'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Thursday, 05 May 2011

Gen. 3:8, 9, 15: God soek sondaars uit genade op.

Lees: Genesis 3;  Nederlandse Geloofs Belydenis (NGB) artikel 17

Hoofgedagtes:
1. Waarom vlug Adam en Eva?
2. Hoe soek God sondaars?
3. Waarom soek Hy sondaars?

Geliefde broeders en susters en kinders,

God het die mens GOED en na Sy Beeld geskep ~ so  lees ons in Genesis 1.
      Daarom kom Genesis 3 as ‘n SKOK!
      Die hoofstuk begin met die woordjie maar!
      Dit wys op ‘n groot TEENSTELLING.
      Hier word van ‘n GEWELDIGE verandering gepraat ~
      ‘n verandering wat ALLE mense drasties sal beïnvloed.
      ‘n Verandering wat ons kan beskryf as:
      OORPLASING uit die LEWE in die DOOD in!

Die SONDEVAL is die DONKERSTE oomblik in die mens se lewe en in die HELE skepping van God!
  Die volmaakte mens kies TEEN God ~
 TEEN die LEWE!
  Hy kies VIR die DUIWEL ~
 VIR die DOOD!

Wat doen God in hierdie DONKER oomblik?
  Sy optrede, is ‘n totale VERRASSING!
  Hy laat die mens NIE gaan nie!
  Maar Hy soek die mens,
  wat VRYWILLIG teen Hom gekies het,
  uit GENADE weer op en
  BELOWE om hom te VERLOS!

Kom ons soek antwoorde op die volgende 3 vrae:
1.    Waarom VLUG Adam en Eva?
2.    HOE soek God hulle weer op?
3.    WAAROM soek Hy na hulle?

Ons het gesê, geliefdes, dat God die mens VOLMAAK na Sy beeld geskep het.
  Dit beteken dat Adam en Eva Hom volmaak GEKEN het!
  Nou waarom VLUG hulle dan vir God?

Die antwoord op hierdie vraag moet ons by Adam en Eva self gaan soek.
 Hulle is nie ONSKULDIGE slagoffers wat deur die duiwel  VERLEI is nie.
 Natuurlik het die duiwel hulle VERLEI!
 Hy het die VERBOD om van die boom in die MIDDEL van die tuin te eet,
  voorgestel asof dit TE STRENG is ~
  asof God TE VEEL van Adam en Eva verwag!

Daardeur het hy die saad van TWYFEL in Eva se hart geplant, sodat sy die Here nie meer ten VOLLE vertrou nie!
 Dit word duidelik uit haar antwoord aan die duiwel.
 God het gesê:
 Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,
 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad,
 daarvan mag jy nie eet nie;
 want die dag as jy daarvan eet,
 sal jy sekerlik sterwe. (2:17).
 Maar Eva sê: God het gesê:
 Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,
 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is,
 het God gesê:
 Julle mag daarvan nie eet nie
 en dit nie aanroer nie,
 anders sal julle sterwe. (3:3).
 Eva las ‘n stertjie BY God se woorde!

Dit was vir die duiwel die teken dat sy twyfelsaad GEGROEI het!
 Nou maak hy die sonde nog meer AANTREKLIK!
 God weet dat as julle daarvan eet,
 julle oë sal oopgaan,
 sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken!
 Dit beteken dat Adam en Eva GELYK sal wees aan God!

Eva is OORTUIG!
 Sy wil nie net BEELDDRAER van God wees nie.
 Sy wil God se GELYKE wees!
 En toe het sy SELF besluit om van die vrugte te pluk en daarvan te eet.
 Sy het ook aan Adam daarvan gegee.
 En hy het OOK besluit om te eet!

Op die oog af, geliefdes, lyk dit of ons die skuld vir die sondeval op die DUIWEL se skouers moet pak!
 Hy het Adam en Eva VERLEI!
 Hy het hulle BEDRIEG!

En tog rus die skuld vierkantig op Adam en Eva se EIE skouers!
 Hulle is VOLMAAK geskep.
 Hulle was ten volle in staat om die duiwel se BEDROG te ONTMASKER.
 Hulle KON hom wegjaag!
 MAAR:
 hulle het SELF besluit om na hom te luister en te doen wat hy sê!
 Hulle het goed GEWEET dat hulle GESONDIG het!
 Daarom VLUG hulle van God af WEG!
 Hulle het besef dat hulle SKULDIG is!

En daarom sê art. 17 van die NGB:
 dat die mens HOMSELF in liggaamlike en geestelike dood gewerp
 en geheel en al ellendig gemaak
 en al bewende van God af weggevlug het.

Probeer ONS nie ook vir God WEGKRUIP nie, geliefdes?
 Dit is vir ons tog so MOEILIK om te ERKEN dat ons GESONDIG het!
 Ons probeer ons sonde WEGSTEEK agter mooi argumente.
 Ons probeer ons sonde wegsteek agter LOGIESE redenasies.
 Maar dit is net VYEBLARE!
 Want die Here kyk DWARSDEUR ons logika.
 Hy sien ons soos ons werklik is.
 Hy meet ons net aan dit wat Hy in sy Woord gesê het.

Daar gaan deesdae al hoe meer stemme op wat sê:
 Ons moet die Bybel HERINTERPRETEER in die lig van ONS situasie.
 Hulle sê:
 Die Bybel is ‘n OU boek,
 vir en deur mense geskryf,
 wat totaal ANDERS as ons geleef het.
 Daarom moet ons die Bybel verstaan in die lig van ONS omstandighede.

Maar, geliefdes, is dit nie waartoe die DUIWEL vir Adam en Eva verlei het nie?
      God het gesê:
      Julle mag nie van die boom eet nie!
      Die duiwel sê:
      Kom ons kyk waarom die Here so ‘n opdrag gee!
      Kom ons kyk na Sy MOTIVERING!
      En ons weet wat die droewige gevolge daarvan was!
      Adam en Eva het die band met God GEBREEK ~
      en die HEL gaan voor hulle en hulle nageslag oop!

Maar wat doen die Here?
 Hy kom SOEK hulle op!
 HOE?
 Hy kom SELF na hulle toe!
 En Hy kom nie in OORDEEL nie,
 maar Hy kom in GENADE!

Daarom sê vers 8 dat die Here na Adam en Eva toe gekom het teen die tyd dat die aandwind opkom (vers 8).
    God kom nie in STORM en ONWEER nie,
    maar in die SAGTE aandkoelte!

Sy genadige teenwoordigheid is soos SAGTE balsemsalf vir sondige mense!
  Dit bring SKULDBESEF en
  SKULDBELYDENIS en
  BEROU en BEKERING!
  Maar dit bring ook weer RUS en VREDE in ‘n onstuimige gemoed.
  Die BRANDPYN van die sonde BEDAAR as die Here se GENADE oor ‘n sondaar val.
  Hy roep VLUGTELINGE uit LIEFDE tot stilstand!
  Want Hy soek nie net nie ~ 
  Hy ROEP ook
  sodat ons kan ANTWOORD met SKULDBELYDENIS!

Adam en Eva het geantwoord deur hulle EIE skuld te ONTKEN!
 Adam beskuldig vir Eva
 en sy beskuldig die SLANG!
 So soek hulle steeds uitkoms op ‘n verkeerde manier.
 Hulle VLUG nog vir God!
 Waarom soek die Here hulle weer op?
 Waarom LOS Hy hulle nie in die ellende waarin hulle HULLESELF gedompel het nie?
 Hierop in net een antwoord:
 Hy is GENADIG!
 Of soos artikel 17 sê:
 dat God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer OPGESOEK het!

Daarom gee Hy die MOEDERBELOFTE:
 Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou,
 en tussen jou saad en haar saad.
 Hy sal jou die kop vermorsel,
 en jy sal hom in die hakskeen byt!

God BEVEEL dat daar vyandskap tussen die duiwel en ALLE mense sal wees ~ ‘n vyandskap tot die DOOD toe!
 In die oorspronklike teks word dit baie STERK gestel.
 Daar word PRESIES dieselfde woord vir vermorsel en byt gebruik!
 So word die geweldige intensiteit van hierdie vyandskap beklemtoon.
 Die duiwel wil alle mense VERNIETIG!
 Maar EEN Mens sal hom VERNIETIG!

Dit is God se GENADE aan voortvlugtende sondaars!
 Hy belowe EEN Mens wat STERKER is as die duiwel!
 EEN Mens sal hom OORWIN
 en hom FINAAL vernietig!
 En hierdie EEN Mens, is ons Here Jesus Christus!
 Hy is as MENS gebore uit ‘n VROU.
 Hy is die NAGESLAG van die vrou wat die  kop van die slang VERMORSEL het.

Die duiwel het DADELIK na Jesus se geboorte begin BYT!
 Herodes VERMOOR alle Joodse seuntjies jonger as 2 jaar.
 Die slangbyt is DROEWIG,
 maar nie DODELIK nie!
 Daarna versoek die duiwel Jesus in die woestyn.
 Ook die byt is nie suksesvol nie!
 Toe word die Jode tot OPSTAND teen Hom aangehits!
 In hulle geskreeu:
 Kruisig Hom!
 Kruisig Hom!
 hoor ons die SKRIL stem van die SLANG!
 En skynbaar SLAAG hy hierdie keer!
 Want Jesus STERF aan die KRUIS!

Maar na 3 dae is die graf OOP!
 Die VREUGDEBOODSKAP versprei soos ‘n VELDBRAND in Jerusalem:
 Hy het OPGESTAAN uit die dood!
 Die kop van die slang is VERMORSEL!

En tog gee hy nie moed op nie!
 Met ‘n KRULLENDE lyf in sy LAASTE stuiptrekkings van die DOOD,
 span hy al sy krag in om soveel moontlik mense met hom saam te sleep!
 Maar sy lot is verseël.
 Met die wederkoms van Christus word hy saam met almal wat aan hom behoort,
 vir ewig in die poel van VUUR en SWAEL gegooi!

Só, geliefdes, het God die DONKER van die DOOD in die LIG van die LEWE verander!
      Daar is LIG en ewige LEWE vir ELKEEN wat na Sy roepstem luister.
      Lig en lewe vir ELKEEN wat AANHOU vlug ~ na Christus toe!
      Lig en lewe vir ELKEEN wat van die SONDE af wegvlug
      en met ware BEROU na God toe kom.
      Lig en lewe vir ELKEEN wat met die hande van GELOOF aan Jesus vashou.
      Daar is lig en lewe vir ELKEEN wat LUISTER na God se roepstem deur Sy Woord en Gees.

Daarvan, geliefdes, VERSEKER die opstanding van Christus ons!
 Elke Sondag kondig dit DUIDELIK aan:
 Jesus LEEF!
 Hy HET oorwin!
 Hy HET die kop van die slang VERMORSEL!
 En deur die genade van die Heilige Gees GRYP Hy ons vas,
 sodat ons kan VLUG ~
 WEG van die SONDE af!
 Na Christus toe!

HOOR jy God se GENADIGE roepstem?
  Hoor jy dit ELKE dag,
  maar VERAL op die dag van die Here,
  op Sondag?
  Want Hy ROEP jou!
  Wat ANTWOORD jy?
Amen.

Gereformeerde Kerk Welkom
Ds. A.P. Krüger

No comments:

Post a Comment