Hoofgedagtes:
1. Hy het ‘n Persoonsnaam.
2. Hy doen Goddelike werk.Geliefde broeders en susters en kinders,
Netsoos ons gevra het:
Wat GLO jy van Jesus Christus? ~
moet ons ook vra:
Wat glo jy van die Heilige Gees?
En netsoos jou belydenis oor Jesus BEPAAL
hoe jou lewe op aarde gaan verloop en
waarop jou lewe NA jou dood gaan uitloop,
só BEPAAL dit wat jy van die Heilige Gees GLO,
ook hoe jou lewe op aarde gaan verloop en
waarop jou lewe na jou dood gaan uitloop!
Want dit moet ons goed besef:
Die Heilige Gees is NIE van MINDER belang as die Vader en die Seun nie.
Die Heilige Gees is ook nie ‘n IETS,
terwyl God die Vader en
God die Seun
PERSONE is nie.
Die Heilige Gees is die derde PERSOON in die Goddelike Drie-eenheid!
Daarop vestig Jesus ons aandag in Johannes 16.
En daarom BELY ons in art. 11 van die NGB dat die Heilige Gees inderdaad ware en ewige God is.
Waarom kan ons dit bely?
Jesus gee in ons teks vir ons 2 redes:
1. Die Heilige Gees is die derde Persoon in die Goddelike Drie-eenheid, want Hy het ‘n PersoonsNAAM,
naamlik die Trooster.
2. Die Heilige Gees is die derde Persoon in die Goddelike Drie-eenheid, want Hy doen GODDELIKE werk ~
Hy OORTUIG en
gee LEIDING.
Ons Here Jesus is besig om sy dissipels te TROOS.
Hulle is HARTSEER omdat Hy vir hulle gesê het dat Hy WEGGAAN ~ vers 5 – 6.
Miskien was hulle MEER hartseer oor die dinge wat met Jesus sou GEBEUR.
Hy het naamlik reguit vir hulle gesê:
dat die owerpriesters en skrifgeleerdes Hom sal DOODMAAK;
en dat een van HULLE,
een van Sy DISSIPELS,
Hom sal VERRAAI;
en ook dat Petrus Hom sal VERLOËN!
Só was die byeenkoms van Jesus en sy dissipels, ‘n HARTSEER byeenkoms!
Hulle was besig om van Hom AFSKEID te neem!
Hy is hulle LEERMEESTER,
die Goeie Herder wat sy skape baie LIEFHET!
En HULLE is Sy GELIEFDE skape!
Daarom is Jesus tydens hierdie afskeidsgeleentheid besig om sy dissipels te TROOS!
Sy troos is nie ‘n klomp sentimentele en niksseggende woorde nie.
Hy TROOS hulle deur hulle op die VOORDEEL van Sy heengaan te wys.
Hy sê in vers 7:
Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan!
Voordelig?!
KAN dit voordelig wees dat Hy HEELTEMAL weggaan?
As ‘n mens OPPERVLAKKIG daarna kyk, geliefdes, dan lyk dit NIE so nie!
Dink net hoe VINNIG die Evangelie oor die aarde sou kon versprei,
as Jesus SELF nog LANGER by sy dissipels gebly het!
Hoeveel mense sou nie deur Sy WONDERWERKE tot GELOOF gekom het nie?
Wie van ons het nog nooit gewonder HOE dit sou wees as Jesus SELF nog hier op aarde kon wees nie?
Hoe BAIE dinge is daar nie wat jy vir Hom sou kon VRA nie?
Hy sou mos AL die dinge in die Bybel wat ons NIE verstaan nie
en waaroor ons van mekaar VERSKIL,
vir ons kon ANTWOORD!
Maar nou is Jesus NIE meer op die aarde nie!
En Hy het self gesê:
Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan!
Waarom voordelig?
Wat is die VOORDEEL vir die dissipels,
en ook vir ONS, in Jesus se heengaan?
Luister wat sê Hy in vers 7:
As Ek nie weggaan nie,
sal die Trooster nie na julle kom nie;
maar as Ek weggaan,
sal Ek Hom na julle stuur!
Die Trooster sal kom as Jesus weggaan!
WIE is die Trooster?
Hierdie Naam:
die Trooster sê alreeds dat dit IEMAND is,
‘n PERSOON!
Jesus stuur nie ‘n IETS om ons te troos nie,
maar Hy stuur IEMAND!
En die Iemand,
die Trooster, is die Gees van die waarheid, soos Jesus in vers 13 sê.
Die Gees is mos die HEILIGE GEES!
Hy is NIE ‘n Iets nie!
Hy is ‘n Iemand ~
‘n Iemand met ‘n PersoonsNAAM!
In Johannes 14:16 het Jesus reeds van die Heilige Gees gepraat as die ander Trooster.
Met die woord ander impliseer Jesus:
Een soos EK!
Een wat MY plek sal inneem!
As Jesus dan ‘n Persoon is,
dan MOET die ander Trooster,
die Een wat Sy PLEK sal inneem,
mos OOK ‘n Persoon wees!
En verder:
Hierdie ander Trooster,
die Een wat Jesus se plek sal inneem,
die Heilige Gees,
Hy sal deur Jesus GESTUUR word.
Soos God die Vader Sy EIE Seun GEGEE en GESTUUR het
om vir ons sonde te betaal,
só GEE God die Vader die Heilige Gees,
en God die Seun STUUR Hom na ons toe
as ons Trooster wat in Jesus se PLEK kom staan!
Daarom, geliefdes, kan ons van harte saam met die NGB in art. 11 bely:
Dat die HEILIGE GEES in orde die derde Persoon in die Drie-eenheid is,
dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is,
en dat Hy inderdaad ware en ewige God is.
Maar God die Heilige Gees het nie net ‘n PersoonsNAAM nie.
Hy doen ook GODDELIKE werk.
Hy is die Trooster.
‘n Trooster is iemand wat na jou toe gestuur word
om jou op verskillende maniere te HELP.
Die HULP wat die Heilige Gees gee,
is TROOS en ONDERRIG en LEIDING.
Ons kan sê:
God die Vader het die Heilige Gees GEGEE en
God die Seun het Hom GESTUUR
om aan ons AL die HULP te gee wat ons nodig het, sodat ons:
in Jesus kan GLO en
in die geloof kan VOLHARD en
teen ons sonde kan STRY!
Dit, geliefdes, is die GODDELIKE werk wat die Heilige Gees kom doen het!
Hy is die Een wat ons HELP deur:
die wêreld (te) oortuig van sonde en
van geregtigheid en
van oordeel.
Die woord oortuig beteken nie NET:
om iemand skuldig te BEWYS nie,
maar ook om hom te OORTUIG dat hy wel skuldig IS!
Dit wil sê hy moet sy skuld AANVAAR en dit BELY!
Waarvan oortuig die Heilige Gees die wêreld?
Hier beteken die woord wêreld, die ONGELOWIGES.
Die Heilige Gees oortuig die ongelowiges van 3 dinge:
van sonde en
ongeregtigheid en
oordeel!
Van WATTER sonde oortuig die Heilige Gees die wêreld?
Jesus sê:
Van sonde, omdat hulle in My nie glo nie!
Dit is die KERN sonde of die BELANGRIKSTE sonde waarvan die Heilige Gees die ongelowiges, en ook vir ONS, oortuig:
ALMAL moet BESEF:
dit is sonde om NIE in Jesus Christus te GLO nie!
En die Heilige Gees roep mense om hulle skuld te AANVAAR en
dit voor God te BELY!
SOMMIGE ongelowiges DOEN dit inderdaad!
Daarom kom mense nog tot GELOOF en BEKERING!
Maar God die Heilige Gees oortuig mense verder van geregtigheid!
Jesus sê in vers 10:
Geregtigheid, omdat Ek na My Vader gaan en
julle My nie meer sal sien nie!
Hiermee praat Hy van Sy opstanding en hemelvaart.
Die Heilige Gees gebruik Jesus se opstanding en hemelvaart as die BEWYSSTUKKE om mense te laat BESEF:
Jesus Christus is die REGVERDIGE (1 Johannes 2:1).
Hy het ONSKULDIG aan die kruis gesterf!
Daardeur het Hy die skuld van DOODSKULDIGE mense gedra!
Want:
As Hy NIE heeltemal SONDER sonde was nie,
sou God die Vader Hom nie in die HEMEL toegelaat het nie!
Op grond van Heilige Gees se werk in mense se HARTE, gebeur die volgende:
SOMMIGE ongelowiges AANVAAR hulle eie skuld,
en soek hulle verlossing by Christus
en stry teen die owerste van hierdie wêreld!
Maar ander aanvaar NIE hulle skuld nie,
VERWERP Jesus Christus
en werk SAAM met die owerste van hierdie wêreld!
Maar die Heilige Gees is nie net die Een wat mense OORTUIG nie!
Hy is ook die Een wat ons hand vat en ons LEI.
Jesus sê:
Maar wanneer Hy gekom het,
die Gees van die waarheid,
sal Hy julle in die hele waarheid lei!
Let op, geliefdes, Jesus noem die Heilige Gees:
die Gees van die waarheid.
Dit beteken:
die Heilige Gees ken SLEGS die waarheid en
Hy dra SELGS die waarheid oor!
Daarom kan ons weet:
Die Heilige Gees sal ons NOOIT op ‘n DWAALWEG lei nie!
Die waarheid waarin die Heilige Gees ons lei, is dit:
dat Jesus Christus en Hy ALLEEN,
deur Sy kruis en opstanding,
verlossing van sonde bewerk het!
Dat Jesus Christus KLAAR vir AL ons sondeskuld VOLLEDIG betaal het!
Dat ELKEEN wat in Hom GLO,
nooit VERLORE sal gaan nie,
maar REEDS die ewige lewe HET!
In HIERDIE waarheid, lei die Heilige Gees ons!
Hy loop VOOR ons en SAAM met ons,
sodat ons nie VERDWAAL en VERLORE gaan nie!
Hy is soos jou GIDS wat jou deur ‘n VREEMDE land lei en begelei!
Hy is ELKE oomblik DIGBY jou!
Dit, geliefdes, is die Goddelike werk wat God die Heilige Gees kom doen het!
Ons weet mos:
Jy kan NIEMAND oortuig om in Jesus te glo nie!
Jy kan maar net PLANT en NATMAAK, soos Paulus in 1 Korinthiërs 3 sê.
Dit is God die Heilige Gees wat laat GROEI.
Maar nou EIS dit ook van ons dat ons die leiding van God die Heilige Gees moet VOLG!
Ons moet altyd en onder ALLE omstandighede na Hom LUISTER en DOEN wat Hy beveel!
Want ons moet besef:
Ons kan SONDER die leiding van die Heilige Gees NOOIT in die Vaderhuis uitkom nie!
Ons kan NOOIT sonder Sy leiding klaarkom nie!
Wanneer jy deur BEPROEWINGS worstel,
het jy die leiding van die Heilige Gees NODIG om jou hand STYF vas te hou,
sodat jy nie STRUIKEL en VAL nie.
Wanneer jy BESLUITE moet neem,
het jy die leiding van die Heilige Gees NODIG,
want Hy WEET wat die BESTE vir jou is.
Wanneer VERSOEKINGS op jou pad kom en die owerste van hierdie wêreld jou in sy mag probeer kry,
het jy die leiding van die Heilige Gees nodig.
Want uit EIE krag sal jy NOOIT kan oorwin nie.
Wanneer die dae van TWYFEL die son agter die wolke laat verdwyn,
het jy die leiding van die Heilige Gees nodig
om jou weer in die LIG van SEKERHEID in te bring!
Geliefdes, uit GENADE is God die Heilige Gees
deur God die Vader en
God die Seun gestuur om
BY ons te bly tot aan die VOLEINDING van die wêreld!
Hy LEI jou, sodat jy nie verdwaal nie!
Moet tog NOOIT jou hand uit die hand van God die Heilige Gees UITTREK nie!
Moet tog NOOIT jou EIE kop probeer volg nie!
Moet tog NOOIT dink dat JY beter weet nie!
Maar:
VOLG die leiding van God die Heilige Gees NOUGESET!
Moenie LINKS of REGS afwyk nie.
VOLG Hom tot in die KLEINSTE besonderhede.
Want Hy LEI jou in die hele waarheid!
Amen.
Ds A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment