Hoofgedagtes:
1. Een mens bring sonde oor almal.
2. Een Mens bring verlossing vir baie.Geliefde broeders en susters en kinders,
ALLE mense is SONDAARS ~ so leer die Here ons in sy Woord.
Maar, WANNEER het ons sondaars geword?
Is ons SONDER sonde gebore,
sodat ons eers LATER in ons lewens met sonde besmet geraak het?
Artikel 14 het ons geleer dat God die mens GOED en na Sy BEELD geskep het.
Dit beteken dat Hy nie ‘n FOUT gemaak het toe Hy Adam en Eva geskep het nie.
Hulle was VOLMAAK
sodat hulle ALLES kon doen wat God van hulle verwag.
Hulle kon VOLMAAK aan Hom gehoorsaam wees.
Maar Adam en Eva het SELF besluit om na die duiwel te luister.
So het hulle met sonde BESMET geraak,
sodat hulle NIE meer alles kon doen wat God verwag nie.
En die GEVOLGE van hulle sonde, is SKRIKWEKKEND!
Adam en Eva het ‘n boedel nagelaat wat TOTAAL bankrot is.
Hulle NAGESLAG erf hierdie BANKROT boedel.
Ons noem dit:
die ERFSONDE!
Daarop vestig artikel 15 ons aandag.
ALLE mense ERF die SONDESMET uit Adam en Eva se bankrot boedel!
Daarom is ALLE mense DOODSKULDIG voor God!
In Romeine 5 wys die Here ons deur die apostel Paulus op hierdie verskriklike GEVOLGE van Adam en Eva se sonde,
maar ook op God se GENADE.
Ons kan die hoofgedagte van ons teks so stel:
EEN sondig vir ALMAL en
EEN bring VERLOSSING vir BAIE!
Kom ons soek nou antwoorde op die volgende 2 vrae:
1. WAAR kom sonde vandaan en HOE raak dit ONS?
2. HOE kan die sonde van ons af WEGGENEEM word?
Ons teks, en trouens die hele Bybel, ken net een antwoord op die vraag:
WAAR kom die sonde vandaan en
HOE dit ons raak?
Luister:
Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom
en deur die sonde die dood,
en so het die dood tot alle mense deurgedring,
omdat almal gesondig het!
Hierdie EEN mens deur wie die sonde in die wêreld ingekom het, is Adam!
Hy is die HOOF van ALLE mense.
Dit beteken dat ALLE mense hulle OORSPRONG by hom het.
Deur Adam het ALLE mense SONDAARS geword!
Ons het VOOR ons GEBOORTE reeds die SONDE uit Adam se bankrot boedel geërf!
Dawid BELY in Psalm 51:7 ~
Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore,
en in sonde het my moeder my ontvang!
En Job vra in hoofstuk 14:4 ~
Wie kan rein uit onrein laat voortkom?
En hy antwoord: Niemand nie!
U sien, geliefdes, ons word nie SONDER sonde gebore,
sodat ons eers LATER sondaars WORD
wanneer ons met sonde in AANRAKING kom nie!
Sedert die SONDEVAL,
erf ALLE mense reeds VOOR geboorte,
die SONDE uit Adam se bankrot boedel.
Adam en Eva se sonde, het ‘n verskriklike VERWOESTENDE uitwerking op hulle HELE nageslag.
Dit het direk na die sondeval duidelik geword toe Kaïn sy broer Abel doodslaan.
Van daar af het die sonde so geweldig toegeneem,
dat God besluit het om die aarde deur die SONDVLOED skoon te maak.
Maar AL die water van die sondvloed,
kon hierdie BANKROT erfenis van sonde NIE uit die HARTE van Noag en sy kinders WEGWAS nie!
Van hulle af het die sonde weer versprei.
Hulle het dit wat hulle van Adam geërf het, op hulle NAGESLAG oorgedra.
Kom ons verduidelik dit met die beeld van ‘n boom.
‘n Boom het WORTELS wat die LEWENSARE van die hele boom is.
Al die takke en blare kan net groei omdat hulle lewenssap uit die WORTELS kry.
As die WORTELS van die boom GIF opneem,
word dit deur die HELE boom versprei.
AL die TAKKE en BLARE en VRUGTE ~
ja die HELE boom, word beïnvloed deur die GIF wat die WORTELS opgeneem het.
So is dit met ons almal!
Adam en Eva is die WORTELS van die hele menslike geslag.
En hulle, die WORTELS, het die GIF van sonde ingekry.
Deur hulle VERSPREI die sondegif na ALLE mense!
Nou is ons ALMAL vol sonde!
En die GEVOLG van die sonde, is die DOOD ~
die EWIGE dood ~
die HEL!
ALMAL wat SONDIG is,
VERDIEN die EWIGE dood.
Sonde en ewige dood is ‘n EENHEID.
Dit is die droewige erfenis uit Adam se bankrot boedel!
Maar, geliefdes, nou kan ons ook nie sê dat ons die ONSKULDIGE slagoffers van Adam se sonde is nie!
Want ons VERSPREI die sonde nog verder!
In plaas daarvan dat ons dit BEVEG,
neem ons daaraan deel.
In plaas daarvan dat ons sonde uit ons lewe VERBAN,
maak ons daarmee VREDE.
Daarom staan ons ALMAL as DOODSKULDIGES voor God se regterstoel!
Ons EIE gewete KLA ons aan.
Ons maak die SKULD elke dag nog MEER.
Gaan meet jouself maar aan die 10 Gebooie.
Gaan ondersoek jou HART en jou gedagtes in die lig van God se Wet.
Jou hele lewe skreeu dit as’t ware uit:
SKULDIG!
DOODSKULDIG!
Maar, geliefdes, is daar dan GEEN manier waarop die skuld WEGGENEEM en UITGEWIS kan word nie?
Gaan ALLE mense dan ONHERROEPLIK in die HEL beland?
Nee!
Daar is HOOP!
Daar IS verlossing in en deur Jesus Christus!
God VERANDER uit genade hierdie BANKROT erfenis van Adam en Eva!
Hy laat sy EIE Seun MENS word om VOLMAAK gehoorsaam te wees in ONS plek!
Ons teks sê:
Daarom dan,
net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het,
so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe!
Adam was die VERTEENWOORDIGER van ALLE mense!
Hy was die VERBONDSHOOF.
Maar hy het alle mense deur EEN daad van ongehoorsaamheid met die GIF van sonde BESMET ~
so erg dat God weer ‘n NUWE begin gemaak het.
Hy gee ‘n ANDER Verbondshoof, nl. Christus!
En hierdie Hoof van die NUWE verbond, het totaal ANDERS opgetree!
Hy was VOLMAAK gehoorsaam!
Daarom het Sy werk veel MEER betekenis as dit wat Adam gedoen het!
Hy bring God se GENADE na ons toe.
En hierdie genade BEDEK baie MEER as net die EEN sonde van Adam.
Christus bring VRYSPRAAK vir BAIE skuldige mense.
Hy bring BEVRYDING van die STRAF op die sonde.
Hy bring WARE lewe,
die ewige LEWE in die plek van die ewige DOOD!
Maar, geliefdes, kan ons nou RUSTIG lewe en van die ewige DOOD VERGEET?
Word ALLE mense deur Christus VERLOS,
sodat NIEMAND die ewige DOOD sal erf nie?
Ons teks sê dan dat een daad van geregtigheid
vir alle mense (lei) tot regverdigmaking van die lewe!
Nee, ons kan NIE sê dat ALLE mense weer in Christus VERLOS is nie!
Vers 15 sê dat die GENADE van Christus nie aan ALMAL nie,
maar vir baie oorvloedig geword het.
En vers 17 sê WIE die baie is wat deur die EEN daad van Christus VRYGESPREEK word:
Dit is die wat oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang.
Dit beteken dat die VRYSPRAAK en die ewige lewe NIE aan ALLE mense geskenk word nie!
Die pad na VERLOSSING en die ewige lewe, is vir ALLE mense DIESELFDE!
ALLE mense kan SLEGS deur GELOOF in Christus verlos word!
ELKEEN wat in Christus GLO,
sal nie VERLORE gaan nie,
maar die ewige lewe hê (Joh. 3:16).
So, geliefdes, VERANDER God self die BANKROT erfenis wat ons van Adam geërf het!
Ons ontvang ‘n NUWE erfenis van ewige LEWE deur GELOOF in Jesus Christus!
Maar nou moet ons VERSIGTIG wees!
Die erfenis wat ons deur geloof in Christus ontvang het,
beteken NIE dat ons kan lewe soos ons WIL nie!
Ons moet nou met ons lewe wys dat ons NIE meer deel het aan die BANKROT boedel van Adam nie!
Wie TEVREDE is met die bankrot boedel van Adam,
maak sy SKULD elke dag MEER en MEER deur AANHOUDENDE ongehoorsaamheid.
Maar elkeen wat uit genade deur die geloof deel het aan die boedel van Christus, VEG teen sy SONDE!
Jy is NIE tevrede om erfgenaam van die bankrot boedel te wees nie.
Daarom span jy jou krag in om,
in NAVOLGING van Christus,
in alles aan God GEHOORSAAM te wees.
Jy GEBRUIK die krag van die Heilige Gees wat Christus aan jou gegee het,
om met jou sonde te BREEK
en net dit te DOEN wat God van jou verwag.
Jy STRY teen ELKE sondige begeerte in jou.
So word dit in jou lewe SIGBAAR dat jy ‘n ERFGENAAM van ‘n NUWE boedel,
Christus se boedel,
die ewige LEWE is!
Daarom, geliefdes, is jy TEVREDE met die BANKROT boedel van Adam?
Dan moet jy weet:
dit loop vir SEKER op die ewige DOOD uit!
Maar, is jy ONTEVREDE met die bankrot boedel?
Gryp dan deur die genade van die Heilige Gees aan Christus vas!
GLO in Hom,
want deur in Hom te GLO,
maak Hy van jou ‘n ERFGENAAM van Sy boedel,
die ewige LEWE!
LEWE dan in GEHOORSAAMHEID aan God se Woord.
STRY teen ELKE sonde waardeur jy aan die bankrot boedel van Adam verbind word!
Amen.
Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment