Lees: Genesis 39; Psalm 105:16 – 25; Nederlandse Geloofs Belydenis (NGB) artikel 13
Hoofgedagtes:
1. Hoe Josef swaargekry het in die tronk.
2. Hoekom God vir Josef lank in die tronk laat bly het.
3. Hoe God vir Josef in die tronk gesorg het.
Geliefde broeders en susters en kinders,
Ons verstaan nie altyd God se werk met ons in hierdie wêreld nie.
Sy manier van werk, laat ons dikwels vra:
WAAROM maak die Here so?
HOEKOM het hierdie of daardie swaarkry op my pad gekom?
KON die Here nie dit KEER nie?
Soms sê ons soos Elia:
Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE,
want ek is nie beter as my vaders nie. (1 Konings 19:4).
En dan gebeur daar in hierdie wêreld ook nog dinge waarvan ons geen kop of stert uitmaak nie!
Dit lyk dikwels of alles buite beheer geraak het.
Menselewens word in sinlose geweld verwoes.
Rampe tref die wêreld en duisende mense sterf.
Hierdie dinge laat ‘n mens vra:
Is God nog in beheer van sake?
Het Hy nie tog besluit om alles te LOS nie?
In art. 13 van die NGB bely ons dat die Here ALLES bestuur en BEHEER.
Hy laat NIKS aan die sogenaamde TOEVAL oor nie en SAL dit ook NOOIT doen nie.
Genesis 39 laat ons iets verstaan van Sy voorsienige bestuur van sake.
Josef se lewe leer ons dat God ALLES beheer,
veral dit wat in die lewe van sy KINDERS gebeur.
Hy word nie ONKANT betrap nie.
Kom ons kyk:
1. na Josef se SWAARKRY in die tronk.
2. Hoekom God vir Josef so LANK in die tronk laat bly het en
3. Hoe Hy vir Josef IN die tronk gesorg het.
In Josef se lewe, geliefdes, het baie ONVERSTAANBARE dinge gebeur.
Hy was sy pa, Jakob, se OOGAPPEL.
Sy pa het hom VOORGETREK,
sodat sy broers hom GEHAAT het.
Daarby het Josef een nag GEDROOM dat hy en sy broers die gesnyde koring in GERWE gebind het en
dat sy broers se gerwe voor sy gerf kom BUIG het.
Dit het hulle baie KWAAD gemaak!
En toe Josef eendag by hulle kom waar hulle vee oppas, het hulle daar en dan besluit om van hom ONTSLAE te raak.
Hulle het hom aan SLAWEHANDELAARS verkoop.
So het Josef in Egipte beland
waar Potifar, een van die Farao se hoë amptenare,
hom as slaaf gekoop het.
Aanvanklik het dit baie goed gegaan met Josef.
Maar toe probeer Potifar se vrou hom VERLEI!
Josef het die versoeking weerstaan en
as gevolg daarvan in die TRONK beland!
Josef het BAIE swaar gekry in die tronk!
Tronke was destyds GEVAARLIKE plekke.
Dit was DONKER en BEDOMPIG en
beweegruimte was uiters beperk!
Daarby is Josef in die die deel van die tronk aangehou waar die KONING se gevangenes opgesluit was ~
byna iets soos die MAKSIMUM sekuriteitstronke van vandag!
Psalm 105 sê dat Josef se voete GEBOEI was.
Hy kon nie BEWEEG nie.
Vir ‘n jong man wat aan die vryheid van die veld gewoond was,
moes dit BAIE swaar wees om heeldag in ‘n bedompige tronk met GEBOEIDE voete te lê!
Vers 18 sê:
Hulle het sy voete in boeie geknel,
hy self het in die ysters gekom.
Die Hebreeuse teks sê:
Sy siel het in die ysters gekom!
Dit beteken:
Josef het baie GEWORSTEL om te VERSTAAN waarom al die swaarkry op sy pad gekom het.
Hy het NIKS begryp van God se plan met sy lewe nie.
Waarskynlik het hy ook gevra:
WAAROM, Here?!
Josef het geweet:
Die Here het toegelaat dat hy in die TRONK beland!
Dit is hierdie besef wat soos YSTERS deur sy siel gesteek het!
So, geliefdes, beleef ons dit ook!
Die ONVERSTAANBAARHEID van die manier waarop God in Sy voorsienigheid alles bestuur en beheer,
steek dikwels soos YSTERS deur ons siele!
God laat toe dat sy kinders soms baie swaar kry.
Hy laat, soos Psalm 42 sê, die WATERS oor ons gaan.
Dan sê ons:
Here, ons VERSTAAN nie!
En ons vra:
Waarom, Here? ~
maar ons kry nie ANTWOORDE nie,
in elk geval NIE die antwoorde wat ONS soek nie.
Nou kom ons kyk HOEKOM die Here vir Josef so LANK in die tronk laat bly het.
Op daardie stadium het Josef dit nie verstaan nie.
Eers later, toe hy homself aan sy broers bekend gemaak het, het hy gesê:
Om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur ~
so lees ons in Genesis 45:5.
Dit is wat Psalm 105:17 ook sê:
God het ‘n man voor hulle uit gestuur:
Josef is as slaaf verkoop!
Die Here wou Josef GEBRUIK!
Maar Josef moes eers GEREED gemaak word.
Sy HOOGMOED moes eers afgebreek word!
Sy pa, Jakob, het hom VOORGETREK.
Daarby het hy wonderlike drome gedroom waarin HY altyd die beste daarvan afkom.
En dit het van Josef ‘n HOOGMOEDIGE klein niksnuts gemaak.
Hierdie HOOGMOED moes eers AFGEBREEK word
voordat hy ‘n bruikbare instrument in God se hand kan wees.
Maar Josef moes ook leer om die Here alleen te VERTROU.
Hy moes leer om God BLINDELINGS te volg ~
al verstaan hy NIKS.
En dit het baie WORSTELING en SEERKRY gekos om hom daarby uit te bring.
Hy is deur SWAARKRY gelouter ~
soos GOUD wat in VUUR skoongemaak word.
Hierdie swaarkry het gemaak dat hy sy HULP en KRAG by die Here alleen gesoek het.
Ons kan sê:
die YSTERS wat deur sy siel gegaan het,
het hom YSTERSTERK gemaak in sy vertroue op die Here.
Dit, geliefdes, is ‘n rede waarom die Here ons soms deur baie swaarkry en worsteling laat gaan.
Aan die een kant wil Hy ons van HOOGMOED en die EIE-EK bevry.
Aan die ander kant wil Hy ons VERTROUE in Hom laat groei.
Ons moet eenvoudig net GLO dat Hy ten volle in BEHEER van sake is ~
al LYK dit nie vir ons so nie!
Ons kan Sy voorsienige bestuur met ‘n argitekplan vergelyk.
As jy na die VOLLEDIGE plan kyk,
kan jy verstaan waarom elke lyn getrek is.
Maar wanneer jy net na ‘n DEEL van die plan kyk,
dan lyk dinge deurmekaar ~
dan kan jy NIE sien waarheen elke lyn loop nie.
So is dit met God se raadsplan.
Hy het die VOLLEDIGE plan.
Maar ons sien net ‘n KLEIN deeltjie daarvan.
Daarom kan ons nie verstaan waarom die een streep hierdie kant toe
en die ander streep daardie kant toe getrek word nie.
Ons moet net GLO dat Hy,
die Groot Argitek,
presies weet hoe Hy sy plan opgestel het
en WAT Hy daarmee wil bereik.
Dit is wat Josef in die tronk moes leer.
Kom ons kyk nou HOE die Here vir Josef IN die tronk GESORG het.
Genesis 39:21 sê:
Maar die HERE was met Josef,
en Hy het goedertierenheid aan hom bewys
en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis.
Die Heilige Gees het Josef GETROOS en VERSTERK.
En die Here het gesorg dat die tronkbewaarder se gesindheid teenoor Josef verander het.
Josef word as OPSIGTER oor sy medegevangenes aangestel
Só sorg die Here dat Josef in die tronk as’t ware OPGELEI word vir die werk wat hy eendag sou doen!
Josef word ‘n BRUIKBARE instrument in God se hand.
Hy kon na die ander gevangenes omsien,
hulle vertroos en bemoedig
en later selfs hulle drome uitlê.
Op daardie stadium was Josef nog NIKS nader aan ‘n antwoord op die vraag WAAROM die Here só met hom werk nie!
Hy het net geweet
dat die Here hom krag en genade gee
om in die swaarkry en onverstaanbare dinge,
op Hom te vertrou.
Ja, Josef het geleer
dat ‘n mens nie hoef te VERSTAAN waarom dinge met jou gebeur nie.
Jy moet net op God vertrou en
sien hoe Hy jou in Sy diens GEBRUIK.
Daarby moet ons net GLO dat Hy ten volle in beheer van sake is en dit ALTYD sal bly.
Hy het die VOLLEDIGE argitekplan geteken.
Hy weet presies wat Hy doen ~
al lyk dinge dikwels vir ons deurmekaar.
En weet u, geliefdes, ons sien dit duidelik in die lewe van ons Here Jesus Christus!
Dit het gelyk of Sy lewe op ‘n doodloopstraat afstuur.
Die mense het gespot:
Kyk, daar hang die VERLOSSER van die wêreld MAGTELOOS aan ‘n KRUIS!
Die moordenaar het gelaster:
Is jy dan nie die Christus nie?
Red jouself en ons! (Lukas 23:39).
Jesus, die Verlosser van die wêreld STERF aan die KRUIS!
Hy word BEGRAWE!
Dit lyk of alles VERBY is!
Maar 3 dae later ~ ‘n VREEMDE boodskap:
Die graf is LEEG!
Jesus LEEF!
Hy het waarlik OPGESTAAN!
Hy het OORWIN,
want God is ten volle in BEHEER van alle dinge ~
ook van die dood!
Daarom, geliefdes, kan ons saam met artikel 13 bely:
Ons glo dat die goeie God,
nadat Hy alle dinge geskep het,
dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie,
maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer
dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.
En dit is vir ons die troos wanneer ons die onverstaanbare dinge in die wêreld en in ons lewens sien!
NIKS, ABSOLUUT niks in hierdie wêreld gebeur per TOEVAL nie
daar is nie iets soos die TOEVAL en die NOODLOT nie!
Nee, God bestuur en beheer alles volkome!
Hy weet waarheen Hy met alles op pad is ~
ook met ons lewens.
Want Hy IS en BLY ten volle in BEHEER van alle dinge!
Amen.
Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment