'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Sunday, 08 May 2011

Hebreërs 1:14: God stuur sy engele uit om ons op ons geloofspad te ondersteun.

Lees:  Hebreërs 1; 2 Konings 6:8 – 23; Nederlandse Geloofs Belydenis (NGB) artikel 12


Hoofgedagtes:
1.  Engele is in God se diens.
2.  Hy stuur hulle tot voordeel van Sy kinders.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Daar is baie DWALINGS en MISVERSTAND oor die bestaan en werk van die ENGELE!
      Sommige mense sê:
      Dit is STORIES waarmee kinders vermaak word.
      Ander sê:
      Elke mens het ‘n BESKERMENGEL wat jou moet beskerm teen gevare.
      Dan is daar nog mense wat sê:
      Wanneer ‘n gelowige sterf, word hy\sy ‘n engel wat vir ons INTREE by God!

Oor die BESTAAN van die engele kan en mag daar by ons geen TWYFEL wees nie!
 Al kan ons hulle nie SIEN nie ~
 die Bybel sê dat daar engele is.
 Ons lees dikwels van ‘n engel wat aan iemand verskyn het!
 Engele is geestelike wesens, so sê ons teks.
 Dit beteken dat hulle op ‘n ANDER manier lewe as ons.
 Vir ons menslike oog, is hulle op hierdie stadium ONSIGBAAR.
 Want ons kan NET stoflike dinge sien.
 Die GEESTELIKE dinge is nog vir ons VERBORGE.
           
Soos God die hemel en die aarde met alles wat daarin is geskape het, só het Hy ook die engele geskape.
  Ons weet nie presies WANNEER en HOE Hy die engele geskape het nie.
  Daaroor het God NIKS aan ons openbaar nie.
  En ons mag ook nie NUUSKIERIG in hierdie dinge gaan krap nie.
  God het besluit dat ons nie nodig het om iets meer oor die engele te weet as die volgende nie:
  Hulle is dienende geeste ~
  dit wil sê hulle staan volledig in God se diens.
  Hy stuur hulle uit vir diens ter wille van die wat die saligheid sal beërwe ~ soos ons teks sê.

Daarom BELY ons in die NGB art. 12 ook niks méér oor die engele as
  dat hulle deur God geskape is en
  dat Hy hulle gebruik as Sy boodskappers om sy uitverkorenes te dien nie.

Kom ons bepaal dan ons aandag by die volgende 2 sake:
1.  Die engele word deur God uitgestuur.
2.  Hulle doen diens tot VOORDEEL van God se kinders.

Blykbaar het daar by die Joodse Christene aan wie die Hebreër brief geskryf is, ONDUIDELIKHEID bestaan oor die werk van die engele.
 Daarom leer die Here ons uit hoofstuk 1 wat die posisie van die engele in God se raadsplan is.
 Hulle is nie GODDELIKE wesens nie.
 Hulle is nie GELYK aan God nie.
 Maar hulle staan volledig in Sy diens.

In verse 5 – 13 haal die skrywer van hierdie brief 7 keer uit die Ou Testament aan.
 Met elkeen van die aanhalings wys hy daarop
 dat Jesus soveel uitnemender geword het as die engele
 en dat Hy ‘n voortrefliker naam geërf het as hulle ~ soos vers 4 sê.
 Jesus is van ewigheid af die Seun van God.
 Daarom is Hy self God!
 Die engele daarteenoor, is GESKAPE wesens!
 Hulle is die BOODSKAPPERS wat God uitstuur.
 Hulle is Sy DIENAARS wat net op Sy bevel reageer.

Ons moet besef, geliefdes:
 Die ENGELE kan nie ALLES doen nie.
 Hulle is NIE van EWIGHEID af daar nie.
 Hulle is deur God GESKAPE.
 Daarom kan hulle NIE vir ons by God INTREE om ons saak te bepleit nie!
 Ons het maar net EEN Middelaar wat ons saak voor die troon van God stel.
 Ons het net EEN Voorspraak by die Vader,
 Jesus Christus, die Regverdige ~ soos 1 Johannes 2:1 Hom noem.

Want Jesus en Jesus ALLEEN het volledig vir ons sonde betaal.
 Daarom is Hy die ENIGSTE Een wat by God se genadetroon vir ons kan intree.
 Hy ALLEEN kan vir ons pleit op grond van Sy verlossingswerk aan die kruis.

So mag ons NOOIT ons VERTROUE in engele stel nie.
 Hulle kan SELF vir jou NIKS doen nie.
 Hulle KAN en hulle SAL nooit uit hulle EIE optree nie.
 Hulle wag op God se bevel en tree dan so VINNIG soos die WIND op ~ soos vers 7 sê.
 Hulle staan ALTYD gereed om God se opdragte in VOLMAAKTE gehoorsaamheid uit te voer.

Maar, geliefdes, in Sy groot genade GEBRUIK God ook die ENGELE tot ons VOORDEEL!
 Hulle is in Sy diens en moet Sy opdragte gehoorsaam uitvoer.
 Hy stuur hulle om HIER op aarde te kom werk!
 Ons teks sê dat Hy hulle uitstuur om tot voordeel van BEPAALDE mense te werk.
 Die engele is dienende geeste wat vir diens uitgestuur word
 ter wille van die wat die saligheid sal beërwe!

Die saligheid is die ewige lewe wat Christus deur Sy kruis en opstanding verdien het.
 En ons WEET mos wie die ewige lewe uit GENADE van Christus ONTVANG
 of beërwe soos ons teks sê!
 Dit is ELKEEN wat waarlik in Christus GLO!
 GELOWIGES beërwe die saligheid!
 Deur die GELOOF in Christus is ons NOU reeds erfgename van die ewige lewe.

Die woord beërwe en erfgename sê dat ons die erfenis nog NIE volledig in besit geneem het nie.
 Ons is nog op PAD daarheen.
 En op hierdie pad na die saligheid het ons nog baie VYANDE wat ons elke dag aanval.
 Die duiwel en sy bose geeste span al hulle krag in om ons van Christus af LOS te maak!
 Daarom sê Paulus in Efesiërs 6:12
 Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie,
 maar teen die owerhede,
 teen die magte,
 teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu,
 teen die bose geeste in die lug.

Teen hierdie bose geeste in die lug het ons BESKERMING nodig!
 En nou die genade:
 God stuur sy engele uit om ons in die stryd te HELP!
 Ja, die engele van God veg SAAM met ons TEEN die bose geeste van die duiwel.
 Die engele van God BESKERM en ONDERSTEUN ons op God’s bevel.

En ons moet dit goed verstaan, geliefdes!
 Die engele tree SLEGS op GOD se bevel op!
 Hulle is NIE in ONS diens, sodat ONS aan hulle opdragte kan gee nie.
 Hulle wag nie tot ONS hulle hulp inroep nie.
 Die engele is in GOD se diens en hulle luister NET na Sy bevele!
 Selfs ons Here Jesus Christus het vir Petrus gesê:
 Dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid
 en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? (Matt. 26:33)

So kry ons NÊRENS in die Bybel ‘n gelowige wat in sy nood na ENGELE geroep het om hom te kom help nie!
      Maar ons kry TALLE voorbeelde van gelowiges wat na GOD om hulp roep!
      En HY stuur die Engel van die Here
      wat ‘n laer trek rondom die wat Hom vrees,
      en red hulle uit ~ soos Dawid in Psalm 34:8 sing.
      God gee nie vir elke gelowige net ‘n ENKELE beskermengel nie!
      Hy gee aan LEGIOENE ~
      dit is DUISENDE engele opdrag om ons te hulp te snel!

So het Elisa dit in die oorlog teen die Arameërs beleef.
 Hulle het ‘n GROOT leër gestuur om hom te vang.
 Uiteindelik spoor hulle hom in Dotan op.
 Gedurende die nag OMSINGEL hulle die stad.
 Toe Elisa se slaaf die volgende môre die leër van die Arameërs sien, het hy BEANGS uitgeroep:
 Ag, my heer, hoe sal ons maak?
 Hierop het Elisa rustig geantwoord:
 Vrees nie; want die wat by ons is,
 is meer as die wat by hulle is.
 En Elísa het gebid en gesê:
 HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien.
 En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien,
 en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa. (2 Konings 6:16 – 17).
 Die Here het sy magtige leër van engele OPGEROEP en UITGESTUUR om Sy kinders te BESKERM!

Dit, geliefdes, is die heerlike TROOS vir ons.
  Ons staan nie ALLEEN in ons STRYD teen die bose geeste in die lug nie.
  Hier ROMDOM ons,
  ONSIGBAAR vir ons oë,
  is God se LEËR van engele wat HY uitstuur tot ONS voordeel.
  So het ons mos in Psalm 91:6 gesing:
  Rondom jou ruis die eng’levoet 
  met liggewiekte treë,
  hul kom die wandelaar tegemoet 
  en lei hom op sy weë. 
  Hul bied op God’s bevel hom aan
  die hulp van willige hande,
  en dra hom waar die reispad gaan
  oor ruwe rotserande.

En hierdie troos kry nog DIEPER betekenis wanneer ons met die oog van die geloof VERDER as die leër van engele kyk!
  Dan sien ons die Een wat GROTER is as AL die engele.
  Dan sien ons Jesus Christus,
  die BEVELVOERDER wat al die mag in die hemel en op aarde het.
  Hy het selfs die SKANDE van die KRUIS verag om ons te red!
  Hy het met SY kosbare bloed BETAAL, sodat ons kan LEWE.
  HY bewaar en beskerm ons.
  HY moedig ons aan om in die stryd te VOLHARD.

Daarom moet ons HOM aanroep in die dag van nood en stryd.
 Ons moet op HOM alleen vertrou.
 Want dit is HY wat,
 in antwoord op ons NOODKRETE,
 Sy magtige leër van engele uitstuur.
 Op SY bevel knoop hulle die stryd teen die vyand aan.
 Hulle is GOD se KRAGTIGE helde wat dag en nag in Sy diens staan ~
 altyd GEREED en BEREID om op SY bevel op te tree,
 ter wille van ONS wat die saligheid sal beërwe!

Amen.

Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment