'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Monday, 02 May 2011

Matt. 24:32 – 35: Kyk hoe bot die vyeboom!

Lees:  Matt. 24:1 – 13 en 32 – 35

Hoofgedagtes:
1. Wat sê die bottende vyeboom?
2. Hoe lyk sy botsels?
3. Hoe moet ons daarop reageer?

Geliefde brs en srs en kinders

Die aarbewing in die stad Christchurch in Nieu Seeland lok WÊRELDWYE reaksie uit.
      Van heinde en ver stroom boodskappe van SIMPATIE en MEELEWING in.
      Van heinde en ver stroom ook aanbiedings van HULP in.
      Maar dit is nie net in Nieu Seeland waar ‘n groot natuurramp duisende mense se lewens beïnvloed nie.
      Australië het die afgelope tyd deurgeloop onder groot oorstromings.
      Ook in ons land was daar oorstromings op verskeie plekke.
      VALS profete GRYP hierdie dinge aan en verkondig dat die wederkoms van Jesus en die oordeelsdag BAIE naby is!
      Hulle gee selfs ‘n DATUM wanneer Jesus weer sal kom!
      Só probeer hulle om mense deur VREES te beweeg om in Christus te glo.

Dit laat ‘n mens vra:
 Hoe moet ons hierdie dinge beoordeel?
 Moet ons dit NET aan die NATUUR en NATUURKRAGTE toeskryf?
 Of het God iets met hierdie rampe te doen?
 Wat sê hierdie dinge vir ons van Jesus se wederkoms?

Ja, geliefdes, God het ALLES met hierdie rampe te doen!
  Ook hierdie rampe is deel van die dinge wat moet plaasvind,
  soos Jesus in vers 6 gesê het.
  Dit is deel van die TEKENS wat Hy self gegee het ~
  tekens wat sy wederkoms VOORAF gaan.

Hierdie natuurrampe op verskillende plekke (vers 7) sê vir ons:
  KYK na die BOTSELS van die VYEBOOM!
  Jesus Christus is vir seker op pad!

Kom ons ondersoek die voorbeeld van die vyeboom.
1.    Wat sê die botsels van die vyeboom?
2.    Hoe lyk sy botsels?
3.    Hoe moet ons daarop reageer?

Terwyl Jesus en sy dissipels van die tempel af weggaan, het hulle die pragtige tempelgeboue vir Hom gewys.
 Die tempel in Jerusalem, was inderdaad ‘n baie MOOI gebou.
  Eintlik was Jerusalem en die tempel, die HELE wêreld vir die Jode!
 Alles het vir hulle om Jerusalem en die pragtige tempel gedraai.
 Dit was ELKE Jood se TROTS! 

Maar nou het Jesus sy dissipels tot in hulle diepste wese GESKOK met sy aankondiging!
 Voorwaar Ek sê vir julle,
 daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word,
 wat nie afgebreek sal word nie
 Vir die Jode, en ook vir die dissipels, was die verwoesting van Jerusalem en die tempel,
 die EINDE van die wêreld!
 Daarom vra hulle 2 vrae:
 Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees,
 en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?

In sy antwoord onderskei Jesus nie DUIDELIK tussen die twee vrae nie.
 Hy gee nie 2 verskillende groepe tekens nie ~
 een wat sal gebeur voor die verwoesting van Jerusalem en die tempel,
 en ‘n ander wat sy wederkoms vooraf gaan nie.
 Daaruit kan ons die volgende aflei:
 dit wat voor die verwoesting van Jerusalem en die tempel gebeur het,
 is ‘n VOORBEELD van die dinge wat kort voor die wederkoms sal gebeur. 

Jesus gee nie hierdie tekens sodat ons dit kan gebruik om PRESIES te bereken WANNEER Hy weer sal kom nie.
 Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie,
 ook die engele van die hemele nie,
 maar net my Vader alleen. (vers 36).

Maar nou moet ons tog GEREED maak vir die dag wanneer Hy weer sal kom!
  Ons moet REG wees om SAAM met Hom te gaan.
  As ons nie weet WANNEER Hy kom nie, hoe kan ons dan gereedmaak?

Daarom gee Jesus vir ons die voorbeeld van die vyeboom.
 Wanneer ‘n vyeboom, en eintlik al die vrugtebome, in die lente begin bot en blare kry, dan weet ons:
 die SOMER is NABY!
 Een van die dae sal dit weer SOMER wees,
 al kan ons nie PRESIES sê op WATTER dag die somer nou werklik aanbreek nie.
 Die botsels aan die bome verseker ons egter:
 Kyk, die somer is BESLIS naby!
 Niks kan dit keer nie!

Netso sê Jesus:
 as ons die tekens wat Hy gee, kan SIEN,
 dan moet ons weet:
 Sy wederkoms is BESLIS naby!
 Hy is inderdaad reeds op pad,
 en NIKS en NIEMAND sal dit keer nie!
 Die tekens wat Hy gee, is soos die BOTSELS van die vyeboom.

Kom ons kyk nou:
 HOE lyk die BOTSELS van die vyeboom?
 Watter tekens het Jesus gegee,
 wat vir SEKER vir ons sê:
 Hy is op pad?

Van vers 4 af gee Hy ‘n hele aantal tekens wat sy wederkoms VOORAF sal gaan.
 Dit is dinge wat MOET en SAL gebeur
 VOOR Hy op die wolke van die hemel verskyn.

En dan praat Hy van dinge soos:
 Misleiding (vers 4) ~
 dit beteken dat mense jou so deurmekaar sal maak,
 sodat jy dinge begin glo wat NIE met die Bybel ooreenstem nie.
 Vals Christusse (vers 5) ~
 dit is mense wat voorgee dat HULLE deur God gestuur is.
 Oorloë en gerugte van oorloë (vers 6).
 Dan ook:
 hongersnood en aardbewings (vers 7).
 Haat van die nasies teen Christene (vers 9).
 Afvalligheid van die geloof (vers 10).
 Vals profete (vers 11).

Dit, geliefdes, is die BOTSELS van die vyeboom!
 Nou moet ons nie dink dat hierdie dinge vir die EERSTE keer kort voor Jesus se wederkoms sal gebeur nie!
 Hierdie dinge gebeur sedert sy hemelvaart op aarde!
 Na sy hemelvaart was daar al BAIE mense wat gelowiges MISLEI het.
 Daar was ook al baie vals Christusse;
 en baie OORLOË en gerugte daarvan;
 netso ook BAIE hongersnode en BAIE aardbewings!

Want Jesus het NIE gesê:
      As julle hierdie dinge sien gebeur, moet julle weet:
      Dit is NOU die EINDE;
      Of: as julle hierdie dinge sien gebeur, moet julle weet:
       Ek kom ONMIDDELLIK nie!
      Hy het juis in vers 6 gewaarsku:
      Pas op, moenie verskrik word nie,
      want alles moet plaasvind,
      maar dit is nog nie die einde nie!
      En in vers 8 sê Hy:
      Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.
      Of soos die ’83
      Al hierdie dinge is geboortepyne,
      die begin van die nuwe tyd.

Daarom kon Hy in vers 34 ook sê:
 Voorwaar Ek sê vir julle,
 hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.
 Daarmee het Jesus NIE belowe dat Hy weer sal kom VOOR sy dissipels sterf nie!
 Hy het nie gesê dat al die dinge AFGEHANDEL sal wees voor daardie geslag se dood nie!

Kom ons kyk met hierdie BRIL na die wêreld waarin ons leef.
  Ons kyk na die BOTSELS van die vyeboom!
  Ons kyk op God se horlosie!

Wat sien ons?
  Ons sien MISLEIDING!
  Ons sien VERVALSING en VERDRAAIING van die Bybel!
  Daarom is daar so baie VERSKILLENDE kerke en sektes.
  Die Bybel word OPENLIK verdraai.
  So is daar bv. mense wat sê:
  God het NIKS met natuurrampe te doen nie.
  Hy is dan ‘n God van liefde wat NOOIT sulke verskriklike rampe oor mense sal laat kom nie.
  Daar is ander wat sê:
  God is NIE in beheer van die natuur nie!
  Daarom is natuurrampe blote natuurverskynsels.
  Dit is die natuurkragte wat aan die werk is.

As ons met die bril van die Bybel na die wêreld kyk, sien ons ook OORLOë en GERUGTE van oorloë.
 Dit lyk of die hele wêreld aan die brand is.
 Oral slaan die vure van oorlog en vyandigheid en opstande uit.
 Miljoene mense sterf in hierdie opstande.
 Daarby hoor ons byna daagliks van AARDBEWINGS!
 Ons sien ook LIEFDELOOSHEID wat oral rondom ons opvlam!
 Mense gee nie meer vir mekaar om nie.
 Mense wil nie by mekaar betrokke raak nie.
 Elkeen lewe net vir HOMSELF.

Waarlik, ons sien die botsels van die vyeboom,
 die tekens van Jesus se koms al hoe DUIDELIKER!
 En ons moet dit goed verstaan, geliefdes.
 Dit is NIE die 1ste keer dat mense mislei word deur verdraaiing van die Bybel nie.
 Dit is ook nie die 1ste keer dat donker oorlogswolke oor die wêreld hang nie.
 So is aardbewings en liefdeloosheid ook nie vir die 1ste keer in die wêreld sigbaar nie.

Al hierdie dinge kom reeds sedert die SONDEVAL in die wêreld voor!
 Maar dit word al hoe MEER!
 Die BOTSELS van die vyeboom word al hoe DUIDELIKER!
 Ons kan nie ons oë TOEDRUK en maak of ons dit nie raaksien nie!

Maar nou is die vraag ook:
 Hoe moet ons daarop reageer
 Wat moet ons doen?

Jesus het in vers 6 gesê:
 Pas op, moenie verskrik word nie!
 Ons moenie BANG word wanneer ons hierdie dinge sien nie.
 Moenie begin TWYFEL aan God se almagtige bestuur en beheer van sake nie.
 Moenie toelaat dat mense jou MISLEI nie.
 God is ALMAGTIG ~
 NIKS is vir Hom onmoontlik nie!

Al die verskriklike dinge wat Jesus gesê het, is deel van God se OORDEEL oor ‘n sondige wêreld!
 Dit is deel van sy oordeel oor ‘n wêreld wat die RUG op Hom gedraai het.
 Het u opgemerk hoe MIN van die mense wat die aardbewing en oorstromings oorleef het,
 het aan God die eer gegee!
 Daar is maar ‘n PAAR mense wat gesê het:
 die Here het ons BEWAAR!
 Die MEESTE sê:
 Ons was net GELUKKIG!

Ook met hierdie rampe, roep die Here ons op om van die vyeboom te leer!
 As die vyeboom bot, WEET ons die somer KOM!
 En so moet ons uit die rampe in die wêreld leer:
 Ons Here Jesus kom!
 NIEMAND weet presies WANNEER Hy weer kom nie.
 Om die die dag en datum te probeer BEREKEN,
 is DWAASHEID en ONGEHOORSAAMHEID.
 Dit is ‘n teken van WANTROUE in die Here!
 Ons Here Jesus het SELF gesê dat NET die Vader die dag en datum ken!

Daarom, geliefdes, moenie BANG wees nie!
 Maak jou met vreugde GEREED om jou Koning en Verlosser te ontvang.
 Volhard in die geloof, want Hy het in vers 13 belowe:
 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

Lê jou daarop toe om Sy Woord te BETER te ken, sodat jy met HIERDIE bril ~
 die bril van die Bybel ~
 na die wêreld om jou te kyk.
 Dan sal jy kan SIEN hoe die vyeboom bot!
 Dan sal jy jou met VREUGDE gereed kan maak om Christus te ontmoet!
 Dan sal jy werklik kan bid:
 Kom, Here Jesus!
 Ja kom gou!

Amen.

Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment