Hoofgedagtes:
1. Sy menslike afkoms.
2. Sy Goddelike afkoms.Geliefde broeders en susters en kinders,
Elke WIEL het ‘n AS.
En die as MOET presies in die MIDDEL van die wiel wees.
Anders draai die wiel nie reg nie.
As ons nou ons GELOOF met ‘n WIEL vergelyk,
dan MOET Christus PRESIES in die MIDDEL van ons geloofswiel wees!
Want Hy is die AS waarom ons GELOOF
en ook ons HELE lewe draai.
Hy is die As wat nie net in die MIDDELPUNT van jou lewe hier op aarde moet wees nie,
maar Hy is ook die As wat PRESIES in die middelpunt van jou EWIGE lewe staan!
Sonder Hom kan die wiel van jou geloof ~
en ook die wiel van jou lewe nie REG draai nie.
Daarom staan Jesus SENTRAAL in die Bybel!
Die Ou Testament wys VOORUIT na Christus toe.
Die Nuwe Testament wys die KOMS van Christus aan (die Evangelies)
en kyk ook weer TERUG na dit wat Hy gedoen het (die res van die Nuwe Testament.)
Maar Jesus staan ook SENTRAAL in ons belydenisskrifte.
Die GROOTSTE deel van die 12 artikels handel oor dit wat ons van Jesus GLO.
‘n GROOT deel van die Kategismus word gebruik om dit wat ons van Christus glo, te verduidelik.
Netso het ons belydenis oor Jesus ook ‘n ONONTBEERLIKE plek in die NGB.
Daarom is die vraag:
Wat GLO jy van Jesus?
seker die BELANGRIKSTE vraag waaroor elke gelowige homself moet verantwoord.
Kom ons ANTWOORD die vraag vanuit Miga 5 en NGB art. 10.
Uit Miga 5 leer ons:
God gee vir ons ‘n Heerser of Regeerder uit die voortyd.
In ons teks leer ons 2 dinge van die Heerser of Regeerder:
Ons leer 1. Dat Hy ‘n MENSLIKE afkoms het en
2. dat Hy ‘n GODDELIKE afkoms het.
En jy, Betlehem Éfrata,
klein om te wees onder die geslagte van Juda,
uit jou sal daar vir My uitgaan
een wat ‘n Heerser in Israel sal wees.
Hiermee, geliefdes, openbaar die Here die MENLIKE afkoms van die Heerser of Regeerder.
In hoofstuk 4 het die HERE die volgende SKOKKENDE dinge deur Miga aangekondig:
Jerusalem, die stad van God, sal deur haar vyande VERWOES word ~ vers 9 – 11.
Die HERE se volk sal BAIE swaarkry.
Dit sal lyk of hulle totaal UITGEROEI gaan word.
Daar sal NIEMAND wees wat hulle HELP nie.
Dit sal lyk asof daar vir God se volk GEEN verlossing uit die mag van hulle vyande is nie.
Die TOEKOMS vir God se volk het DONKER gelyk!
Maar in hoofstuk 5 gee die HERE weer die vooruitsig op ‘n BETER toekoms!
God se volk sal NIE uitgeroei word nie.
Hy sal vir hulle ‘n NUWE toekoms gee deur ‘n NUWE Heerser.
En hierdie NUWE Heerser is niemand anders as die Messias,
die Verlosser wat God beloof het nie!
Hy, die nuwe Heerser, het ‘n MENSLIKE afkoms!
Ons gaan nie vanaand die klem op Sy menslike afkoms laat val nie.
Art. 18 en 19 handel daaroor.
Daarom net ‘n paar opmerkings oor die menslike afkoms van die Heerser.
Hy kom uit Betlehem, Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda!
Dit is Sy GEBOORTEPLEK ~
die KLEIN en ONBELANGRIKE dorpie Betlehem!
Let mooi op, geliefdes, nie Jerusalem,
die Godstad, waar al die stamme op Gods bevel hul feesdag hou,
soos die Psalmdigter in Ps. 122 sing nie,
maar Betlehem, die huis van brood!
God gee die WARE Brood wat lewe gee!
En hierdie Heerser,
hierdie ware Brood wat lewe gee,
is niemand anders as ons Here Jesus Christus nie!
In Johannes 6:35 het Jesus gesê:
Ek is die brood van die lewe;
wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie;
en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.
Daarom is sy WERKLIKE afkoms nie uit Betlehem en die geslag van Juda nie!
Hy het ‘n HEMELSE afkoms!
In Miga 5:1 sê die HERE:
Daar sal vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Juda sal wees.
Let mooi op, geliefdes:
Die HERE gee ‘n Heerser vir sy volk.
En tog sê Hy NIE:
Daar sal VIR JULLE een uitgaan nie!
Maar Hy sê:
Daar sal VIR MY een uitgaan.
Dit beteken:
Hierdie Heerser kom van GOD af!
Hy KEN God se BESLUIT deur en deur!
En nog verder ~
Hy sal God se besluit VOLLEDIG uitvoer!
Hy sal HOMSELF daarvoor OORGEE!
En dan hoor ons hoe ons Here Jesus in sy Hoëpriesterlike gebed in Johannes 17:3 + 4 sê:
En dit is die ewige lewe,
dat hulle U ken,
die enige waaragtige God,
en Jesus Christus wat U gestuur het.
Ek het U verheerlik op die aarde.
Die werk wat U My gegee het om te doen,
het Ek volbring.
Daarom MOET ons bely:
Jesus Christus is die Heerser wat die HERE deur die profeet Miga aangekondig het!
En Hy, hierdie Heerser, kom van God af ~
Hy is WAARLIK God!
Maar, geliefdes, die volgende woorde in ons teks BEVESTIG ook die Heerser se Goddelike afkoms:
Hierdie Heerser se uitgange is uit die voortyd,
uit die dae van die ewigheid.
Sy OORSPRONG lê baie VER terug ~
in die VERRE verlede.
Die voortyd en die dae van die ewigheid waarvan hier gepraat word,
gaan NIE net terug tot by die SKEPPING en die tyd NA die skepping nie.
In Psalm 90:2 gebruik Moses hierdie selfde Hebreeuse woord as hy van God se bestaan praat ~
Van ewigheid tot ewigheid is U God!
Die HERE sê dus deur Miga vir ons:
Hierdie Heerser wat kom, is NIE soos die dinge wat God in die BEGIN geskep het nie.
Hy is NIE ‘n SKEPSEL van God nie!
Die OORSPRONG of AFKOMS van die Heerser lê baie VERDER terug!
Hy is van ewigheid tot ewigheid ~
NETSOOS God van ewigheid tot ewigheid is!
Hierdie Heerser,
hierdie Messias,
hierdie Verlosser,
hierdie Een wat die LEWE gee ~
HY is waarlik GOD!
Daarom het Johannes, onder inspirasie van die Heilige Gees in Johannes 1 getuig
dat hierdie Heerser van Miga 5:1,
wat uit die voortyd,
uit die dae van die ewigheid kom,
dat Hy in die begin by God was (Joh. 1:1).
Alle dinge het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie (vers 3)
Hy is die Woord wat vlees geword het
en onder ons gewoon het (vers 14)
Daarom kan ons van harte saam met art. 10 van die NGB bely:
Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur
die eniggebore Seun van God is.
Hy is nie gemaak nie en
nie geskep nie,
want dan sou Hy ‘n skepsel wees.
Hy is een wese met die Vader,
ewig saam met Hom.
Hy is van ewigheid die Seun van God
en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie.
Hierdie belydenis, geliefdes,
dat Jesus Christus nie ‘n blote SKEPSEL soos ONS is nie,
maar dat Hy van EWIGHEID bestaan,
of dat sy uitgange uit die voortyd,
uit die dae van die ewigheid is, soos ons teks sê,
hierdie belydenis is die AS waarom die wiel van ons geloof draai.
SONDER die eniggebore Seun van God wat in die begin by God was,
is ons VERLORE.
SONDER Hom moet ons nog SELF die ewige straf van God op ons sonde dra.
SONDER Hom is ons toekoms DONKER.
Ja, SONDER Hom het ons GEEN hoop op ware lewe nie!
AL wat vir ons oorbly, is die ewige DOOD!
Daarom is die vraag:
Wat GLO jy van Jesus Christus?
so ‘n LEWENSBELANGRIKE vraag!
Jou lewe hier op AARDE word deur jou antwoord op hierdie vraag BEHEER.
Jou antwoord op hierdie vraag bepaal jou LEWENSRIGTING.
GLO jy en BELY jy:
Jesus Christus is die ENIGGEBORE Seun van God;
Hy is waarlik GOD?
Dan MOET jy en dan SAL jy Hom EER
deur in gehoorsaamheid aan Sy Woord te lewe.
Is dit nie moontlik een van die redes waarom Jesus se Naam so baie MISBRUIK word nie?
Dat mense nie GLO dat Hy WAARLIK God is nie?
Dat mense aan Hom dink en oor Hom praat,
asof Hy maar net ‘n MENS is,
NETSOOS ons?
Maar jou belydenis oor Christus BEPAAL en BEHEER ook jou EWIGE lewe!
Jesus het self gesê:
Ek is die weg en die waarheid en die lewe;
niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Joh. 14:6)
Geliefdes,
is Jesus Christus, die Seun van God
die AS wat PRESIES in die MIDDEL van jou GELOOFWIEL is?
Is Hy ook die As, PRESIES in die MIDDEL van jou hele LEWE?
Amen.
Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment