Hoofgedagtes:
1. Hoe God ons geskep het.
2. Hoe ons onsself verander het.
3. Hoe God ons herskep het.Geliefde broeders en susters en kinders,
Ons kan die kerngedagte van art. 14 van die NGB so stel:
Deur die sondeval, is die beeld van God in ons VERBREEK,
maar Hy HERSTEL dit uit GENADE.
So lei art. 14 ons om na ONSSELF te kyk in die SPIEËL van God se Woord.
Dit is nie ‘n MOOI spieëlbeeld wat ons in art 14 sien nie!
So ‘n getuigskrif sal ons nie van onsself skryf nie!
Kom ons kyk na hierdie spieëlbeeld! Ons kyk:
1. Hoe God ons GESKAPE het.
2. Hoe ons ONSSELF verander het en
3. Hoe God ons HERSKEP het.
Die skepping van die MENS, geliefdes, is die HOOGTEPUNT van God se skeppingswerk.
Gedurende die eerste 6 dae het Hy ALLES gereed gemaak.
En toe volg die HOOGTEPUNT ~
En God het die mens geskape na sy beeld;
na die beeld van God het Hy hom geskape
Wat beteken hierdie BEELD van God?
Dit beteken NIE:
Dat jy UITERLIK soos Hy lyk nie;
Dat jy na jouself in ‘n spieël kan kyk en dan sê:
SO lyk God, nie!
Die beeld van God bestaan uit GEESTELIKE gawes wat Hy aan die mens gegee het.
Daar is die gawe van die REGTE KENNIS van God.
Adam en Eva het PRESIES geweet wat die Here van hulle VERWAG.
Hulle het geweet wat Sy WIL vir hulle lewe is.
Daarby was die gawe van REGVERDIGHEID.
Adam en Eva kon 100% REG optree.
Hulle kon ALLES wat God van hulle verwag, VOLMAAK doen.
En hulle was volkome HEILIG!
Adam en Eva was AFGESONDER om die Here ALLEEN te dien.
En hulle was VOLMAAK ~
daar was GEEN sonde in hulle nie!
Hulle het nie daaraan GEDINK om aan God ongehoorsaam te wees nie.
Daarom het die Here na die 6de skeppingsdag, as’t ware eers TERUGGESTAAN en Sy skeppingswerk BEOORDEEL!
Hy het as’t ware gekyk of daar nie FOUTE in Sy skepping is nie.
En daar was GEEN foute nie!
Gen. 1:31 sê wat die UITSLAG van God se ONDERSOEK was:
Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—
dit was baie goed!
Die Here sê SELF dat Sy HELE skepping, BAIE goed is!
Dit beteken:
ALLES was 100% REG, soos Hy dit wil hê.
ALLES was absoluut VOLMAAK.
Dit het Adam en Eva INGESLUIT!
God het hulle VOLMAAK geskep.
In hulle was GEEN swakheid of gebrek nie.
Hulle het 100% aan God se vereistes beantwoord ~
hulle kon ALLES doen wat Hy wil hê.
Wat sê dit vir ONS, geliefdes?
ONS is dan nie VOLMAAK nie!
En ons kan probeer soos ons wil,
maar ons sal in hierdie lewe NOOIT volmaak wees nie!
Ons sal in hierdie lewe ALTYD foute maak!
Dat God vir Adam en Eva VOLMAAK geskep het, sê vir ons:
Hy het NIE ‘n FOUT gemaak toe Hy hulle geskep het nie!
ONS swakhede en sonde is NIE God se SKULD nie.
Ons kan en durf nie sê dat Hy daarvoor verantwoordelik is
dat ONS vandag NIE meer VOLMAAK is nie!
Nou WIE is dan daarvoor verantwoordelik?
Hier wys die spieël van God se Woord vir ons iets wat ons nie graag WIL sien nie ~
iets wat ons NIE wil ERKEN nie!
ONS is SELF verantwoordelik vir ons EIE swakhede en sonde!
ONS het ONSSELF verander!
ONS het SELF die spieëlbeeld van God in ons GEBREEK!
Hoe het dit gebeur?
Gen. 3 vertel vir ons daarvan.
Die DUIWEL het vir Adam en Eva VERLEI om ONGEHOORSAAM te wees!
Hulle, wat God se wil VOLMAAK geken het;
hulle wat VOLMAAK aan Hom gehoorsaam KON wees ~
hulle het na die DUIWEL geluister!
O, hoe ONVERSTAANBAAR is die sondeval!
Die kans om ongehoorsaam te wees, was so KLEIN!
Net EEN boom waarvan hulle NIE mag eet nie.
Daar was soveel ANDER bome met HEERLIKE vrugte waarvan hulle mag eet,
soveel as hulle wil.
Maar hulle BEGEER die vrugte van die VERBODE boom!
Ons sou dit nog kon verstaan as daar ‘n GEBREK aan ander bome met heerlike vrugte was!
Maar daar was GEEN gebrek nie!
ALLES was VOLMAAK en OORVLOEDIG!
Adam en Eva LUISTER na die DUIWEL!
Hulle EET van die EEN enkele VERBODE boom!
Hulle is ONGEHOORSAAM aan God!
Nou WIE se skuld is dit?
Dit kan NIE God se skuld wees nie!
Hy het vir hulle MEER as GENOEG gegee.
Daarby het Hy hulle VOLMAAK geskep
sodat hulle KON doen wat Hy sê.
Hulle KON “NEE” sê vir die duiwel.
Is dit die DUIWEL se skuld?
Ja, hy is SKULDIG ~
daarom STRAF die Here hom ook!
Maar beteken dit dan dat Adam en Eva ONSKULDIG is?
Nee, geliefdes, hulle is NIE onskuldig nie!
Hulle is 100% SKULDIG.
Hulle het SELF besluit om na die duiwel te LUISTER,
ten spyte daarvan dat hulle GEWEET het wat REG is!
Daarom STRAF die Here hulle ook.
Hulle dra die VOLLE VERANTWOORDELIKHEID vir hulle sonde.
En die GEVOLGE van Adam en Eva se sonde, is VERSKRIKLIK!
Hulle het die beeld van God in hulle, GEBREEK.
Nou kan hulle God se wil NIE meer VOLMAAK ken nie!
Hulle kan nie meer VOLMAAK tussen WAARHEID en LEUEN onderskei nie.
Ook die volmaakte REGVERDIGHEID is verander!
Voortaan sal KORRUPSIE en ONREG deel wees van hulle daaglikse bestaan.
Hulle sal nie meer ALLES kan doen wat die Here wil hê nie.
Ook die volmaakte HEILIGHEID is ook daarmee heen!
Hulle is met sonde BESMET en BEVLEK.
Die DOODSREUK van die HEL klou aan hulle vas.
En nou dra hulle hierdie DOODSREUK van die HEL oor op hulle KINDERS!
ALLE mense word gebore met ‘n VERDUISTERDE verstand
en ‘n HART vol VYANDSKAP.
Daarom getuig Paulus in Rom. 3:10 – 18 o.a.:
Daar is niemand regverdig nie,
selfs nie een nie.
Daar is niemand wat verstandig is nie,
daar is niemand wat God soek nie.
So lyk ons ALMAL, geliefdes, ~ gelowiges EN ongelowiges!
Só SIEN ons dit in hierdie wêreld ~
só BELEEF ons dit!
Die sonde GROEI en VERSPREI en word elke dag net MEER en MEER.
Uit ONSSELF,
uit ons EIE krag KAN ons nie OPHOU sondig nie.
Uit ons EIE krag KAN ons nie DOEN wat God wil hê nie.
Uit ons EIE krag WIL ons ook nie aan Hom alleen gehoorsaam wees nie.
Ja, die BEELD van God in die mens, is GEBREEK!
En die ergste van alles ~
ons WIL dit nie ERKEN nie!
Ons WIL nie self VERANTWOORDELIKHEID vir ons sonde aanvaar nie.
Ons hou aan om iemand ANDERS in die beskuldigde bank te plaas.
En ons HUIWER nie om selfs vir God verantwoordelik te hou nie!
Maar ons moet besef:
God het ons VOLMAAK geskep ~
ons kan Hom NIE verantwoordelik hou vir ons sonde nie!
Ons kan ook nie die skuld NET op die DUIWEL pak nie.
ONS is SELF verantwoordelik!
ONS het SELF die beeld van God in ons GEBREEK!
Ons VERDIEN die EWIGE dood ~
die HELSE straf!
En nou is die belangrike vraag:
KAN die beeld van God in ons HERSTEL word?
JA, geliefdes!
Maar dan moet God dit SELF doen!
Luister na die GENADEBOODSKAP van Ef. 5:1 – 2:
Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;
en wandel in liefde,
soos Christus ons ook liefgehad het
en Hom vir ons oorgegee het
as ‘n gawe en offer aan God
tot ‘n lieflike geur.
God herstel SELF Sy beeld in ons ~ die beeld wat ONS gebreek het!
Hy stuur sy eniggebore Seun om die VERSKRIKLIKE straf op ONS sonde te dra.
Oor Christus breek die PYN en ANGS van die HEL los.
Hy ROEP in BENOUDHEID aan die kruis:
My God, My God, waarom het U My verlaat?
Hy STERF en word BEGRAWE!
Maar hy het ook uit die dood OPGESTAAN!
Hy het die VOLLE losprys vir ONS betaal.
En Hy het die Heilige Gees gestuur om aan ons NUWE harte en ‘n NUWE lewe te gee.
Hy plant GELOOF in ons harte.
En deur die geloof word ons VERANDER in geliefde KINDERS van God!
So HERSTEL Hy sy BEELD in ons.
Onder LEIDING van die Heilige Gees KAN ons nou ONDERSKEI wat Sy WIL vir ons lewe is!
Ons KAN Hom uit sy Woord leer KEN.
Ons KAN reg optree soos Hy van ons VERWAG.
Ons KAN heilig lewe.
Daarvoor gee Hy vir ons die riglyne in sy Woord.
In Ef. 4:17 – 5:5 leer die Here ons hoe ons,
deur die KRAG en GENADE van die Heilige Gees,
die DOODSREUK van die SONDE kan WEERSTAAN.
Die Heilige Gees leer ons WAT ons moet DOEN
sodat die BEELD van God wat deur Christus HERSTEL is,
al DUIDELIKER in ons lewe SIGBAAR word.
Geliefdes, ons het in die SPIEËL van God se Woord gekyk.
Ons het gesien HOE Hy ons na sy BEELD geskep het.
Ons het gesien hoe ONS die BEELD in ons GEBREEK het.
Maar ons kon ook sien hoe Hy uit genade, ter wille van Christus hierdie beeld weer HERSTEL het.
Nou moet elkeen van ons na ons lewe gaan kyk,
want in ons lewe moet die beeld van God SIGBAAR word in ons GEHOORSAAMHEID aan sy Woord!
Daarom moet ELKEEN van ons die volgende vraag eerlik beantwoord:
Word die BEELD van God in MY lewe al hoe DUIDELIKER sigbaar?
Amen.
Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment