'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Thursday, 05 May 2011

Josua 1:9: Die HERE gee moed.

Lees:  Josua 1:1 – 11

Geliefde broeders en susters en kinders,

Daar lê weer ‘n nuwe kwartaal voor ons ~
      ‘n kwartaal wat ons moet gebruik om die HERE voluit te DIEN.
      ‘n Kwartaal wat ons moet gebruik om aan Hom gehoorsaam te wees,
      uit DANKBAARHEID vir Sy genade.
      Want dit is die OPDRAG wat die Here self aan ons gee ~
      om te LEWE en Hom te DIEN soos Hy in sy Woord beveel;
      om selfs nie eers in die GERINGSTE mate AF te wyk van dit wat God van ons verwag nie.

Nou weet ons dat dít ‘n GROOT verantwoordelikheid is.
 En GROOT verantwoordelikhede bring mos gewoonlik ook SPANNING in ‘n mens se hart!
 Hoe gaan jy alles GEDOEN kry wat jy MOET doen?
 Hoe gaan jy dit REGKRY om AL jou verantwoordelikhede na te kom?

Miskien het hierdie spanning ook in Josua se hart gelê toe hy en die volk Israel by die Jordaanrivier gestaan het!
  Hoe gaan Josua dit regkry om Moses se skoene vol te staan?
  Hoe gaan Josua dit regkry om die volk van God in die Beloofde Land in te lei?
  Want Josua het die volk goed geken!
  Hy was mos Moses se REGTERHAND,
  vandat hulle uit Egipte getrek het,
  en gedurende die hele 40 jaar wat hulle in die woestyn geswerf het.
  Hy het GEWEET hoe hardkoppig en opstandig die volk van die Here is!
  Hoe gaan Josua dit regkry om hierdie klomp HARDKOPPIGE en OPSTANDIGE Israeliete in die land Kanaän in te lei?

Die Here het die spanning in Josua se hart GEKEN, want Hy weet mos ALLES!
  Die Here weet mos wat ‘n mens DINK, nog VOOR jy self daarvan bewus is.
  Daarom weet Hy ook hoe om jou te BEMOEDIG.
  Dit is die hoofgedagte van ons preek vanoggend:
  Die HERE gee moed!

Kom ons kyk hoe die HERE vir ‘n mens moed GEE om jou verantwoordelikhede na te kom en Hom VOLUIT te dien.

Ons het gesê dat die HERE vir Josua ‘n GROOT verantwoordelik gegee het.
 Vers 2 sê:
 Maak jou dan nou klaar,
 trek deur hierdie Jordaan,
 jy en hierdie hele volk,
 na die land wat Ek aan hulle,
 die kinders van Israel, sal gee.

Maar dit was nie ‘n MAKLIKE taak nie!
 Die land sal nie soos ‘n ryp appel in hulle skoot val nie.
 Die inwoners van die land was STERK ~
 hulle het GOEIE wapens gehad en
 BAIE soldate wat GEOEFEN was vir oorlog!
 Hoe sal Israel hulle kan OORWIN?

Moontlik het Josua ook na die groot Jordaanrivier gekyk.
 Hoe gaan die HELE Israel,
 mans, vrouens en kinders,
 met AL hulle besittings
 en AL hulle vee DEUR hierdie rivier kom?
 Hulle het nie bote en vlotte waarmee hulle oor die rivier kon vaar nie.
 Daar was ook nie ‘n BRUG waaroor hulle kon loop nie.
  Die probleme het GROOT en ONOORKOMBAAR gelyk!

Ons staan dikwels voor probleme wat GROOT en ONOORKOMBAAR lyk!
 Die HERE gee OPDRAGTE en verantwoordelikhede wat eenvoudig TE groot lyk om na te kom!
 Hoe kan OUERS dit regkry om hulle kinders in hierdie wêreld op te voed,
 sodat hulle die Here alleen kan dien en eer?
 Is dit nog moontlik om kinders CHRISTELIK op te voed in die wêreld waarin ons leef?
 Hoe kan ONS dit regkry om die Here VOLUIT te dien te alle tye en onder alle omstandighede?
 Daar is dan so BAIE dinge wat dit vir ons MOEILIK maak om aan Hom alleen gehoorsaam te wees!

So, geliefdes, staar ons ons blind teen die GROOT probleme.
 Ons sien NET die magtige Jordaanrivier wat voor ons lê.
 En ons wonder:
 HOE gaan ek hier deurkom?

Maar weet u, wanneer jy NET op jou probleme fokus, dan word dit al hoe GROTER!
 Dit maak jou MOEDELOOS,
 so dodelik moedeloos.
 Jy het nie moed of krag om IETS te doen nie.
 Jy wil net bly lê!

Maar in sy groot genade LOS die HERE jou nie alleen nie!
 Hy GEE vir jou MOED!
 HOE doen Hy dit?
 Hy vat NIE jou probleme WEG,
 sodat alles skielik in goud verander nie!
 Hy stuur ook nie vir jou ‘n pakkie moed deur die pos nie!

Die HERE gee MOED,
 deur jou op Sy genadige TEENWOORDIGHEID in jou lewe te wys.
 In vers 9 sê die HERE vir Josua:
 Wees sterk en vol moed,
 wees nie bevrees of verskrik nie;
 want die HERE jou God is met jou,
 oral waar jy heengaan.

Só gee die HERE moed ~ deur die BELOFTE van Sy TEENWOORDIGHEID in jou lewe!
 En die belofte van Sy teenwoordigheid in jou lewe, gee die Here in sy Woord.
 Daarom het Hy in vers 8 gesê:
 Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie;
 maar bepeins dit dag en nag,
 sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan.

Hierdie wetboek is nie net die 10 gebooie nie ~ dit is die HELE Bybel!
 God gee MOED deur die Bybel ~
 deur Sy Beloftewoord!
 Daarin leer Hy ons dat Hy die HERE is ~
 dit is: die Verbondsgod!
 Hy het EERSTE na ons toe gekom
 en Homself aan ons VERBIND met Sy VERBOND!
 Dit beteken dat Hy BELOWE het:
 EK sal vir jou ‘n God wees,
 en vir jou nageslag na jou!

God het hierdie VERBONDSBELOFTE in Christus nagekom!
      Jesus Christus, die EIE Seun van God,
      het mense, wat dit NOOIT kan verdien nie,
      uit die mag van die sonde kom LOSKOOP.
      En God die Heilige Gees het gekom om ELKE losgekoopte
      deur die ONBREEKBARE band van GELOOF aan God VAS te bind.

Daarom kan ELKEEN wat GLO, nou vir seker WEET:
 Die HERE IS en BLY in my lewe TEENWOORDIG!
 Hy IS by my ~
 nie net SOMS nie,
 maar elke DAG en elke OOMBLIK van my lewe.
 Ek is NOOIT alleen nie!
 Soos Jesaja 43 sê:
 Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos;
 Ek het jou by jou naam geroep;
 jy is myne!
 As jy deur die water gaan, is Ek by jou;
 en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie;
 as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie,
 en die vlam sal jou nie brand nie.

Só, geliefdes, gee die HERE vir jou MOED om jou verantwoordelikhede na te kom!
  Só gee Hy aan OUERS moed en insig en wysheid om hulle kinders CHRISTELIK op te voed in ‘n goddelose wêreld.
  Want dit is Sy OPDRAG aan ELKE ouer!
  LEER jou kinders om die HERE te KEN en Hom alleen te DIEN.
  Dit het U ook by die doop van U kind BELOWE.
  Die HERE gee vir ELKE verbondsouer die MOED om hierdie BELOFTE na te kom.

As jy dan vra: HOE moet ek dit doen?
  Dan wys vers 8 ons daarop dat hierdie Beloftewoord van God,
  nie uit jou mond wyk mag nie ~
  dit wil sê jou WOORDE,
  alles wat jy SÊ,
  moet daardeur BEHEER word.
  Jy moet die Beloftewoord van God dag en nag bepeins ~
  dit wil sê jou GEDAGTES moet ook daardeur beheer en gevorm word.
  En die rede daarvoor ~
  sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan ~
   dit wil sê ook ALLES wat jy DOEN
  moet deur die Beloftewoord van God beheer en gestuur word!

HIER is een van die redes waarom gelowiges soms so MOEDELOOS kan word,
 en waarom ons dikwels nie tussen REG en VERKEERD kan onderskei nie ~
 dat ons NIE ons HELE lewe deur die Beloftewoord van God laat BEHEERS nie.
 Ons KEN nie meer ons Bybel nie.
 Wanneer die donker wolke van swaarkry en teëspoed op jou pad kom, dan vra jy:
 HOE gaan ek hier DEURKOM?
 Waarom STRAF die Here my op hierdie manier? 
 Wanneer jy met PROBLEME worstel,
 sit jy met jou hande in jou hare.
 Jy is RADELOOS!

Daarom, geliefdes, vat jou Bybel, die Beloftewoord van God,
 en LEES dit ELKE dag!
 BEPEINS dit ELKE dag!
 Maak jou GEDAGTES daarmee VOL.
 Maar ook:
 DOEN dit wat die HERE daarin beveel!
 Doen ALLES wat Hy sê ~
 en doen dit NOUGESET!
 Moenie daarvan AFWYK,
 dit VERANDER
 of net ‘n bietjie AANPAS nie.
 Maar DOEN wat God in Sy Beloftewoord beveel
 en doen SOOS Hy beveel!

Maak dít jou DOELWIT vir hierdie kwartaal en vir jou HELE lewe:
 Om God se Beloftewoord BETER te ken!
 Want daardeur gee God die Heilige Gees aan jou AL die MOED
 en DURF wat jy nodig het om Hom VOLUIT te dien en te eer.
 Deur Sy Beloftewoord VERSTERK Hy jou,
 sodat jy jou beproewings tot Sy eer KAN dra.
 Deur Sy Beloftewoord LEI Hy jou na OPLOSSINGS vir jou probleme.
 Deur Sy Beloftewoord LEI Hy jou om jou kinders so op te voed,
 dat hulle ook tot Sy eer KAN lewe
 in ‘n goddelose wêreld.

Amen.

Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment