'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Thursday, 05 May 2011

Exodus 14:17, 21; 14:2: Met God op pad.

Lees:  Exodus 13:17 – 14:14

Hoofgedagtes:
1.  Die Here se pad.
2.  Die Here se teenwoordigheid.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Ons het in Psalm 121 gesing van God se teenwoordigheid in die lewe van Sy kinders.
      Selfs wanneer jy op reis gaan, bly die Here nie by die HUIS nie ~
      Hy gaan SAAM!
      Dit is Hy wat jou voet
      vir wankeling behoed (Ps. 121:2)
      Dit was die TROOS vir Israel,
      toe hulle uit Egipte gevlug het!
      Hulle was MET die Here op pad.

‘n Mens kan net dink met hoeveel OPGEWONDENHEID die Israeliete hulle besittings bymekaar gemaak het!
 Hulle het daardie nag toe die oudste kinders van die Egiptenaars dood is,
 met groot VERWAGTING by Sukkot bymekaar gekom.
 Van daar af sou hulle die reis na die land van Belofte aanpak.

Maar toe gebeur iets EIENAARDIG!
  Vers 17 sê:
  Toe Farao die volk laat trek het,
  het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie,
  alhoewel dit nader was!

Die pad deur die land van die Filistyne was die KORTSTE pad! 
  As Israel al met die kus van die Middellandse See,
  DEUR die land van die Filistyne sou trek,
  sou hulle oor ‘n paar DAE
  of hoogstens ‘n WEEK of twee
  in die land Kanaän wees!
  Dit was immers die KORTSTE pad.
  En as jy VLUG en VINNIG moet wegkom,
  vat jy mos die KORTSTE pad, nie waar nie?!

Maar God laat dit NIE toe nie!
 Israel moet ‘n LANGER pad volg!
 Waarom?
 Vers 17 sê:
 Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien,
 en teruggaan na Egipte!
 Dit is God se REDE waarom Hy sy volk op die LANG pad lei!

Die Egiptenaars met hulle goeie WAPENS en STRYDWAENS en geoefende SOLDATE sou Israel sommer MAKLIK kon oorrompel.
 Israel het wel wapens gehad, soos vers 18 sê,
 maar hulle was nie vir oorlog GEOEFEN nie!
 Hulle sou BANG word as hulle net die Egiptiese leër SIEN 
 soos inderdaad in hoofstuk 14:10 – 12 gebeur het.

Die Here WEET dat die KORTSTE en MAKLIKSTE pad nie altyd die BESTE pad is nie.
 Daarom lei Hy Israel op die LANG pad om hulle te BESKERM.
 Die kortste en maklikste pad is dikwels die GEVAARLIKSTE!
 Dit is dikwels SLAGGAT-pad;
 VERDWAAL-pad!

Daarom moes Israel ~ en ONS ook ~ leer:
 dat God se LANG pad deur die DORINGS,
 dikwels Sy KORTPAD na die GROOTPAD is!
 Die LANG pad,
 die SWAARKRY-pad,
 die WAG-pad
 is meer dikwels God se GENADEPAD!

En tog, geliefdes, BELEEF ons dit nie altyd so nie!
 Wanneer dinge vir jou ANDERS uitdraai as wat JY verwag
 en as wat jy graag wil hê,
 dan kan ons tog so maklik KLA.
 Ja, ons MURMUREER dalk nog VINNIGER as die Israeliete van destyds!
 WAAROM Here?!
 Hoeveel gelowiges het nie al HIERDIE vraag gevra nie?
 WAAROM moet al HIERDIE swaarkry en
 teëspoed en kommer
 en sorge op MY pad kom?
 Wat het EK dan VERKEERD gedoen dat die Here MY so moet STRAF?

Maar ons moet leer:
 Die Here doen NOOIT iets SONDER rede nie.
 Hy doen NIKS sommer op die ingewing van die OOMBLIK nie.
 Hy doen ALLES tot voordeel van sy kinders,
 sodat ons en ALLE mense Sy Naam kan verheerlik!

So is Israel toe van Sukkot af weg en het laer opgeslaan in Etam, aan die kant van die woestyn.
 En toe kom God se EIENAARDIGE opdrag: (14:2)
 Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet omdraai
 en laer opslaan voor Pi-Hágirot,
 tussen Migdol en die see.
 Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle laer opslaan by die see.
 Israel moet OMDRAAI!
 Dit sou hulle as’t ware in ‘n DOODLOOPSTRAAT laat beland.

Maar die Here WEET wat Hy doen!
 Ook vir hierdie eienaardige opdrag, gee Hy ‘n REDE:
 Farao moet dink dat Israel VERDWAAL het!
 Waarom?
 Want die Here wil Homself vir die LAASTE keer aan Farao OPENBAAR.
 Ek sal Farao se hart verhard,
 dat hy hulle agtervolg;
 en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik,
 en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is.
 Hy wil aan Farao en aan AL die Egiptenaars ~
 en daarmee ook aan Israel wys dat Hy ALLEEN God is.
 Hy het AL die mag in die hemel en op aarde.
 Farao, met AL sy mag, kan NIKS teen God doen nie.

Verder moet ALMAL ook duidelik besef dat die Here GETROU bly aan AL Sy beloftes.
 Hy kom sy beloftes ALYD na ~
 selfs TEEN alle menslike verwagtings in.
 Israel moes aan die BEGIN van die reis na die Beloofde Land leer
 om die Here hulle God VOLLEDIG te VERTROU!

En dit, geliefdes, moet ONS ook leer!
 Die Here WEET wat Hy doen!
 Al VERSTAAN jy nie waarom jy dalk die SWAAR pad,
 die LANG pad,
 die VERDWAAL-pad
 en moontlik ook die WOESTYN-pad moet volg nie ~
 die Here WEET,
 en dit moet vir ons GENOEG wees.

Maar dit is ‘n MOEILIKE les om te leer!
      Ons KLA so maklik.
      Ons wil, netsoos STOUT kinders, alles DADELIK hê.
      Ons dink dat God in ONS diens is,
      sodat Hy altyd net gereed moet staan om te doen wat ONS vra.
      Daarom moet ons leer om Hom BLINDELINGS te vertrou ~
      al verstaan ons NIKS!
      Ons moet die volgende leer:
      Dit is die BESTE om die LANG en MOEILIKE pad te volg,
      met die Here BY jou!

Want Hy is altyd TEENWOORDIG in die lewe van sy kinders.
 Daarom sê vers 21:
 En die HERE het voor hulle uitgetrek,
 bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die pad te lei,
 en snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig,
 sodat hulle dag en nag kon trek
 Hy is SELF Israel se Gids ~
 want Hy KEN die pad waarop Sy volk moet gaan (Ps. 1:4).
 Hy BEPAAL self HOE die pad moet loop.
 Hy BEHEER alles wat op daardie pad GEBEUR.
 Só, deur die wolk- en vuurkolom het die Here sy hande BESKERMEND om sy volk gevou!

Daarvan lees ons in Exodus 14:5 – 14.
  Farao het die volk agtervolg.
  Israel het BANG geword.
  Want hulle was in ‘n DOODLOOPSTRAAT!
  Aan die SUIDE en WESTE kante was BERGE.
  Aan die Oostekant was die Rooi See.
  En AGTER hulle, uit die NOORDE, het Farao en sy leër aangekom!
  En toe?
  Toe KLA Israel!
  Hulle wil TERUGGAAN na Egipte om weer SLAWE van Farao te wees,
  want dit is MAKLIKER as VERTROUE op die Here!
  Israel het die HERE nog nie VERTROU nie!

En tog LOS Hy sy volk nie uit nie!
  Hy jaag hulle NIE weg oor hulle OPSTANDIGHEID en WANTROUE nie!
  Hy LEER hulle dat Hy sy hande RONDOM sy volk vou,
  om hulle te BESKERM.
  Daarom sê Moses in vers 13 – 14:
  Wees nie bevrees nie,
  staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk.
  Die HERE sal vir julle stry,
  en julle moet stil wees.

Die wolk- en vuurkolom was die TEKEN van God se TEENWOORDIGHEID by sy volk.
 Hy is DAG en NAG ~
 ELKE oomblik BY sy volk!
 Hulle is NOOIT alleen nie!
 Daarom het die wolkkolom nie bedags
 en die vuurkolom nie snags voor die volk gewyk nie.
 Dit is die TEKENS van God se LIEFDE vir sy volk!
 Sy liefde is soos ‘n WOLK wat saggies om jou vou.
 Maar Sy liefde is ook soos ‘n VUUR wat al die ONREINHEID van die sonde WEGBRAND.
 Sy liefde LOUTER en SUIWER jou!

Dat Israel NIE deur die VUUR van God VERTEER is as gevolg van hulle OPSTANDIGHEID en WANTROUE nie, was alleen moontlik deur Jesus Christus.
 God se toorn oor ons sonde sou teen Hom ontbrand.
 Hy is deur die VUUR van God se STRAF op ons sonde in die dood INGEBRAND!
 Maar Hy het nie dood GEBLY nie ~
 Hy het ook OPGESTAAN,
 sodat ELKEEN wat in Hom GLO,
 deur die vuur GEREINIG kan word.
 Omdat Christus betaal het,
 word ons NIE deur God se vurige toorn oor ons sonde VERBRAND nie!

Daarom was die wolk- en vuurkolom ‘n PROFESIE van God se oneindige LIEFDE en GENADE.
 Jesus is as’t ware die wolk- en vuurkolom vir ELKEEN wat in Hom GLO.
 Omdat Hy  gesterf en opgestaan het uit die dood,
 DAAROM kan ons WEET:
 Die Here LEI ons dag en nag op ons pad.
 Hy BEPAAL en BEHEER jou HELE lewenspad.

Dit is vir ons die troos, geliefdes!
 Al VERSTAAN ons nie alles nie ~
 die HERE,
 die getroue Verbondsgod,
 ons Vader deur Jesus Christus ~
 Hy weet en Hy verstaan ABSOLUUT alles!

En tog dink ons dat ‘n mens net rustigheid en vrede vind as jy God se werke en sy pad met jou 100% VERSTAAN!
 Daarom vra ons:
 WAAROM, Here?
 Waarom moet EK die swaar pad loop?
 Ons vra:
 Waarom sê die Here só?
 Waarom sê Hy nie ANDERS nie?
 Wat is Sy MOTIVERING?

Maar ons moet besef:
 Ons het nie NODIG om te weet WAAROM die Here ‘n bepaalde pad met jou loop nie.
 Ons het ook nie nodig om te weet WAAROM Hy ‘n bepaalde ding sê nie.
 Ons moet GEREED wees om Hom BLINDELINGS te volg.
 Want die LANG en MOEILIKE pad SAAM met God,
 is BETER as die KORT en MAKLIKE pad ~
 SONDER Hom! 

Geliefdes, omdat Jesus ALLEEN in die VUURKOLOM van God se toorn oor ONS sonde INGEGAAN
 en DEURGEGAAN
 en UITEGKOM het,
 daarom kan ons weet:
 Deur die GELOOF in Hom,
 IS ons SAAM met God op pad!
 BLY dan BY Hom.
 VOLG Hom dag en nag.
 Want Hy lei jou op jou pad.

Amen.

Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment