Hoofgedagtes:
1. Die inhoud van die gebed.
2. Die grond vir die gebed.Geliefde broeders en susters en kinders,
Wat het jy van die Here gevra, toe jy jou 1ste gebed in 2011 gebid het? Het jy gevra vir:
VOORSPOED in die nuwe jaar?
Vir OPLOSSINGS vir jou probleme?
Vir BESKERMING gedurende die jaar?
Vir KRAG om jou roeping te vervul?
Dit is alles dinge wat ons elke dag van die Here MOET vra,
want ons is vir ALLES van Hom afhanklik.
Maar ~ met al hierdie dinge,
BEGIN ons by ONSSELF en ons EIE behoeftes,
terwyl ons EINTLIK by God moet begin!
So het Jesus ons mos in die Onse Vader geleer om 1ste by God te begin.
Die 1ste drie bedes handel oor:
die heiligheid van God se Naam;
die koms van Sy koninkryk en
dat almal oral en altyd sal DOEN wat Hy WIL.
So het Dawid in ons teks by God begin!
Die heel belangrikste waarvoor hy bid, en waarvoor ons ook moet bid, staan in vers 9:
HERE, lei my in U geregtigheid;
maak U weg voor my reg!
Dawid BEGIN nie by HOMSELF nie! Hy vra nie in die 1ste plek:
Here, maak MY pad voor my reg nie.
Dit gaan nie vir hom oor wat HY wil hê nie;
oor die VOORSPOED wat hy graag wil geniet;
oor die vernietiging van sy VYANDE en
oor sy EIE veiligheid nie.
Maar dit gaan vir Dawid in die heel 1ste en in die laaste plek oor:
die heiligheid van God
en die EER van Sy Naam!
Daarom bid hy:
Maak U weg voor my reg!
Dit beteken:
dat die Here BEPAAL wat die REGTE pad is;
en dat Hy die REGTE pad vir jou AANWYS en
dat Hy jou hand vat om jou op die regte pad,
dit is ~
op SY pad te LEI!
Hierdie gebed groei uit ‘n vaste VERTROUE in die Here! Ons kan sê:
Dawid vertrou die Here BLINDELINGS.
Hy weet:
Wat ook-al op my pad kom,
die Here sal my nie alleen los nie.
Hy weet wat vir my die BESTE is ~
al kan ek dit nie altyd insien en verstaan nie!
Dit, geliefdes, is die vertroue waarmee ons hierdie jaar moet ingaan!
Ons moet hierdie gebed ELKE dag bid ~
Here, maak U weg voor my reg!
Want dan kan ons weet dat ALLES wat gedurende die jaar op ons pad kom, deur die Here bestuur en beheer word!
As daar VOORSPOED en VREUGDE kom, kan ons dit met DANKBAARHEID geniet!
Want dit is die pad wat die Here voor ons lê.
Maar ook, as daar TEËSPOED en HARTSEER kom, kan ons dit dra, omdat die Here aan ons die krag gee!
Ook dit is Sy pad waarop Hy wil hê dat ons moet loop.
Maar WAAROM kan ons VERTROU dat die Here SY pad voor ons sal regmaak?
Is dit omdat ons sulke GOEIE mense is?
Kan ons dit deur ‘n mooi lewe of ‘n mooi voorbeeld VERDIEN?
Nee, geliefdes, ons het dit nie en kan dit NOOIT verdien nie! Ons kan hierdie gebed net bid, omdat God ons LIEFHET.
Sy liefde vir ons ~
dit is die enigste rede waarom ons van onsself af kan WEGKYK en bid:
Here, maak U weg voor my reg!
Daarom sê vers 8:
Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan,
my buig na u heilige tempel,
in u vrees.
Dawid besef dat hy dit nie verdien om in God se teenwoordigheid te kom en met Hom te praat nie.
Hy kan ook nie daarop AANSPRAAK maak nie.
Hy kan net in God se teenwoordigheid kom en met Hom praat ~
hy kan net bid,
OMDAT God HOM liefhet!
Let mooi op, geliefdes, Dawid gaan nie in die tempel in om te bid, omdat HY die Here liefhet nie!
Die motvering vir sy gebed, is nie:
Dawid se liefde vir God nie,
maar God se liefde vir Dawid!
Omdat God HOM liefhet,
daarom MAG Dawid in die huis van die Here,
in die tempel ingaan om te bid!
Die apostel Johannes het mos gesê:
Hierin is die liefde:
nie dat ons God liefgehad het nie,
maar dat Hy ons liefgehad het
en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes. (1 Johannes 4:10).
Ons het Hom lief,
omdat Hy ons eerste liefgehad het. (1 Johannes 4:19).
Dit is die ENIGSTE rede waarom ons van onsself af kan WEGKYK en bid:
Here, maak U weg voor my reg!
Want diep in onsself, wil ons graag vra wat ONS wil hê.
Ons wil eerder vra dat die Here ons EIE pad gereed maak ~
of dat Hy die pad waarop ONS graag wil gaan, voorspoedig sal maak.
Maar op grond van God se GROOT liefde wat Hy in Christus aan ons bewys het, KAN en MAG en MOET ons van ONSSELF afsien!
Omdat God ons EERSTE liefgehad het, daarom KAN ons Hom BLINDELINGS vertrou.
Hy sal ons NIE op ‘n VERDWAALPAD lei nie.
Hy sal NIE toelaat dat iets op ons pad kom, wat ons van Sy liefde kan skei nie.
Hierdie VERTROUE, geliefdes, hierdie BLINDELINGSE vertroue word deur die Heilige Gees in ons harte gewerk!
Dit is Hy wat ons harte verander het.
Dit is Hy wat ons OORTUIG:
God het JOU so lief dat Hy sy EIE Seun gegee het om JOU skuld te betaal.
Daardeur het Christus JOU in God se huis ingebring.
En nou het jy die VOORREG om met Hom te praat.
Jy het die VOORREG om voor Hom te buig met die eerbied wat aan Hom verskuldig is!
Want dit, geliefdes, is die REAKSIE wat groei uit die besef dat God jou liefhet ~
jy WIL voor Hom buig met die eerbied wat aan Hom verskuldig is!
Jy wil Hom in jou HELE lewe as JOU Koning EER, met ALLES wat jy sê en dink en doen!
Daarom bid Dawid:
HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil;
maak u weg voor my reg.
Dawid wil ook in sy optrede teenoor sy VYANDE, die pad van die Here volg!
Dit is seker een van die MOEILIKSTE dinge om te doen ~
om in jou optrede teenoor jou VYANDE,
van JOUSELF en jou EIE begeertes te VERGEET
en te DOEN wat God van jou verwag!
Want vir jou VYAND, sal jy iets sê SONDER om eers na te dink!
Jy sal dinge aan hom doen,
SONDER om eers die gevolge daarvan te oorweeg!
Teenoor jou vyand tree jy as’t ware OUTOMATIES op!
Maar Dawid besef dat hy in sy optrede teenoor sy vyande, baie MAKLIK kan SONDIG!
Hy kan dinge doen waardeur God se Naam deur die modder gesleep kan word.
Hy kan ONREGVERDIG optree!
En dit is nie wat God van sy kinders verwag nie!
Want ons moet onthou, geliefdes, dat ander mense ons as’t ware FYN dophou!
Jy is ‘n kind van God.
En wanneer jy VERKEERD optree, sleep jy Sy Naam deur die modder!
Dawid bid:
Here, wanneer ek teenoor my VYANDE staan, leer my tog om U wil te doen!
Vat my hand en LEI my op U pad, sodat ek nie U Naam deur die modder sleep nie!
U sien, geliefdes, wanneer jy besef hoe GROOT die liefde is wat God EERSTE aan jou bewys het, dan KAN en WIL en MAG jy nie anders nie ~
jy moet jou liefde aan Hom bewys deur aan hom alleen GEHOORSAAM te wees!
Want dit is die liefde tot God,
dat ons sy gebooie bewaar! (1 Johannes 5:3).
Daarom is hierdie gebed van Psalm 5, ‘n gebed om gehoorsaamheid!
Here, maak U weg voor my reg!
Vat my hand en lei my om elke dag van hierdie nuwe jaar ~
en elke dag van my lewe ~
op U pad te loop!
Here, help my dat ek van my EIE pad kan AFSIEN,
dat ek van MYSELF af kan WEGKYK, om NET U wil te doen!
Help my, Vader, om voor U te buig met die eerbied wat aan U VERSKULDIG is!
Want U het my met die bloed van U eie Seun GEKOOP en my in U huis ingebring.
U het my EERSTE liefgehad!
Help my daarom om U ook lief te hê, in die harde werklikheid van my lewe!
Amen.
Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment