'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Sunday, 15 May 2011

Mattheus 7:24 – 27: Bouwerk getoets.

Lees: Mattheus 7:1 – 29

Hoofgedagtes:
1. Die bouwerk.
2. Die toets.
3. Die uitslag.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Elke mens is ‘n BOUER!
  Jy is elke dag besig om aan jou lewe te BOU!
  Jou WOORDE,
  GEDAGTES en
  DADE is die STENE waarmee jy bou.
  Elke bouer het gewoonlik ‘n BOUPLAN waarvolgens hy bou.

Met hierdie gelykenis leer Jesus ons dat elkeen van ons ‘n BOUPLAN nodig het waarvolgens ons ons lewens moet bou.
  Die bouplan vir ons lewens, is die Woord van God ~
  die Bybel!
  Dit is ‘n bouplan SONDER enige FOUTE!
  As jy die plan NOUGESET volg, sal jou lewenshuis tot in ewigheid bly staan!
   Dan is jy VERSTANDIG!
 Maar as jy NIE volgens hierdie VOLMAAKTE plan bou nie, sal jou lewenshuis inmekaar val!
  Dan is jy DWAAS!

Jesus vertel van ‘n VERSTANDIGE en ‘n DWASE man wat elkeen ‘n huis gebou het. Kom ons kyk nou:
1     na die BOUWERK;
2     hoe die bouwerk GETOETS word
3     en wat die UITSLAG van die toets is.

Twee mans het elkeen ‘n huis gebou.
      Die een was VERSTANDIG en die ander een was DWAAS!
      Hoe het die VERSTANDIGE man sy huis gebu?
      Hy het by die FONDAMENT begin!
      Volgens Lukas se weergawe van die gelykenis, het die verstandige man gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê (6:48).

Hierdie man het geweet:
   Die FONDAMENT is die belangrikste deel van ‘n huis, want die HELE huis staan daarop!
   As die fondament SWAK is, begin die mure BARS!
     En die barste kan al GROTER word, sodat dit later GEVAARLIK is om in so ‘n huis te bly!

Die VERSTANDIGE man weet:
 Die SUKSES van sy huis word deur die FONDAMENT bepaal!
 Daarom grawe hy al die LOS sand weg.
 Hy hou aan grawe, tot hy by die ROTS uitkom!
 En daar, op die ROTS, daar lê hy die FONDAMENT van sy huis!
 Want die ROTS gee STEWIGHEID en STANDVASTIGHEID.
 Die ROTS keer dat die FONDAMENT nie sak en die mure bars nie.

Daarom sê Jesus dat hierdie man VERSTANDIG is!
  Hierdie man WEET dat daar nie NET mooiweersdae is nie.
  Daar kom ook ONWEERSDAE wanneer DONKER wolke saampak.
  Daar kom ook STORTREËN en VLOEDWATER wat die huis bedreig.
  Die verstandige man hou deeglik hiermee rekening!
  Hy volg sy BOUPLAN!
  En sy BOUPLAN is Jesus se WOORDE ~ 
    dit is die Bybel!

Hierdie verstandige man het eers goed GELUISTER, en toe kon hy uitgaan om ook goed te DOEN!
  Hy het sy bouplan goed BESTUDEER.
  En toe het hy ALLES tot in die FYNSTE besonderhede GEDOEN soos die bouplan voorskryf!

Teenoor hom staan die DWASE man. Van hom sê Jesus:
  Hy het sy huis op die sand gebou!

Hierdie man het ook ‘n bouplan gehad wat bestudeer het!
  Maar hy het nie GEDOEN wat sy bouplan voorskryf nie!
  Hy het nie DIEP gegrawe om die fondament op die ROTS te lê nie!
  Lukas sê: hy het sy huis sonder fondament op die grond gebou!

Daarom is hierdie man DWAAS en KORTSIGTIG en ONVERSTANDIG!
  Hy besef nie dat daar ook ONWEERSDAE kom nie!
  Hy kyk NET na vandag se sonskyn!
  Hy hou nie rekening met môre se STORMWEER nie!

Hierdie DWASE man lees ook sy Bybel!
   Maar hy DOEN nie wat die Bybel sê nie!
   Hy wil SELF besluit wat vir HOM goed en reg is.
     Hy wil NET doen wat vir HOM lekker is.
   Wanneer daar MOEITE en OPOFFERING van hom gevra word, staan hy TERUG!

Aan die begin van die jaar is die vraag dit:
 Broeders en susters en kinders, HOE gaan jy vanjaar aan jou lewenshuis bou?
 Gaan jy soos die VERSTANDIGE man bou?
 Gaan jy DIEP in die Woord van God INGRAWE?
 Gaan jy jou BOUPLAN deeglik BESTUDEER?
 Gaan jy jou bouplan NOUGESET volg?
 Of gaan jy soos die DWASE man bou?
 Gaan jy net so bo langs in die sand krap?
 Gaan jy jou bouplan net so MIN of MEER volg? 

Ons moet onthou:
  Ons bouwerk gaan GETOETS word!

Die verstandige en die dwase mans se huise is aan DIESELFDE toets onderwerp.
  Jesus sê van ALBEI die huise:
  En die reën het geval
  en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai
  en teen daardie huis aangestorm!

Die TOETS kom vir ELKE mens ~ of jy VERSTANDIG en of jy DWAAS is, maak nie saak nie!
  Niemand kan die toets ONTDUIK nie!
  Die stortreën en vloedwaters en stormwinde kan in hierdie jaar op jou pad kom in die vorm van:
  ernstige siekte,
  of skielike teëspoed,
  of beproewings!
  Dit kan ook kom in VERSOEKINGS
  of LOUHEID en
  LAKSHEID in jou geloof!
  Maar jy kan ook deur jou VOORSPOED en VREUGDE getoets word!

En dan is die vraag:
  Is jou FONDAMENT op die ROTS gelê?
  Is jy ELKE dag besig om op die EWIGE Rots,
  Jesus Christus,
  die Woord wat mens geword het, te BOU?
  Bestudeer jy Sy bouplan, die Bybel, deeglik?
  En:
 DOEN jy wat Hy jou beveel?

Want ELKEEN wat deur die GELOOF op Hom bou,
  Elkeen wat na Sy Woorde LUISTER
  EN dit DOEN,
  SAL die toets deurstaan!

Ook teen Hom het die STRORTREËN en VLOEDWATERS en RUKWINDE aangestorm!
   Hy is VERAG;
     Bespot;
      Geslaan en
   Uiteindelik GEKRUISIG!
   Maar Hy het ALLES wat Sy Vader aan Hom opgedra het, VOLLEDIG gedoen!
     Daarom het Hy na 3 dae uit die graf OPGESTAAN!
      Hy het OORWIN!
   En nou is Hy die VASTE en ONWANKELBARE Rots vir ELKEEN wat in Hom GLO!

Maar ons moet dit goed verstaan, geliefdes!
 Die feit dat jy in Hom glo, neem NIE die toets WEG nie!
 Nee, die stortreën
 En stormwaters
 En rukwinde kom juis met BRUTE krag en BARS soms met volle STORMGEWELD oor jou kop
 om jou van Christus af LOS te SKEUR!

Maar elkeen wat deur die genade van die Heilige Gees in die geloof VOLHARD;
  elkeen wat uit DANKBAARHEID na Sy Woord LUISTER
  en DOEN wat Hy beveel,
  sal die toets deurstaan!
  Ja, elkeen wat DIEP in die Woord bly GRAWE
  En met die kragtige hande van die GELOOF aan Christus VASKLOU,
  En die FONDAMENT van jou lewe op dìe Rots lê,
  SAL nie deur die stormgeweld van die toets meegesleur word nie!

Daarom, geliefdes, hoe gaan jy hierdie jaar aan jou lewenshuis bou?
  Gaan jy elke steen PRESIES,
  NOUGESET inbou soos die bouplan van die Woord dit aanwys?
  Of gaan jy aan Sy bouplan VERANDER?
  Gaan jy wyigings aanbring soos dit JOU pas?
  Gaan jy aan die bouplan VERANDER,
  sodat dit MINDER moeite en inspanning van jou vereis?
  Hoe gaan jy vaar met die TOETSE wat gaan kom?

In die gelykenis wys Jesus ons op die UITSLAG van die toets. En daar is slegs TWEE moontlikhede:
  Die bouwerk van jou lewe bly STAAN!
  Of dit VAL inmekaar!

Van die VERSTANDIGE man se huis sê Jesus:
 en dit het nie geval nie,
 want sy fondament was op die rots!
   Hy het geluister
   EN gedoen wat die Woord sê!

Maar van die DWASE man se huis sê Hy:
 en dit het geval, en sy val was groot!
 Die stormwater het die sand onder die mure weg gespoel.
 Die mure het begin BARS.
 Die water het INGESTROOM.
 Die rukwind waai die dak af ~
 en alles stort INMEKAAR,
 Want hy het op SAND gebou!
 Die sand van EIE krag en insig!
 Die sand van EK doen soos dit vir MY die gerieflikste is
 En uiteindelik:
 Die sand van ONGEHOORSAAMHEID!

Broeder en suster en kinders, hoe gaan jy hierdie jaar aan jou lewenshuis bou?
   Waar gaan jy jou FONDAMENT lê?
   Watter bouplan gaan jy SLAAFS navolg?

Eintlik moet ons vra:
 Hoe ERNSTIG is jy met die bouwerk aan jou lewe?

Want ons het dikwels sulke MOOI voornemens vir die nuwe jaar!
  En ons is gewoonlik ERNSTIG daarmee!
  Maar:
  Dit word SPOEDIG weggevee deur die stortreën en stormwater en rukwinde van ons BESIGE lewens!
  En die 1ste voorneme wat gewoonlik wegspoel, is die een wat sê:
  Ek gaan MEER erns maak met my godsdiens!
  Ek gaan MEER betrokke raak in die gemeente!

Daarom roep hierdie gelykenis ons op om DIEP te grawe en AAN te hou grawe!
  Ons moet GOED luister na God se Woord, sodat ons GOED kan DOEN!
  Ons moet AANHOU om DIEP te grawe, sodat ons op dìe Rots kan bou!
  Want dan sal ons die toets kan deurstaan!

Broeder en suster en kinders, HOE gaan jy hierdie jaar aan jou lewenshuis bou?
  Waar gaan jy jou FONDAMENT lê?

Amen.

Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment