'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Tuesday, 10 May 2011

Gen. 1:26-27: God openbaar Homself in Sy werk as die Drieënige God.

Lees:    Gennesis 1:26-31; Numeri 6:22-27; Mattheus 3:13-17; 28:16-20; Nederlandse Geloofs Belydenis (NGB) artikel 8-9

Teks:   Gen. 1:26-27; Num. 6:24-26; Matt. 3:16-17; 28:19

Hoofgedagtes:
1. God openbaar Homself as 3 Persone in een wese.
2. Die openbaring word duidelik in die werk wat Hy doen.

Om oor die Drie-eenheid van God te preek, geliefde broeders en susters en kinders,
      en dit vir u te VERDUIDELIK,
      is eenvoudig NIE moontlik nie!
      Want daar is NIEMAND wat dit werklik kan VERSTAAN nie!
      Die Here VERDUIDELIK dit NIE vir ons nie.
         Ons moet dit net GLO!

Daarom probeer ons belydenisskrifte ook nie om die Drie-eenheid van God aan ons te VERKLAAR en te VERDUIDELIK, sodat ons dit kan VERSTAAN nie.
  In artikel 1 van die NGB bely ons eenvoudig:
 Ons GLO dat daar ‘n enige, enkelvoudige, geestelike Wese is wat ons God noem.
  In artikel 8 + 9 bely ons nou dat hierdie enige, enkelvoudige, geestelike Wese ONDERSKEI word in 3 PERSONE.
 Want sò het Hy homself in Sy Woord aan ons OPENBAAR.

Uit al die Skrifgedeeltes wat ons gelees het, leer ons die volgende:
  God OPENBAAR Homself in sy WERK as die Drie-enige God!

Kom ons kyk:
1.    hoe God Homself openbaar as 3 PERSONE in EEN Wese en
2.    hoe hierdie openbaring duidelik word uit die WERK wat Hy doen.

In Genesis 1 lees ons hoe God alles uit NIKS geskape het.
  Hy het net GESÊ ~
  en dit het gebeur!
  Sò het Hy ALLES geskape ~
  BEHALWE die MENS!

By die skepping van die MENS, openbaar God dat daar ‘n sekere MEERVOUDIGHEID in Homself is.
 Vers 26 sê:
 Laat Ons mense maak na ons beeld,
 na ons gelykenis.
 Hier praat God van Homself in die MEERVOUD!
 Maar in vers 27 lees ons:
 En God het die mens geskape na sy beeld;
 na die beeld van God het Hy hom geskape,
 man en vrou het Hy hulle geskape. 
  Hier praat Hy weer van Homself in die ENKELVOUD!

Op grond hiervan kan ons sê:
 God is ONS en HY!
 Hy is ENKELVOUD
 en MEERVOUD tegelyk!

Dit, geliefdes, is te GROOT om met ons KLEIN menslike verstandjies werklik te VERSTAAN en te BEGRYP!
 Ons menslike verstand sê:
 EEN + EEN + NOG een = DRIE.
 Maar God sê:
 EEN + EEN + NOG een = EEN!

Wat behels hierdie MEERVOUDIGHEID in God?
 Dit word nie in die Ou Testament so duidelik aan ons openbaar nie.
 Daarom moet ons hierdie meervoudigheid in die lig van die Nuwe Testament ondersoek.
 Want God openbaar Homself in die Nuwe Testament nog DUIDELIKER aan ons.

Nou is dit opmerklik dat Hy hierdie openbaring aan ons gee, by 2 groot geleenthede in die Nuwe Testament, naamlik:
 toe Jesus GEDOOP is,
 dit is net VOOR Hy met sy amptelike werk op aarde BEGIN en
 kort VOOR sy HEMELVAART,
 dit is NADAT Hy sy werk op aarde AFGEHENDEL het.
 Hiermee maak God dit duidelik dat Hy EEN WESE is
 en tog in DRIE Persone onderskei kan word.
 God is HY (enkelvoud) EN
 ONS (meervoud) teglyk!

Kom ons kyk hoe Hy dit aan ons bekend maak by Jesus se DOOP.
 Ons lees dit in Mattheus 3:13 – 17.
 Veral verse 16 + 17 is hier van belang.
 En nadat Jesus gedoop was,
 het Hy dadelik uit die water opgeklim,
 en meteens gaan die hemele vir Hom oop,
 en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal
 en op Hom kom.
 En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê:
 Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. 

Hiermee openbaar God dat Hy 3 PERSONE is!
 God die Seun staan by die water;
 God die Heilige Gees daal op Hom neer in die vorm van ‘n duif en
 God die Vader praat uit die hemel.
 Hy is 3 GODDELIKE PERSONE
 en tog:
 net EEN enkelvoudige geestelike WESE!

Dit word nog duideliker aan ons bekend gemaak kort voor Jesus se hemelvaart.
 In Mattheus 28:19 gee Jesus die volgende opdrag:
 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies,
  en doop hulle in die Naam van
 die Vader en
 die Seun en
 die Heilige Gees!
 Jesus se opdrag is om in EEN Naam te doop,
 naamlik die Naam van God.
 Daarom word die woord Naam net EEN maal gebruik:
 Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees!
 Hieruit kan ons aflei
 dat God EEN is
 en tegelyk ook DRIE!

Daarmee word NIE gesê dat daar 3 GODE is nie!
 As ons teks sou beteken dat daar 3 GODE is,
 dan sou hier gestaan het:
 Doop hulle in die NAAM van die Vader en
 in die NAAM van die Seun en
 in die NAAM van die Heilige Gees ~ of:
 Doop hulle in die NAME van die Vader en
 die Seun en
 die Heilige Gees!
 So sê Jesus met die doopopdrag
 dat die Vader, Seun en Heilige Gees
 net EEN God is!
 Daarom gebruik Hy die woord “NAAM” net EEN keer!

Die Drie-eenheid van God, geliefdes, is nie iets wat ons kan VERSTAAN nie! 
 Ons moet dit net van harte GLO!
 Want sò het God Homself aan ons BEKEND gemaak!
Sò leer ons Hom ook ken uit die WERK wat elkeen van die drie PERSONE doen.
      Wanneer die Here in Numeri 6:24 - 26 aan die priesters opdrag gee om die volk te seën,
      openbaar Hy daarmee die WERK wat elkeen van die 3 Persone in die Goddelike drie-eenheid doen.

Hierdie seën bevestig dat daar net EEN God is, ONDERSKEI in 3 Persone.
 Daarom word die Naam HERE hier gebruik om die werk van AL DRIE Persone aan te dui.
 Die HERE ~
 die VERBONDSGOD,
 Hy BESKERM ons!
 Die HERE ~
 die VERBONDSGOD,
 Hy bewys GENADE aan ons!
 Die HERE ~
 die VERBONDSGOD,
 Hy gee aan ons VREDE

Om te behoed of te BESKERM ~ dit is die werk wat God die Vader doen!
  Daarvan sing Dawid in Psalm 103:13
  Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders,
  so ontferm die HERE Hom oor die wat hom vrees!
  En Jesus leer ons bid:
  Onse Vader wat in die hemel is! (Matt. 6:9).
  Die HERE ~
  die VERBONDSGOD,
  wat alles geskep het deur net ‘n WOORD te sê,
  Hy is ons Vader!
  Hy BESKERM ons ELKE dag!

Wat ‘n heerlike TROOS is dit nie vir ons nie, geliefdes!
  Ons beleef baie dinge wat ons BANG en BEKOMMERD maak.
  Maar ons het die BELOFTE:
  Die HERE sal jou seën en jou behoed!
  Kyk maar net in jou lewe hoe jou HEMELSE Vader hierdie belofte nakom!     

Daarby het Hy ook belowe:
 Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees!
 Die genade warvan hier gepraat word,
 is die REDDING of VERLOSSING uit die mag van die DUIWEL en die SONDE!
 Dit is die REDDENDE genade van God die SEUN ~
 die reddende genade van ons Here Jesus Christus!

Daarom het die Vader by Jesus se doop uit die hemel gesê:
 Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.
 God die Vader is ons genadig deur Sy geliefde Seun te stuur om ons te RED.
 Dit is ‘n redding wat GEEN blote MENS kan bewerk nie.
 Die verlossing het Hom AL die angs en pyn van die HEL gekos.
 Daardeur het Hy gewys dat Hy waarlik God is!

Daarom kan ons met vreugde BELY:
 Die HERE,
 die VERBONDSGOD,
 Hy het ons GERED!
 Hy het ons VERLOS!
 Want Hy het die VOLLE losprys in ons plek BETAAL!

Maar Hy het ook belowe:
 Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee!
 Dit is die werk van God die Heilige Gees!
 Hy het IN ons harte kom woon.
 Hy is die Vrede van God wat alle verstand te bowe gaan!
 Dit is Hy wat oor ons harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:7).
 Dit is Hy wat saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is (Rom. 8:16).
 Dit is Hy wat vir ons INTREE wanneer ons nie weet wat om te BID nie (Rom. 8:26).

Daarom kan ons met vreugde bely:
 Die HERE,
 die VERBONDSGOD,
 Hy skenk aan ons VREDE!
 Sò openbaar God Homself aan ons in sy Woord!
 Sò maak Hy Homself aan ons bekend ~
 deur die WERK wat Hy doen!
 Met ons VERSTAND kan ons dit NIE verstaan en VERKLAAR nie!
 Maar deur die genade van God die Heilige Gees kan ons dit van harte GLO!

Daarom, geliefdes, VERBLY jou in die Here ONS God!
  Die Vader ons Beskermer.
  Die Seun ons Verlosser en
  Die Heilige Gees ons Vredemaker!

Amen.

Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment