Hoofgedagtes:
1. Hy is die eerste en die laaste.
2. Hy is die Lewende.
3. Hy het mag oor die dood.Geliefde broeders en susters en kinders,
Die OPSTANDING van ons Here Jesus, geliefdes, ~
dít is díe HOOGTEPUNT van sy lewe en werk op aarde!
Die LEË graf in die tuin van Josef van Arimathéa,
is die ONWEERLEGBARE bewys van sy OORWINNING.
Hy het die DOOD en die GRAF en die HEL oorwin,
sodat ELKEEN wat in Hom GLO,
vir EWIG kan lewe.
En omdat Hy oorwin het,
DAAROM kan ons vandag en
ELKE Sondag in die eredienste bymekaarkom
om God te ONTMOET en Sy Woord te HOOR.
Jesus roep as’t ware ELKE Sondag uit:
Ek is die eerste en die laaste en die lewende;
en Ek was dood
en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen.
En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.
Daarom moet ELKE gelowige ~
daarom moet die BRUIDSKERK van Christus elke Sondagmôre met BLYDSKAP en
JUBELENDE dankbaarheid in die eredienste saamkom.
God HERINNER ons aan die BEGIN van elke week:
Kyk! Koning Jesus leef!
Dít is die VREUGDEBOODSKAP wat ons Here Jesus SELF aan die apostel Johannes gegee het!
Johannes het die evangelie in Klein-Asië verkondig.
Hy het die mense geleer
dat Jesus Christus die Seun van God is
en dat Hy ons Here is.
Die woord “here” beteken:
KONING!
Die Romeine het Johannes se boodskap,
en dus die evangelie,
as STAATSGEVAARLIK beskou!
Want die Keiser van Rome het HOMSELF ook “god” en “here” laat noem!
Daarom het die Romeinse Keiser vir Johannes na die eiland Patmos verban.
En toe het ons Here Jesus Christus SELF aan Johannes verskyn!
Dit het so gebeur:
Johannes sê in vers 10:
Ek was in die Gees op die dag van die Here,
en ek het agter my ‘n groot stem gehoor,
soos van ‘n basuin, wat sê:
Ek is die Alfa en die Oméga,
die eerste en die laaste!
Die dag van die Here beteken:
Die dag wat aan die Here,
aan die Koning behoort!
Die dag wat aan Hom TOEGEWY
of VIR Hom AFGESONDER word.
Dit is die dag waarop Jesus uit die dood OPGESTAAN het!
Dit is SY oorwinningsdag!
Dit is Sondag!
Daarom het die christene na Jesus se hemelvaart,
Sondag gebruik as die dag van samekoms.
Want Sondag is die OORWINNINGSDAG van ons Koning, Jesus Christus.
Sondag sê:
Kyk! Koning Jesus leef!
En dit, geliefdes, is die boodskap wat Jesus SELF daardie Sondag op die eiland Patmos aan Johannes gegee het!
Toe Johannes omdraai om te kyk Wie met hom praat,
het hy Een soos die Seun van die mens tussen die goue kandelaars gesien.
die Seun van die mens, is ons Here Jesus Christus!
Só het Hy dikwels van Homself gepraat (Matt. 24:30)
En Johannes het Hom HERKEN!
Hy was mos vir 3 en ‘n halwe jaar SAAM met Jesus.
Hy het tydens die laaste Paasmaal met sy kop op Jesus se bors gelê.
Daarom WEET Johannes:
Dit is DIESELFDE Jesus wat GEKRUISIG is en GESTERF het!
En tog lyk Hy nou ook ANDERS!
Só het NIEMAND Hom nog voorheen gesien nie!
Johannes sien Jesus in Sy HEERLIKHEID as KONING en HOËPRIESTER.
Hy is nie meer die LYDENDE Kneg wat Homself ontledig het deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem nie ~
soos Filippense 2 van Hom gesê het nie.
Maar Hy is nou die HOËPRIESTER wat KLAAR vir die sonde van sy volk GEOFFER het!
Hy is nou die OORWINNAAR-Koning!
Daarom kan Hy in vers 17 sê:
Ek is die eerste en die laaste ~
of die Alfa en die Oméga! (vers 11)
Daarmee sê Jesus dat Hy waarlik God is!
Hy was van ALTYD af daar.
Hy het nie ‘n BEGIN en ‘n EINDE nie.
Eintlik is Jesus die BEGIN van ALLE dinge,
want ALLES het deur Hom ONTSTAAN.
Soos Johannes 1:3 sê:
Alle dinge het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Maar dit beteken ook:
Hy bestuur en beheer ALLES en ALMAL!
Hy BEPAAL en LEI die wêreldgeskiedenis.
Hy BEPAAL en LEI ook ELKE mens se lewe.
En nog verder:
Hy lei alles na hulle EINDBESTEMMING.
Want Hy is die KONING!
En elkeen wat in Hom GLO, kan met BLYDSKAP bely:
Hy is ook MY Koning wat my HELE lewe bestuur en beheer!
Hy is MY Koning wat vir my SORG,
en wat my BESKERM,
en wat my BEWAAR,
sodat NIKS en NIEMAND my uit Sy hand kan RUK nie!
Want Hy het die DOOD en die GRAF en die HEL in my plek OORWIN!
Deur Sy oorwinning het Hy vir my ‘n plek in sy Vader se huis gereed gemaak.
Hy LEI my na DAARDIE heerlike woonplek!
Want Hy is nie ‘n DOOIE Koning nie!
Hy sê self in vers 18:
Ek is .... die lewende;
en Ek was dood en kyk,
Ek leef tot in alle ewigheid. Amen.
Dit beteken:
Jesus is SELF díe LEWE!
Hy is die OORSPRONG van die lewe.
Hy en Hy ALLEEN, GEE vir jou die lewe.
Want Hy het IN die dood INGEGAAN.
Hy het GESTERF!
Hy het ‘n LYK geword!
Sy LIGGAAM is BEGRAWE!
Maar Hy het nie dood GEBLY nie!
Die dood kon Hom nie VASHOU nie.
Want kyk, sê Hy, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen!
Hy LEEF om in der ewigheid NOOIT weer te sterf nie!
Die dood het GEEN mag oor Hom nie!
Hy het IN die dood INGEGAAN,
en daar DEURGEGAAN,
en LEWEND aan die ander kant UITGEKOM!
Hy het die dood vir EENS en ALTYD oorwin!
Dit, geliefdes, is die heerlike boodskap van die OPSTANDING van ons Here, Jesus Christus!
Ons het nie ‘n DOOIE Koning nie!
Ons Koning LEEF en REGEER tot in EWIGHEID!
Niks en niemand sal Hom van die troon kan AFSTOOT nie!
Hy is ons GENADIGE Koning, wat as Hoëpriester vir ons INGETREE het!
Hy het gedoen waartoe GEEN ander koning BEREID is en sal wees nie!
Ander konings hef BELASTINGS van hulle onderdane.
Ander konings EIS dat hulle onderdane hulle skuld SELF moet betaal.
Maar só tree ONS Koning, Jesus Christus nie op nie!
Hy het iets gedoen wat GEEN menslike koning KAN en SAL doen nie:
Hy het ONS skuld volledig BETAAL!
En wat méér is:
Hy het HOMSELF in ONS plek geoffer!
Hy het Sy LEWE gegee, om ons skuld te betaal!
Daarom die VREUGDEBOODSKAP van die opstanding:
Ons Koning, Jesus Christus LEEF!
Hy HET nie en SAL nooit vir jou ‘n REKENING vir jou skuld stuur nie!
Maar Hy HET volledig in jou plek BETAAL!
Hy WAS dood ~
en kyk! Hy leef tot in ewigheid!
En geliefdes, wat méér is:
Hy laat ONS ook LEEF tot in ewigheid!
Want Hy het MAG oor die dood!
In vers 18 sê Hy:
Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood!
Dood en doderyk hoort bymekaar.
Ons kan dit so voorstel:
Die doderyk is soos ‘n STERK stad met ‘n HOË muur om.
Die muur het ‘n DEUR of ‘n POORT (Matt. 16:18) wat TOEGESLUIT is,
sodat geen mens SELF daar kan UITKOM nie.
En die dood is die KONING wat in die stad regeer.
Daarom is die doderyk die koninkryk waar die dood regeer.
Toe ons Koning, Jesus Christus,
GESTERF het,
het Hy IN die koninryk van die dood INGEGAAN!
Maar Hy het NIE daar GEBLY nie.
Hy was STERK genoeg om koning dood BINNE-IN sy eie koninkryk te OORWIN!
En só het Jesus die sleutels van die doderyk en van die dood gevat.
Dit behoort nou aan Hom,
sodat Hy volle BEHEER het oor die dood en die doderyk.
Hy sê WANNEER en
WIE deur die dood in die doderyk ingeneem word.
Dit is vir ons ‘n heerlike TROOS, geliefdes!
Die dood het nie MAG oor God se kinders nie,
want Jesus het ons met sy mag LOSGEKOOP!
As jy hier op aarde STERF,
dan word jy NIE deur die dood in die doderyk opgeneem,
waar jy TOEGESLUIT word om NOOIT weer uit te kom nie!
Jy word OPGENEEM in die ewige Vaderhuis
waar ons Koning, Jesus Christus,
vir jou plek gereed gemaak het (Joh. 14).
En op die laaste dag,
dit is die dag van Sy wederkoms,
gee Hy bevel
en dan staan ook jou LIGGAAM uit die graf op ~
soos Jesus opgestaan het.
Want Hy het die sleutels van die doderyk en van die dood!
Hy het VOLLE beheer daaroor!
Geliefdes, die OPSTANDING van ons Here Jesus VERSEKER ons van hierdie groot GENADE!
Sy opstanding is as’t ware die KWITANSIE,
die ONWEERLEGBARE bewys
dat Hy die doderyk en die dood oorwin het!
Daarom is sy opstanding die HOOGTEPUNT van Sy lewe en werk op aarde.
Daarom kon Hy later in die hemel OPVAAR ~
want sy werk op aarde was VOLLEDIG afgehandel.
ELKE Sondag,
elke dag van die Here bring vir jou HIERDIE heerlike boodskap!
Dit is asof die HELE natuur op ‘n Sondagmôre in STILLE eerbied en ontsag voor die Koning buig!
Hoor jy ook ELKE Sondag hierdie oorwinningsboodskap?
Vier jy ELKE Sondag FEES,
OORWINNINGSFEES
saam met ons Koning, Jesus Christus
en ALMAL wat aan Hom behoort?
Amen.
Gereformeerde Kerk Welkom
Ds. A.P. Krüger
No comments:
Post a Comment