'n lekkerkuier blog van alles en nog wat langs die pad

'n Lekkerkuier blog
van alles en nog wat
langs die pad.

Hier gesels ek sommer
oor alles waaroor ek wonner
sop of komkommer
varkmurg maak mens dommer!

Blaaie

Sunday, 15 May 2011

Josua 10:12: Die dag toe die HERE die son laat stilstaan het.

Lees:  Josua 10:1 – 15

Hoofgedagtes:
1.  Die aanleiding daartoe.
2.  Die rede daarvoor.
3.  Die eis daarvan.

Geliefde broeders en susters en kinders,

Ons leer uit Spreuke 30 dat die Here ook deur die natuur met ons PRAAT.
      Ons kan Sy stem hoor in die BUITENGEWONE wysheid
      van die miere en die klipdassies;
      die springkane en die geitjie.
      Dit is KLEIN en ALLEDAAGSE diertjies waardeur Hy met ons praat.

Maar die Here praat ook met ons deur GROOT dinge in die natuur.
 Ons beleef ‘n BUITENGEWONE reënseisoen ~
 OORVOL riviere maak van watervalle ‘n asemrowende gesig;
 die water wat uit die SLUISE van ons DAMME stroom, slaan ons asem weg;
 oral in ons omgewing en ook ‘n GROOT deel van ons land, staan die waterplasse in die veld!

Dan is daar dele in ons land en in die wêreld waar mense asem ophou en VLUG voor die geweldige KRAG van die natuur!
  Vloedwater wat alles MEESLEUR;
  tropiese storms en tornado’s wat alles in hulle pad WEGVEE;
  aardbewings wat geboue soos ‘n vuurhoutjiedosie OPFROMMEL;
  modderstortings waardeur alles met die aarde GELYK gemaak word!
  Die Here praat met ons deur die OPSPRAAKWEKKENDE dinge!
  Al hierdie dinge SKREEU dit as’t ware helder en duidelik uit, sodat ALLES en ALMAL kan hoor:
  Die Here is die ALMAGTIGE God wat ALLES bestuur en beheer!

So leer ons Hom ken uit die OPSPRAAKWEKKENDE gebeure in Josua 10.
  Ons lees hier van die dag toe die HERE die son laat STILSTAAN het!
  Ons kyk:
1.  na die AANLEIDING daartoe;
2.  die REDE daarvoor en
3.  die EIS daarvan.

Kom ons stel eers Josua 10 in die VERBAND waarin dit staan.
 Die 40 jarige swerftog van God se volk, Israel, is VERBY.
 Hulle is besig om die land wat die HERE aan hulle BELOOF het, in besit te neem.
 Josua 6 vertel van die oorwinning oor Jerigo,
 die stad waarvan die HERE die mure inmekaar laat val het.
 Josua 7 vertel hoe Israel voor die KLEIN klompie soldate van die stad Ai moes VLUG,
 omdat een van die Israeliete teen die Here gesondig het.
 Josua 8 vertel hoe die Here uiteindelik die volk lei om die stad Ai te oorwin.
 Josua 9 vertel hoe God se volk DWAAS opgetree het en
 met die inwoners van die stad Gibeon ‘n ooreenkoms gesluit het.

En nou is ons by ons tekshoofstuk ~ Josua 10.
 Die konings van die ander stede het gehoor van die Israeliete se oorwinnings oor Jerigo en Ai.
 Hulle het ook gehoor dat die mense van Gibeon met Israel ‘n ooreenkoms gesluit het.
 Hierdie 2 dinge het die ander konings BANG gemaak!
 As Israel en die mense van Gibeon SAAMSTAAN,
 sal hulle AL die ander stede PLATLOOP!

Daarom het 5 van die konings besluit om SAAM te staan!
 Die naam van die koning wat die LEIDING geneem het, was Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem.
 Terloops:
 dit is die 1ste keer dat die stad Jerusalem se naam in die Bybel genoem word.
 Op daardie stadium was Jerusalem ook nog ‘n HEIDENSE stad.
 Hierdie 5 konings het besluit om SAAM teen die stad Gibeon oorlog te maak!
 Hulle het GEHOOP dat Israel die Gibeoniete sal kom help,
 en dan kan hulle sommer vir Israel ook verslaan!

Só werk die duiwel mos, geliefdes!
 Hy kom met ‘n OMPAD na jou toe!
 Hy kom nie REGUIT na jou toe nie!
 Hy steek sy WERKLIKE bedoeling goed weg,
 sodat jy nie dadelik agterkom waar die GEVAAR lê nie!

Die 5 konings het opgetrek na die stad van die Gibeoniete.
 Hierdie aanval op die Gibeoniete het Israel op 2 maniere GETOETS:
 Dit was in die 1ste plek ‘n toets vir Israel se GETROUHEID!
 Sal hulle woord HOU en die Gibeoniete gaan HELP,
 soos hulle in hoofst. 9 BELOOF het?
 En in die 2de plek was dit ‘n TOETS vir Israel se GELOOF in die HERE!
 GLO hulle dat Hy SY beloftes nakom?

Want, geliefdes, dit is MAKLIK om te SÊ:
 Ek GLO!
 Ek VERTROU op die Here!
 Ek hou aan Sy beloftes VAS!
 Maar wanneer jy in MOEILIKE situasies kom,
 waar jou geloof en vertroue GETOETS word,
 dan word dit MOEILIK!
 Dan kan ‘n mens so maklik TWYFEL!
 Sal die Here WERKLIK help?
 Sal Hy werklik DOEN wat hy in Sy Woord beloof?

En tog laat Hy ‘n mens nie in jou twyfel ALLEEN nie!
 Daarom die AANMOEDIGING van vers 8:
 Wees nie bevrees vir hulle nie,
 want Ek gee hulle in jou hand;
 niemand van hulle sal voor jou standhou nie.
 Dit is DIESELFDE belofte wat Hy gegee het,
 VOOR Israel oor die Jordaanrivier getrek het!
 Dieselfde belofte wat die Here weer HERHAAL het,
 VOOR Israel teen Jerigo opgetrek het!
 Dieselfde belofte wat Hy gegee het
 toe Israel die 2de keer teen Ai geveg het!

Die HERE word nie MOEG om ons aan Sy beloftes te HERINNER nie!
 Hy HERHAAL sy beloftes WEER ....
 en WEER .....
 en WEER ....
 om jou te BEMOEDIG!
 Geliefdes, voel jy soms MOEDELOOS?
 Voel jy soms dat jy nie KRAG het om jou werk te doen nie?
 Is jy BANG vir dit wat op jou pad kom?
 Vat jou Bybel en LEES .....
 en LEES .....
 en LEES!
 In die Bybel HERHAAL die HERE Sy beloftes OOR .....
 en OOR .....
 en OOR!
 Gaan LEES dit ....
 en DINK daaroor ....
 en DOEN wat Hy vir jou sê!

Josua het al die weerbare manskappe en die dapper helde opgeroep vir die oorlog!
 Hulle het DWARSDEUR die nag getrek
 en die volgende môre vroeg,
 kom hulle MOEG en UITGEPUT by Gilgal aan.
 Maar hulle het NIE gaan SLAAP nie ~
 hulle het die VYF konings DADELIK aangeval!
 Voor Adoni-Sedek en sy bondgenote hulle oë kon uitvee,
 het die Israeliete hulle BESTORM!
 Die Israeliete kom hulle VERANTWOORDELIKHEID na!
 En die HERE het die VYF konings met hulle GROOT leër BANG gemaak vir Israel!
 En toe hulle begin VLUG,
 het die HERE groot haelstene uit die hemel op hulle gewerp! (vers 11)

Kyk mooi wat hier gebeur, geliefdes!
 Israel VERTROU op die HERE.
 Josua het Israel se saak aan die HERE opgedra!
 Of soos ons dikwels sê:
 Josua het hulle saak aan die HERE oorgegee!
 Vers 12 sê:
 Toe het Josua met die HERE gespreek ~
 dit beteken dat hy GEBID het!

Hier word nie gesê WAT Josua gebid het nie.
      Miskien het hy vir die HERE gevra om die son te laat STILSTAAN ~
      en die HERE het die versoek TOEGESTAAN!
      Daarom sê Josua in vers 12:
      Son, staan stil in Gíbeon,
      en maan, in die dal van Ajalon!
      Soos Elia in 1 Konings 17 gebid het dat dit moet reën ~
      en die HERE het dit LAAT reën (Jakobus 5:17),
      só het Josua hier GEBID ~
      en die HERE het die son en maan laat STILSTAAN!

Verse 13 en 14 VERSEKER ons inderdaad dat die son en maan WERKLIK stilgestaan het!
 Die HERE het die dag LANK gemaak,
 sodat Israel hulle vyande kon VERSLAAN!
 En onthou:
 Israel was DOODMOEG!
 Hulle het die hele NAG deur GETREK!
 Hulle het NIKS geslaap nie!
 Die HERE gebruik soldate wat DOODMOEG is, om ‘n MAGTIGE vyand te VERSLAAN!
 Want dit is die HERE wat die oorwinning GEE!
 Hy het die vyand BANG gemaak.
 Hy het hulle met haelstene bestook.
 Hy het die dag LANK gemaak.

Sien u die WONDERS van God, geliefdes?!
  Hy VERLOS.
  Hy RED.
  En Hy doen dit op Sy wonderlike manier!
  Menslik ONVERSTAANBAAR!
  Menslik ONVERKLAARBAAR!

Die wetenskaplikes sê dat daar onbeskryflike CHAOS op aarde sal wees, as die aarde skielik gaan STILSTAAN!
  ALLES sal INMEKAAR stort as die aarde skielik OPHOU draai ~
  soos ‘n kaartehuisie!
  ALLES sal in die ruimte INGESLINGER word!
  Maar die Here, die almagtige God laat die aarde STILSTAAN,
  SONDER dat IETS inmekaar stort!
  Hy hou alles wat Hy geskape het, met sy EIE hand vas.
  Hy beheer ALLES!
  En Hy gebruik die NATUUR in die VERLOSSING van sy kinders.

Op daardie dag, geliefdes, het die Here vir Israel die son laat STILSTAAN,
 totdat hulle die magtige vyand VERSLAAN het!
 Deur die STILSTAANDE son het Hy verlossing bewerk.
 Op ‘n ANDER dag,
 baie eeue later,
 het die Here die son VERDUISTER (Lukas 23:44 – 45)!
 Hy het die son laat WEGRAAK!
 En deur die DUISTER heen het Hy vir ELKEEN wat GLO,
 ware VERLOSSING en
 LIG en LEWE  gegee!

Jesus Christus, die EIE Seun van God
 het die GROOTSTE en
 mees GEDUGTE vyand van alle tye OORWIN!
 Hy het die ALLERVERSKRIKLIKSTE geveg ALLEEN geveg.
 ALLEEN  ~
 en in die DONKER!
 Die las van ONS sonde het op Hom GEDRUK.
 Die STRAF wat vir ONS vrede aanbring, was op Hom.
 Deur Sy wonde het daar vir ONS genesing gekom.

Maar dit beteken NIE dat ons nou AGTEROOR kan sit nie.
 Dit beteken ook nie dat ons nou ons saak aan die Here kan oorgee,
 en dan EENKANT sitaan en KYK hoe Hy in ons PLEK stry nie!
 God neem NOOIT ons verantwoordelikheid weg nie.

Sy wonderbaarlike verlossingswerk EIS van ons:
 STRYD teen ons sonde!
 STRYD  ~  
 al dink jy dat jy te MOEG is om jou arms op te lig!
 SRTYD  ~  
 al voel dit vir jou of die OORMAG te GROOT is!
 Hou AAN stry teen ELKE sonde in jou lewe ~
 want die Heilige Gees gee aan jou AL die krag wat jy nodig het.
 En die Here het die dag LANK gemaak ~
 in sy lankmoedigheid gee Hy TYD vir STRYD!
 En Hy gee ook die OORWINNING ~
 die FINALE oorwinning wanneer Christus met die wolke van die hemel kom!
 Dan gaan die Son NOOIT weer onder nie!
 Dan STAAN die Son vir ewig STIL!

Amen.

Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom

No comments:

Post a Comment