'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Wednesday, 04 May 2011

Romeine 9:8, 16, 18: Vrygespreek kragtens God se genadige uitverkiesing.

Lees:   Romeine 9 en Nederlandse Geloofs Belydenis (NGB) artikel 16

Hoofgedagtes:
1.  Wat kan NIE die REDE wees waarom God mense uitverkies nie.
2.  Wat is WEL die REDE waarom God mense uitverkies.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Is jy ‘n kind van God?
      Ek is seker dat ons almal dadelik sal sê:
      Ja!  Natuurlik is ek ‘n kind van God!

Maar, HOE het ons kinders van God GEWORD?
 Rom. 9 sê:
 Ons het kinders van God geword,
 omdat Hy ons uitverkies het!

Waarom het Hy ons UITVERKIES?
  Is dit dalk:
  omdat daar tog nog iets GOEDS na die sondeval in ons oorgebly het?
  Is dit omdat ons goed en mooi en reg lewe;
  of omdat ons ouers en familie gelowiges is?

Nee, geliefdes, in onsself het ons absoluut NIKS op grond waarvan God ons MOET kies om sy kinders te wees nie!
  Want ons het ALMAL GESONDIG!
  Ons het ALMAL deel aan die bankrot boedel van Adam!
  Ons moet ALMAL hel toe gaan!
 
WAAROM kies God DOODSKULDIGE mense dan uit om sy kinders te wees?
  Hierop antwoord Paulus,
 onder leiding van die Heilige Gees,
  dat God  ons uitverkies het,
 omdat Hy barmhartig en genadig is! 

Hier staan ons by die WONDER van God se GENADE wat GEEN mens ten volle kan VERSTAAN nie!
 Hier kan ons net BUIG en BELY:
 Here, ek VERSTAAN nie alles nie!
 Help my om te GLO!

Kom ons kyk wat die Heilige Gees ons van die uitverkiesing leer deur dit wat Paulus in Romeine 9 skryf.

Oor die REDE waarom God sommige mense UITVERKIES en ander NIE, is daar groot ONSEKERHEID by baie gelowiges!
 Ons is onseker, omdat ons op ‘n MENSLIKE manier oor die uitverkiesing REDENEER!
 Ons soek in ONSSELF na REDES waarom God net sommige mense uitverkies het.

So het die Jode in Paulus se tyd ook gedoen.
 Hulle het die SEKERHEID van hulle uitverkiesing in hulle NATUURLIKE afstamming van Abraham gesoek!
 Hulle het gesê:
 ONS is die NAGESLAG van Abraham!
 En omdat ons sy nageslag is,
 DAAROM is ons ALMAL uitverkies.
 Daarom sal ons ALMAL,
 en NET ONS
 gered word!

As jy dus wil weet of jy GERED is, moet jy na jou GESLAGSREGISTER gaan kyk!
 As jy jou GESLAGSREGISTER kan terugvoer tot by ABRAHAM,
 dan kan jy weet:
 Ek IS gered!
 Ek IS ‘n kind van God!
 Ek IS uitverkies!
 So het die Jode gesê.

Maar die saak is NIE so EENVOUDIG nie!
 Die GEHEIM van God se genadige uitverkiesing is NIE in ‘n mens se AFKOMS geleë nie!
 Hy vra NIE:
 Wie is jou pa en ma, jou oupa en ouma?
 VOOR Hy jou red nie! 

Daarom sê verse 6 en 7:
 Hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.
 Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is,
 is hulle almal kinders nie;
 maar:
 in Isak sal jou nageslag genoem word.
 Want kyk:
 Abraham het TWEE seuns gehad, nl. Ismael en Isak!
 Ismael was die OUDSTE en
 Isak die JONGSTE.
 Daarom moes Ismael eintlik Abraham se ERFGENAAM wees.

Maar ISAK is die erfgenaam!
 In ISAK word Abraham se nageslag en sy naam gebou.
 God gebruik nie MENSLIKE reëls wanneer Hy sy genade gee nie.
 Hy gee sy genade NIE aan Ismael,
 wat volgens MENSLIKE reëls die OUDSTE was nie.
 Maar Hy gee Sy genade aan Isak,
 omdat Hy dit aan hom BELOOF het!
 So gaan dit in die uitverkiesing NIE om die NATUURLIKE afkoms nie
 maar om God se BELOFTES!

Paulus gebruik ook Esau en Jakob se geskiedenis om te BEVESTIG
 dat God se uitverkiesende genade NIE deur jou AFKOMS bepaal word nie!
 By Esau en Jakob was ALLE uiterlike dinge PRESIES gelyk!
 Hulle het DIESELFDE pa en ma gehad.
 Hulle is selfs op DIESELFDE dag gebore.

Volgens die NATUURLIKE verloop van sake, moes die OUDSTE seun, Esau, dan die UITVERKORENE gewees het!
 En tog:
 Toe die kinders nog nie gebore was
 en nog geen goed of kwaad gedoen het nie ......
 is vir haar gesê:
 Die oudste sal die jongste dien.
 God maak ‘n ONDERSKEID tussen hulle,
 NIE omdat die EEN BETER was as die ANDER nie!
 Hy kies Jakob, die JONGSTE,
  BO Esau, die OUDSTE!
  Hy kies TEEN alle MENSLIKE gebruike en verwagtinge in!
 Hy kies SONDER dat ‘n MENS dit kan VERDIEN!

Met hierdie twee voorbeelde wys Paulus dat God NIE op ‘n MENSLIKE manier werk nie!
      Jou UITVERKIESING,
      jou REDDING,
      jou VRYSPRAAK is van BEGIN tot EINDE
      ‘n saak van GENADE!
      God is nie van mense AFHANKLIK nie!
      Hy BESLUIT en
      Hy SKENK uit vrye GENADE!
      GEEN mens kan daarop AANSPRAAK maak nie!

As ons dan SEKERHEID soek van ons UITVERKIESING,
 dan KAN ons dit NIE gaan soek in IETS wat ONS in ONSSELF het,
 of in IETS wat ONS GEDOEN het nie!

En tog, geliefdes, is ons geneig om die sekerheid van ons verlossing in uiterlike dinge te soek ~
  uiterlike dinge soos ons AFKOMS.  
  My OUERS is kinders van God!
  Hulle was BAIE betrokke in die kerk.
  Daarom kan EK SEKER wees dat ek gered is!
  Of, ek is ‘n lidmaat van die kerk.
  Ek gaan darem so af en toe kerk toe!
  Daarom kan ek seker wees dat ek verlos is van my sonde!

Maar so werk dit nie by God nie!
  Al hierdie uiterlike dinge, is STROOIHALMS waaraan ons probeer vashou.
  En niks daarvan gee aan ons sekerheid nie.
  God het jou NIE uitverkies
  omdat JYSELF
  of jou OUERS sulke goeie mense is nie!
  God het jou uitverkies,
  omdat Sy GENADE oor jou so GROOT is!

Maar, geliefdes, daar is ‘n 2de STROOIHALM waaraan die Jode vasgegryp het
 om te BEWYS dat HULLE en
 hulle ALLEEN die UITVERKORE volk van God is!
 Dit is KENNIS van God.
 Hulle het geglo:
 ONS is uitverkies want ons KEN God!
 Hy het Homself 1ste aan ONS openbaar.
 Ons het ‘n LANG lys PROFETE deur wie God NET met ONS gepraat het.
 Daarom,
 het die Jode gesê,
 MOET en SAL God ONS red!
 Die HEIDENE ken Hom NIE
 en daarom SAL hulle VERLORE gaan.

Maar Paulus BREEK ook hierdie strooihalm stukkend deur FARAO as voorbeeld te gebruik.
 Farao het God OOK geken!
 HOE?
 Deur die 10 PLAE waarmee Egipte getref is!
 Daardeur het God Homself BEKEND gemaak as die ENIGSTE ware God.
 Uit die 10 plae het Farao God se ALMAG leer ken.
 Farao kon NIE sê dat hy NIE van Hom GEWEET het nie.
 Maar Farao se KENNIS van God het hom NIE gered nie!
 In teendeel:
 hy is VERHARD sodat God hom aan sy verharding OORGEGEE het.

Is dit dan God se SKULD dat Farao VERHARD is en uiteindelik weens sy VERHARDING VERLORE gegaan het?
 Nee, geliefdes, VERHARDING tree NET in waar daar REEDS sonde is.
 SLEGS waar ‘n mens jou AANHOUDEND teen God VERSET,
 daar tree verharding in!

Farao is NIE ‘n ONSKULDIGE slagoffer wat teen WIL en DANK deur God VERHARD is nie.
 Farao is aan die verharding OORGEGEE
 omdat hy AANHOUDEND aan God ongehoorsaam was!
 DAAROM los God hom in sy SONDE en
 gee hom OOR aan die STRAF.

So bewys Paulus dat ‘n mens ook nie SEKERHEID van jou uitverkiesing en redding kan verkry deur BLOTE kennis van God nie.
 Ja, kennis is BELANGRIK!
 SONDER kennis van God kan jy Hom ook nie dien nie.
 Maar nou beteken dit NIE dat jy God SAL dien as jy Hom KEN nie!
 Jou kennis van God moet daartoe lei dat jy Hom GEHOORSAAM dien soos Hy in sy Woord beveel.
 Wanneer hierdie gehoorsaamheid NIE daar is nie,
 dan BAAT die KENNIS jou NIKS!

En tog, geliefdes, is daar nog BAIE mense wat op die KENNIS van God BOU.
 Die MEESTE mense in ons land SÊ dat hulle CHRISTENE is.
 Hulle weet Wie God is en Wie Jesus is.
 Maar hulle is nie GEHOORSAAM aan dit wat Hy in sy WOORD beveel!

En laat ons tog VERSIGTIG wees om NIE net na ANDER te kyk en ons aan ANDER mense te meet nie.
 Hoe lyk dit in ONS lewens?
 Ons sê ook dat ons God KEN!
 Maar, is dit in ons HELE lewe SIGBAAR?
 DOEN ons wat God in sy Woord BEVEEL?
 Is ons nie dalk net SONDAG-CHRISTENE
 terwyl ons deur die WEEK eintlik PRAKTISERENDE HEIDENE is nie?
 Is ONS nie GENEIG om aan STROOIHALMS vas te gryp om ONSSELF aan die slaap te sus nie?
 
Kennis van God is ONTSAGLIK belangrik!
 En ons kan NOOIT dink dat ons nou GENOEG kennis van Hom het nie!
 Maar dit mag NOOIT by KENNIS met die VERSTAND bly nie.
 Ons moet hierdie kennis GEBRUIK om Hom te DIEN.
 Ons moet DADERS van die WOORD wees ~
 daders wat die BEGINSELS van sy Woord KEN en
 dit elke dag UITLEEF.

Maar, geliefdes, Wat is dan wel die REDE waarom God mense uitverkies?
 Paulus sê in vers 16:
 So hang dit dan nie af van die een wat wil
 of van die een wat loop nie,
 maar van God wat barmhartig is!
 
Uitverkiesing, verlossing, vryspraak ~
 dit hang SLEGS van God af!
 NIKS wat ‘n mens DOEN of SÊ,
 kan Hom DWING om van jou sy kind te maak nie!
 Alleen God se WIL,
 Sy BESLUIT,
 dit is die bepalende faktor.
 Hy besluit SELF aan wie Hy BARMHARTIGHEID wil bewys,
 SONDER dat IEMAND Hom BEÏNVLOED!

Want ALLES en ALMAL behoort aan Hom!
      Hy het ALLEEN seggenskap oor ALLES!
      Paulus gebruik die beeld van ‘n POTTEBAKKER
      wat met sy klei kan maak wat hy WIL,
      SONDER dat die KLEI vir hom kan vra:
      WAAROM het u my SO gemaak?
      Die klei BEHOORT mos aan die POTTEBAKKER.
      En hy kan daarmee maak wat hy WIL!

So ook God, die GROOT Pottebakker!
 ALLES en ALMAL behoort aan Hom.
 En daarby verdien ALMAL sy OORDEEL as gevolg van ons SONDE.
 Maar God is BARMHARTIG!
 Hy bewys GENADE!
 Hy stel die straf UIT!
 Waarom?
 Omdat Hy dit BELOOF het!

Dit is die vaste SEKERHEID waarop ‘n MENS se uitverkiesing, en jou VERLOSSING gegrond is.
  Dit hang SLEGS van God se BARMHARTIGHEID af!
  Dit is net GENADE dat Hy mense,
  wat die dood VERDIEN,
  deur Christus vryspreek en
  hulle as sy kinders aanneem.

En nou kan ons vra:
  HOE kan ek WEET dat God sy genade aan MY bewys het?
  Hoe kan ek weet dat Hy my,
  SONDER dat ek dit VERDIEN,
  UITVERKIES het?
  GENADE is tog ONSIGBAAR!

Ja, geliefdes, God se genade IS onsigbaar.
 Maar die UITWERKING daarvan is NIE onsigbaar nie!
 Die UITWERKING van sy genade word SIGBAAR in jou lewe waar jy:
 GELOWIG op Sy WOORD reageer;
 waar jy uit DANKBAARHEID vir die GENADE wat jy ontvang het,
 gehoorsaam DOEN wat Hy jou beveel;
 waar jy elke dag die krag wat die Heilige Gees aan jou gee,
 gebruik om elke sonde wat jou weer van Hom af wil WEGSLEEP,
 uit jou lewe UIT te ROEI!
 So word God se GENADE in jou lewe SIGBAAR!
 So word dit vir JOUSELF en
 vir ander mense SIGBAAR
 dat God jou uit genade UITVERKIES het!
 So GROEI die SEKERHEID in jou HART
 dat jy waarlik ‘n KIND van God IS!

Dit is ‘n SEKERHEID wat NIE uit JOUSELF ~
 of op IETS wat JY SELF gedoen het,
 of op jou AFKOMS gebou word nie!
 Maar dit is ‘n SEKERHEID wat die Heilige Gees in jou hart werk,
 sodat jy kan weet:
 ALLES wat ek IS en
 ALLES wat ek HET en
 ALLES wat ek DOEN
 is NET GENADE van God!
  
Geliefde broeders en susters en kinders,
 Daar IS net EEN fondament waarop ons die sekerheid van ons uitverkiesing KAN bou!
 Dit is die fondament van God se BARMHARTIGHEID;
 die fondament van sy GENADE wat Hy in Christus aan ons BEWYS het.
 Hierdie fondament laat jou voor God BUIG met nederige DANKBAARHEID!
 Dit spoor jou aan om elke dag AL die krag te gebruik
 wat die Heilige Gees aan jou gee,
 om tot in die KLEINSTE besonderhede aan God GEHOORSAAM te wees! 

Bou jy ook op hierdie FONDAMENT van God se barmhartigheid?

Amen.

Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment