
 waar die Here JOU versorg deur Sy Woord en
 waar Hy vir JOU wil gebruik om jou MEDELIDMATE te versorg?!
 Ja, die Here versorg ons met BAIE geestelike en stoflike gawes.

En die miere leer ons:
 GEBRUIK dit wat God aan jou gee met YWER,
 al is dit ook MIN in vergelyking met die BAIE wat ander ontvang het!

Daarom, as ons dan TERUGKYK na die jaar wat verby is, moet ons vra:
      HOE het ek die GAWES wat die Here aan my gegee het, gedurende die afgelope jaar gebruik?
      Hoe het ek die gawe van GELOOF gebruik?
      En die gawe van VOLHARDING?

En as ons dan VORENTOE kyk na die jaar wat voorlê, moet die GEBED in ons harte wees:
 Here, help my om TEVREDE te wees met dit wat U aan my gee.
 Help my om die gawes wat U aan my gee,
 YWERIG te gebruik
 sodat ek U en my medelidmate voluit daarmee kan dien!

Maar, geliefdes, die Here wil ons nog iets deur die miere leer:
  GEBRUIK die TYD wat God aan jou gee om jou voorraadskure VOL te maak!

Só tree die miere op!
  Gedurende die SOMER is hulle VOLTYDS besig.
  Hulle MORS nie ‘n enkele OOMBLIK nie!
  Hulle het nie tyd om te RUS nie.
  Hulle is AANHOUDEND besig om KOS te versamel.
  Ondergrondse voorraadskure word tot BARSTENS toe VOL gemaak.

Hierdie KLEIN diertjies is BRANDEND van ENERGIE!
 Hulle is vol YWER en WERKLUS.
 Hier word die TYD met alles tot hulle beskikking UITGEKOOP.
 Geen wonder dat die Spreukedigter juis die MIERE as voorbeeld gebruik wanneer hy ‘n LUIAARD teregwys nie!
 Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! (Spreuke 6:6).

Die miere weet:
 As SOMERTYD nie WERKTYD is nie,
 dan is WINTERTYD net
 HONGERLY-TYD en
 DOODGAAN-TYD!
 As SOMERTYD nie WERKTYD is nie,
 dan is daar in die WINTER ook geen ETENSTYD nie!
 Want die SOMER hou nie vir ALTYD aan nie!
 Die winter KOM ~ SONDER groei,
 ‘n LANG uitgestrekte SKAARTSTE!

En DAARIN lê die GROOT wysheid van die MIERE!
 Dit is hulle treffende boodskap aan ONS!
 Versamel in die SOMER genoeg vir die WINTERTYD,
 vir die REËNERIGE dae,
 vir die SWAAR jare wat mag voorlê.
 Want die SOMER is GENADETYD!
 Maar dit gaan GOU verby.
 En dan volg die WINTERTYD.

Daarom:
 GEBRUIK die GENADETYD om VOORSIENING te maak vir die WINTERTYD wat kom ~
 die wintertyd van TEËSPOED en
 BEPROEWING en
 SIEKTE!
 GEBRUIK die GENADETYD wat God gee,
 om jou voorraadskure VOL te maak,
 om dit veral VOL te maak met Sy Woord!

O, hoe NODIG het ons nie hierdie aanmoediging nie!
 Want die GEJAAGDHEID van ons lewe draai ons so VAS
 dat ons nie meer tyd AFSONDER om ons GEESTELIKE voorraadskure VOL te maak nie!
 Ons sê maklik:
 Daar is nie TYD vir HUISGODSDIENS nie!
 Daar is nie TYD vir PERSOONLIKE Bybelstudie en gebed nie!
 En die EREDIENSTE? ~
 Ja, ook hierdie SOMERTYD laat ons VERBYGAAN!

Maar die miere roep ons op:
 Gebruik ELKE oomblik van God se SOMERTYD
 om jou voorraad-skure VOL te maak met die BROOD wat LEWE gee.
 Want díe somertyd gaan VERBY.
 Die WINTERTYD kom vinnig nader.

Hoe treffend het die profeet Amos hierdie wintertyd beskryf:
 Kyk, daar kom dae,
 spreek die Here HERE,
 dat Ek ‘n honger in die land stuur,
 nie ‘n honger na brood nie en
 nie ‘n dors na water nie,
 maar om die woorde van die HERE te hoor.
 En hulle sal swerwe van see tot see en
 rondslinger van noord na oos,
 om na die woord van die HERE te soek,
 maar hulle sal dit nie vind nie! (Amos 8:11 – 12).

Ter wille van Jesus Christus leef ons nog in die SOMERTYD van God se GENADE!
 Dit het Hom al die ANGS en SMART van die HEL gekos,
 om vir ONS nog GENADETYD te KOOP!

Ter wille van Christus gee God NOG ‘n jaar van GENADETYD
en ook GENADEMIDDELS om ons die voorraadskure VOL te maak.
 Hy gee die KOS van sy Woord wat ons moet VERSAMEL in die EREDIENSTE,
 in ons HUISGODSDIENS,
 in ons Bybelstudie.
 Hy gee die SAKRAMENTE om ons te VERSTERK.
 Maar Hy gee ONS ook aan MEKAAR!
 Medegelowiges wat MEKAAR moet BYSTAAN,
 MEKAAR moet HELP om die voorraadskure VOL te maak.

En wat MEER is ~
 Hy gee die Heilige Gees aan ons,
 om ons AAN te MOEDIG,
 ons met KRAG te vervul,
 sodat ons die SOMERTYD van Sy GENADE voluit kan GEBRUIK!

Daarom, geliefdes, as ons dan vra:
      WAT verwag die Here van ons gedurende die jaar wat VOORLÊ?
      Dan ANTWOORD Hy deur die miere:
      GEBRUIK die GENADEGAWES wat die Here aan jou gee
      om YWERIG en
      met VOLHARDING te werk!
      GEBRUIK ook die GENADETYD,
      die SOMERTYD wat Hy gee
      om jou voorraadskure tot BARSTENS toe VOL te maak met die KOS van die Woord!

Elkeen wat NIE na die WYSHEID van die miere luister
 en dit ter harte neem nie,
 pleeg GEESTELIKE SELFMOORD
 en gaan met LEË skure die WINTERTYD tegemoet!

Aan die ander kant:
  Elkeen wat na die wysheid van die miere LUISTER
  en dit ter harte neem,
  sal kan VOLHARD tot die EINDE toe!
  Ja, wie na die wysheid van die miere luister,
  sal die heerlike woorde hoor:
  Mooi so, goeie en getroue dienskneg,
  oor weinig was jy getrou,
  oor veel sal ek jou aanstel.
  Gaan in in die vreugde van jou heer! (Mattheus 25:23).

Amen.

Ds. A. P. Kruger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment