Teks: Matt. 24:12 - 13
Hoofgedagtes:
Hoofgedagtes:
1. Wetteloosheid.
2. Gevriesde liefde.
3. Volharding tot die einde.Geliefde broeders en susters en kinders
Hoe laat is dit? Nee, ek vra nie dat jy op JOU horlosie moet kyk nie!
Hoe laat is dit op God se horlosie?
Want Hy het aan ons ‘n horlosie gegee waarop ons moet kyk om te sien DAT Christus op pad is!
En hierdie horlosie is die tyd waarin ons lewe en
die dinge wat om ons gebeur!
Dit sê nie vir ons presies WANNEER Jesus weer sal kom nie, maar dit sê vir ons:
DAT Hy BESLIS op pad is!
Maar nou ken die Here ook ons swak oë ~ dat ons kyk en tog nie SIEN nie!
- Daarom het Hy ook vir ons ‘n BRIL gegee ~
- die bril van die Bybel!
Kom ons kyk vanoggend met die BRIL van die Bybel op God se HORLOSIE!
- Ons kyk na 2 BELANGRIKE aanduidings wat Jesus vir ons gee,
- 2 dinge wat saam met al die ander dinge, vir ons sê:
- Kyk! Jesus Christus is beslis op pad!
Hierdie 2 aanduidings is:
- Wetteloosheid en
- Gevriesde liefde!
Ons teks sê dat die ongeregtigheid vermeerder word
- of soos die ’83 vertaling vertaal het:
- die minagting van die wet van God sal toeneem!
- Dit beteken:
- dat die Bybel nie meer in die MIDDELPUNT van mense se lewens sal wees nie!
- Alles wat mense DINK en DOEN en SÊ,
- sal nie meer aan die Bybel gemeet en getoets word nie.
En ons moet goed oplet, dat Jesus sê:
- Die ongeregtigheid word vermeerder!
- Eintlik moet ons sê:
- Dit sal VERMENIGVULDIG!
- Ons het nie met ‘n OPTELSOM te doen nie,
- maar met VERMENIGVULDIGING!
- 6 MAAL 6 word immers BAIE vinniger MEER as 6 PLUS 6!
Daarmee sê Jesus dat al hoe MEER mense nie voor die gesag van Sy Woord sal buig nie!
- Die Bybel sal vir die meeste mense soos BOEIE voel waardeur jy magteloos VASGEBIND word!
- En as jy vasgebind is,
- dan wil jy so gou moontlik LOSKOM!
Is dit nie die dinge wat ons om ons sien gebeur nie, geliefdes?
- Mense aanvaar nie meer dat die Bybel God se Woord is nie.
- Daarom het dit wat die Bybel sê, ook nie GESAG oor hulle hele lewe nie.
- Ons hoor al hoe meer dat mense sê:
- Die Bybel is OUTYDS!
- Ons moet die Bybel op ‘n MODERNE manier verstaan,
- want die tyd waarin ons leef het mos VERANDER!
- Daarom kan die beginsels wat in die Bybelse tyd gegeld het,
- nie meer vir ONS geld nie!
Maar wanneer die BEGINSELS van God se Woord geïgnoreer en verander word, dan VERMENIGVULDIG wetteloosheid!
- En wetteloosheid dring deur tot ALLE dele van die lewe!
- Alle GESAG moet WEGGEGOOI word ~
- ouers se gesag oor hulle kinders;
- onderwysers se gesag oor leerders;
- die kerk se gesag oor lidmate;
- die staat se gesag oor sy onderdane ~
- en uiteindelik ook God se gesag oor alle dinge!
Kom ons kyk na die wêreld waarin ons leef, geliefdes!
- Dissiplinêre probleme kom ALGEMEEN voor:
- in die ouerhuise;
- in die skole;
- in die kerke;
- by die werkplek;
- Dink ook aan misdaad soos:
- Bedrog;
- Inbrake;
- Diefstal;
- Moord;
- Verkragtings;
- So kan ons voortgaan!
- Daar is letterlik geen deel van ons samelewing wat nie onder WETTELOOSHEID gebuk gaan nie!
Maar hierdie wetteloosheid word ook sigbaar waar ons nie LUISTER na God se Woord nie!
- Waar ons tevrede is om in ons sonde te volhard;
- Waar ons halfhartig probeer om God darem so op ‘n manier te dien!
- Waar ons sê:
- Dit maak nie saak HOE jy God dien nie,
- net SOLANK jy Hom darem dien ~
- ook daar word die wetteloosheid sigbaar!
U sien, geliefdes, ons moenie wetteloosheid net in die WÊRELD en net by ANDER mense gaan soek nie!
- Ons moet die gees van wetteloosheid ook in ons EIE lewens sien!
Maar ons mag die saak nie daar laat nie!
- Ons moet weer voor die gesag van die Bybel BUIG.
- Ons moet DOEN wat God in sy Woord sê,
- SONDER om dit te BEVRAAGTEKEN,
- of te verander
- of aan te pas by ons omstandighede!
Want wetteloosheid lei tot GEVRIESDE liefde!
Jesus sê in vers 12:
- Omdat die ongeregtigheid vermeerder word,
- sal die liefde van die meeste verkoel.
- Dit is weer eens iets wat ALGEMEEN voorkom!
- Die groot gebod van liefde tot God en liefde tot die naaste,
- word deur wetteloosheid AFGEKOEL!
- Wetteloosheid is die YS waardeur die vlam van liefde GEBLUS word!
Kom ons kyk eers wat liefde beteken.
- Die liefde waarvan Jesus hier praat, is die liefde vir God!
- Dit is die EWIGE liefde wat 1ste tot God gerig word en
- van daaruit OORVLOEI en UITVLOEI tot jou naaste!
- Of anders gestel:
- Dit is om God bo ALLES lief te hê en
- jou naaste soos jouself!
- Van hierdie liefde het Jesus gesê:
- Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
- Hierdie GEBOD van liefde tot God en liefde jou naaste ~
- DAARIN word ALLES wat in die hele Bybel staan, SAAMGEVAT!
- Daarom kan ons sê:
- Vat die wet of die Woord van God WEG,
- en die LIEFDE beland in die VRIESKAS!
Kom ons kyk weer hoe die liefde wat God van ons eis in die VRIESKAS van ons EIE sondige begeertes ingedruk word!
- En dit wat daar uitgehaal word,
- is niks anders as ‘n SPOTPRENT van God se liefde nie!
Liefde word GELYK gestel aan SEKS!
- Jy moet jou seksuele drifte en begeertes kan uitleef soos dit JOU pas en soos JY wil!
- Daarom is seksuele verhoudings BUITE en VOOR die huwelik iets wat ALGEMEEN gebeur!
- Jy moet jou seksuele begeertes ook kan uitleef MET wie jy wil!
- Daarom word homoseksualisme iets ALGEMEEN!
Maar liefde word ook gelyk gestel met SELFLIEFDE!
- Alles draai om JOUSELF.
- Jy leef vir JOUSELF.
- Jy WERK vir jouself.
- Jy gee net vir JOUSELF om!
- Daarom raak mense al hoe meer ONBETROKKE by mekaar.
U sien, geliefdes, wetteloosheid en liefdeloosheid hoort bymekaar!
- Waar die Woord van God geïgnoreer word,
- daar kan jy nie waarlik LIEFHÊ nie!
- Die apostel Johannes het gesê:
- Elkeen wat God se woord bewaar ~
- dit wil sê daaraan gehoorsaam is ~
- in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword! (1 Joh. 2:5).
- Sonder gehoorsaamheid aan God,
- beland die liefde in die vrieskas!
In die plek daarvan, kom HAAT!
- En haat bring OORLOG en vyandskap ~ vers 6, 7;
- Dit veroorsaak dat selfs HUISGESINNE uitmekaar skeur!
- Jesus sê in Mark. 13:12
- die een broer sal die ander tot die dood oorlewer,
- en die vader sy kind,
- en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak!
As ons met hierdie bril na die wêreld kyk waarin ons leef, sien ons DUIDELIK hoe die dinge gebeur!
Nou is ons geneig om BANG en VERSKRIK te word.
- Ons staar ons BLIND teen al die negatiewe dinge wat ons beleef.
- ‘n Mens wil jou oë en jou ore TOEDRUK,
- sodat jy die dinge nie sien een hoor nie!
- Maar ons moet met die bril van die Bybel daarna kyk!
- Ons moet op God se horlosie kyk.
- Want ook die wetteloosheid en gevriesde liefde bring aan ons die boodskap:
- Kyk! Jesus is op pad!
En die vraag is nou:
- Hoe gaan die kerk en
- ons as gelowiges
- in so ‘n koue wêreld van wetteloosheid en liefdeloosheid oorleef?
Jesus se antwoord klink nie na die beste oplossing nie!
- ž Hy sê:
- ž Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word!
Volharding is in die Griekse taal ‘n militêre uitdrukking waardeur die DAPPERHEID en DURF van ‘n soldaat beskryf word.
- Hy pak die geveg aan
- en hy HOU AAN veg,
- TOT die vyand verslaan is!
- Hy hou nie op VOOR die oorwinning behaal is nie!
- Hy gooi nie in die middel van die geveg TOU op nie!
Volharding is nie iets wat jou PASSIEF maak nie!
- Dit vervul jou met ENERGIE.
- Dit bring jou in BEWEGING!
- Jy raak BESIG!
- Waarmee?
- Besig om ELKE oomblik jou man te staan in hierdie wêreld.
- Besig om jou geloof in Jesus Christus as jou enigste Verlosser en Saligmaker uit te leef ~
- te alle tye en onder alle omstandighede,
- OPENLIK en sonder om SKAAM en BANG te wees!
- Jy VEG met die SWAARD van die Gees,
- dit is die Woord van God teen die wetteloosheid en liefdeloosheid in jou EIE hart en lewe.
- Jy VEG met die VASTE sekerheid:
- Jesus Christus HET reeds oorwin ~
- en deur in Hom te glo,
- HET ek SAAM met Hom oorwin!
Aan hierdie VOLHARDING, koppel Jesus die BELOFTE:
- Wie volhard tot die einde toe,
- hy sal gered word!
- Gered ~ nie omdat jy self uit eie krag so goed geveg het nie.
- Maar gered,
- omdat Jesus Christus jou met sy kosbare bloed gekoop het!
- Gered,
- omdat die H.G. al die krag en genade aan jou gegee het,
- sodat jy kan volhard!
Geliefdes, hoe LAAT is dit op God se horlosie?
- Sien jy in al die dinge wat om ons gebeur hoe Jesus Christus al hoe NADER kom?
Vat dan jou medelidmate se hande vas!
- Ondersteun MEKAAR!
- Praat MEKAAR moed in,
- sodat nie een van ons van die geloof afvallig word nie!
Amen.
Ds. A.P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment