'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Sunday, 15 May 2011

Psalm 90:1: Die ewige God ~ jou woning in verlede, hede en toekoms.

Lees:  Psalm 90

Hoofgedagtes:
1.  Kyk terug ~ waar was en is jou woning?
2.  Kyk vorentoe ~ waar sal jou woning wees?

Geliefde broeders en susters en kinders,

Waar gaan jy gedurende die nuwe jaar BLY?
      Waar is jou WOONPLEK?
      Nee, ek vra nie wat jou ADRES is nie!
      Ook nie of jy gaan VERHUIS nie!
      Die vraag is:
      Waar is jou veilige TOEVLUG ~
      nie net vir hierdie jaar nie,
      maar jou veilige toevlug tot in EWIGHEID?
      Waar kry jy EWIGE beskerming en veiligheid?
      Dit is die vraag wat Psalm 90 voor ons lê.

Moses, die man van God, het hierdie Psalm geskryf.
 Waarskynlik was dit aan die BEGIN van die 40 jarige swerftog deur die woestyn.
 Toe Israel op die DRUMPEL van die Beloofde Land gestaan het,
 het hulle BANG geword!
 10 van die 12 verkenners het die volk BANG gemaak met die berig oor die mense wat in Kanaän woon (Numeri 13).
 Volgens hulle was die mense REUSAGTIG groot,
 en dus ONOORWINBAAR!
 Net TWEE van die verkenners, Josua en Kaleb,
 was vol VERTROUE dat die Here aan Sy volk KRAG sal gee om die reuse te oorwin.
 Toe het die Here sy volk GESTRAF!
 Hulle sal vir 40 jaar in die woestyn swerf,
 tot die HELE geslag UITGESTERF het (Numeri 14),
 want hulle het die Here hulle God nie VERTROU nie!

Miskien het Moses, die man van God, gewonder:
  Wat hou die 40 jaar vir ons in?
  Sal IEMAND ooit oorleef?
  Hoe gaan ons die GEVARE van die woestyn deurstaan?
  En toe het Moses GEBID!

En let mooi op, geliefdes:
  Moses BEGIN by God ~
  by Sy GROOTHEID;
  Sy ALMAG;
  Sy GEREGTIGHEID;
  Sy GOEDHEID;
  Sy GENADE!
  Moses kyk TERUG om God se werk te sien.
  Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.

En dit moet ons tog goed onthou wanneer ons na die jaar kyk wat voorlê:
 Kyk TERUG om God se hand in jou lewe te SIEN,
 dan kan jy VORENTOE kyk.
 Dan kan jy met die VERTROUE van ‘n klein kindjie,
 jou hand in die hand van jou hemelse Vader plaas. 
 Kom ons kyk dan vanaand eers TERUG en ons BELY:
 Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.

Ons kan die woord toevlug ook vertaal met:
 woning of woonplek.
 Daarin lê dan die gedagte van ‘n VASTE en VEILIGE blyplek.
 Vir God se volk, wat deur die woestyn moes SWERF,
 was dit seker ‘n groot BEGEERTE om ‘n VASTE woning te hê ~
 ‘n veilige HUIS waarin jy kan SKUIL teen wind en weer.
 Want in die woestyn was hulle GEDURIG aan baie gevare blootgestel.
 Hulle TENTE het nie VEILIGE skuilings gebied teen wind en weer
 en veral teen vyande wat hulle aanval nie.
 Eintlik was Israel WEERLOOS in die woestyn!

So, geliefdes, is ONS ook eintlik maar WEERLOOS in hierdie  wêreld!
 Ons besef dit elke dag.
 Ons word daagliks met ons eie weerloosheid gekonfronteer.
 Ons hoor van natuurrampe waarin 100de en
 selfs 100 000de mense in ‘n OOMBLIK van die aarde af weggevee word.
 Ook ongelukke laat ons besef hoe weerloos ons eintlik is ~
 dink aan die talle mense wat die afgelope vakansie op ons paaie gesterf het.
 Maar daar is ‘n DIEPER weerloosheid wat ons nie altyd besef nie ~
 die weerloosheid teen die aanvalle van die duiwel en sy bose magte!
 Die Psalmdigter het mos in Psalm 94:9 gevra:
 Wie sal my bystaan as die bose my aanval?
 En dan antwoord hy:
 As nie die Heer my bystand was
 Dan was my lewe gou verkort
 En ek diep in die graf gestort!  

Dit is ook Moses se belydenis:
 Die Here was ~ en is ~ vir ons ‘n toevlug!
 HY beskerm ons!
 En Hy doen dit van geslag tot geslag ~
 dit wil sê AANHOUDEND,
 sonder EINDE!
 Want Hy is die Here!

Die Naam Here is hier van besondere betekenis.
 Die Naam beteken:
 EIENAAR of BESITTER.
 Dit wil sê die een wat VOLLE seggenskap het oor jou hele lewe
 en wat daarom ook jou hele lewe BEHEER.
 En Hy is die EWIGE God!

Vers 2 sê:
 Voordat die berge gebore was
 en U die aarde
 en die wêreld voortgebring het,
 ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.
 Die Here,
 ons Eienaar en Besitter ~
 Hy het geen BEGIN en
 ook geen EINDE nie!
 Daar WAS nooit ‘n oomblik toe Hy NIE bestaan HET nie,
 en daar SAL ook nooit ‘n oomblik aanbreek dat Hy nie SAL bestaan nie!

En, geliefdes, díe Here, wat geen BEGIN en ook geen EINDE het nie, Hy is die SKEPPER van alle dinge!
 Moses dink aan die BERGE ~
 bergspitse, so HOOG dat dit met wolke bedek is;
 onbeweeglike groot ROTSE ~  
 die Here het al die dinge geskape!
 En meer nog ~
 die hele aarde en die wêreld is deur Hom voortgebring!
 Genesis 1 vertel mos HOE Hy dit alles gedoen het:
 Hy het net ‘n woord GESÊ ~
 en ALLES het uit NIKS voortgekom!

Hierdie EWIGE en ALMAGTIGE God ~
 teenoor HOM is mense soos ‘n STOFSTIPPELTJIE (vers 3)
 Maar Hy was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag!
 Vir Hom is stofstippeltjie-mense KOSBAAR!
 By Hom is ons VEILIG.
 Hy BESKERM en BEWAAR ons ~
 teen die gevare wat ons hier op aarde bedreig.
 Dink maar hoe die Here Sy hand gedurende die afgelope jaar oor ons GEHOU het.
 Hoeveel keer het jy nie gesê:
 As ek net 5 minute vroeër gery of geloop het,
 dan was ék in die ongeluk betrokke!

Maar meer nog, geliefdes:
 Hoeveel keer het die Here jou weer na Hom toe TERUG gebring toe jy AFGEDWAAL het?
 Hoe dikwels het Hy jou deur Sy Woord en Gees gewaarsku teen VERSOEKINGS wat op jou pad gekom het?
 Hoe dikwels het Hy jou GETROOS in jou hartseer,
 jou bemoedig in jou kommer?
 Hoe dikwels het dinge vir jou ANDERS uitgedraai as wat jy verwag het?
 En nie net vir jou nie, maar ook vir jou kinders?
 Ja waarlik, ons moet bely:
 Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag!

Maar wat van die jaar wat VOORLÊ?
 Ook vir hierdie jaar WIL en SAL die Here ons toevlug wees!
 Dít is die VERTROUE waarmee ons hierdie jaar MOET ingaan.
 Die Here, die EWIGE en ALMAGTIGE God, Hy sal ons NOOIT aan onsself oorlaat nie!
 Want Hy IS ons toevlug, en Hy SAL dit vir ALTYD wees!

Maar, geliefdes, waarom WAS die Here in die VERLEDE,
      en waarom WIL Hy ook hierdie jaar ~
      en in die toekoms,
      ons toevlug wees?

Hierop is net EEN antwoord:
 Jesus Christus!
 In HOM leer ons God ken as ons EWIGE toevlug!
 Jesus het in ONS plek kom staan.
 Hy was van God VERLAAT.
 Hy het al die angs en smart van die hel ALLEEN gedra.
 Só het Hy vir elkeen wat in Hom GLO, ‘n woonplek BY God gekoop.
 Deur Christus WAS en IS God vir ons ‘n toevlug.
 Deur Christus SAL Hy tot in EWIGHEID ons toevlug wees.

Maar, geliefdes, dit VEREIS dat ons NABY God moet BLY!
  Want ons is geneig om van Hom af WEG te dwaal.
  Wanneer ons weer BESIG raak hierdie jaar;
  wanneer ons VASGEDRAAI word in al die dinge wat ons elke dag moet doen ~
  VERGEET ons vinnig dat die Here ons toevlug is.
  Dan maak ons staat op EIE krag en
  vertrou op ons eie INSIG.

Daarom is die vraag vir elkeen van ons:
  WAAR gaan jy gedurende die nuwe jaar BLY?
  Waar gaan jy ELKE dag en tot in ewigheid WOON?

Amen.

Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment