Hoofgedagtes:
1. Die evangelie.
2. Die ander evangelie.
3. Die oordeel.Geliefde broeders en susters en kinders,
Is jy RIGTINGVAS?
Kan jy die 4 hoof windrigtings PRESIES aanwys,
sonder om ‘n ENKELE graad af te wyk?
Daar is MIN mense wat dit kan regkry!
Daarom het jy ‘n KOMPAS nodig om die rigting PRESIES aan te wys.
Netso het ons ‘n KOMPAS nodig wanneer ons met die Bybel werk!
Want die Bybel openbaar BAIE dinge aan ons,
en jy kan so maklik VERDWAAL tussen al die dinge wat in die Bybel staan.
In Sy genade het die Here sy KERK gelei om deur die eeue vir ons ‘n KOMPAS saam te stel.
Daardie kompas is ons BELYDENISSKRIFTE!
In ons belydenisskrifte word die HOOFLYNE van dit wat ons glo,
vir ons mooi saamgevat.
So het die kompas van die NGB ons begelei.
Artikel 1 begelei ons om te glo dat daar net EEN ware God is.
Artikel 2 leer ons op watter maniere die Here Homself aan ons bekend gemaak het.
Artikel 3 – 7 leer ons wat die Bybel is,
naamlik die geskrewe Woord van God
wat gesag oor ons hele lewe het
en waarin God Sy wil volkome aan ons openbaar het.
Ons kan die kerngedagte van artikels 6 en 7
en ook van ons teksgedeelte, soos volg stel:
God se Woord, die Bybel, openbaar Sy wil volledig!
God sê ALLES wat ons vir ons saligheid MOET glo, VOLLEDIG in die Bybel.
NIEMAND mag iets daar BYVOEG nie;
en NIEMAND mag iets daarvan WEGLAAT nie;
en NIEMAND mag iets daaraan VERANDER nie!
Dit is só ‘n belangrike saak, dat Paulus sy brief aan die gemeente in Galasië heeltemal ANDERS begin as AL sy ander briewe.
Al sy briewe BEGIN met ‘n seëngroet.
En daarna spreek hy sy DANKBAARHEID teenoor God uit vir Sy genade wat in die lewe van die gemeente sigbaar word.
Die brief aan die Galasiërs begin wel met die seëngroet ~ vers 1 – 5.
Maar in plaas van DANKBETUIGING, spreek Paulus VERBASING en TELEURSTELLING uit!
Verbasing en teleurstelling,
omdat die gelowiges in Galasië so gou afvallig geword het!
Die woord afvallig is ‘n militêre uitdrukking.
Dit is gebruik om aan te dui dat ‘n soldaat na die vyand toe OORGELOOP het!
Die Galasiërs het dus “na die vyand toe oorgeloop” ~
en hulle het dit so gou gedoen!
Dit het gebeur, KORT na Paulus-hulle se vertrek
en KORT na hulle tot GELOOF gekom het!
WAARVAN het hulle afvallig geraak?
Hulle het afvallig geraak van die evangelie wat ons julle verkondig het!
Die woord evanglie beteken mos:
GOEIE nuus of
BLYE boodskap.
Die GOEIE nuus of BLYE boodskap wat Paulus aan die Galasiërs verkondig het, is die volgende:
Dat God uit SUIWER genade, sy EIE Seun gestuur het om vir AL ons sonde VOLLEDIG te betaal!
Hy het Homself gegee vir ons sondes ~ soos vers 4 sê.
Dit beteken dat God ALLES gegee het om ons te RED!
HY het alles GEGEE,
sodat ons alles kan ONTVANG!
Hy vra NIE dat ons SELF ‘n DEEL van ons skuld moet BETAAL nie!
Hy vra ook nie dat ons Hom moet TERUGBETAAL nie!
Want ons verlossing is mos NIE ‘n huurkoop transaksie nie!
Dit, geliefdes, is die evangelie ~ die GOEIE nuus,
die BLYE boodskap wat Paulus aan die Galasiërs verkondig het!
Of anders gestel:
Dit is die evangelie,
die GOEIE nuus,
die BLYE boodskap
wat God deur die apostel Paulus aan die Galasiërs ~
en ook aan ONS ~ verkondig het!
En die Heilige Gees het hierdie goeie nuus en blye boodskap,
hierdie WOORD wat van God af kom,
in die HARTE van die Galasiërs ingeplant.
Hulle het dit GEGLO!
Aan hierdie evangelie moet ons tog VASHOU met ALLE mag en krag, geliefdes!
God het oneindige GENADE aan ons bewys.
Hy GEE aan ons VOLLEDIGE verlossing uit die mag van die sonde;
VOLLEDIGE verlossing uit die EWIGE dood.
Hy GEE hierdie verlossing aan ons ~
ABSOLUUT VERNIET!
Ons, wat die ewige DOOD deur en deur VERDIEN, as gevolg van ons sonde ~
aan ONS gee God die ewige LEWE ~
ABSOLUUT VERNIET!
En wat meer is:
DIT is God se WIL!
Hy GEE die lewe VERNIET aan ons,
omdat Hy dit WIL doen!
Dit is SY wil wat Hy deur die apostels en profete laat verkondig het,
en wat Hy in die Bybel laat neerskryf het.
Daar is NIKS méér wat ons moet WEET en wat ons moet GLO nie.
ALLES wat ons van ons verlossing MOET weet en glo,
het God VOLLEDIG in die Bybel aan ons bekend gemaak.
Daarom bely ons in artikel 7 dat hierdie Heilige Skrif, dit is die Bybel,
die wil van God volkome bevat,
en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo,
daarin voldoende geleer word.
Die Bybel is die evangelie.
Die Bybel bevat AL die goeie nuus,
die HELE blye boodskap.
Die Galasiërs het van die evangelie afvallig geword!
Hulle het nie VAS bly staan nie, maar OORGELOOP!
Waarheen?
Vers 6 sê:
Na ‘n ander evangelie toe!
Na Paulus-hulle se vertrek, het sommige mense die Galasiërs in die war gebring!
Hulle is Judaïste genoem.
Hulle het die evangelie van Christus verdraai.
Hulle het gesê:
Jesus het vir die sonde aan die kruis betaal,
MAAR jy kan nie ALLES van Hom alleen VERWAG nie!
Jy moet ook JOU deel bydra!
En die deel wat JY moet bydra,
is GEHOORSAAMHEID aan die wette van Moses!
As jy dus GERED wil word, moet jy JOU deel doen.
Christus SAL Sy deel doen,
AS jy jou deel gedoen het!
Christus het betaal,
MAAR jy moet JOU deel bydra,
jy moet ALLES doen wat die wette van Moses beveel,
DAN eers sal God jou verlos!
So verskuif die Judaïste die KLEM
van Christus af
na dit wat JYSELF moet doen om jou verlossing te VERDIEN!
Maar die evangelie wat Paulus-hulle verkondig, leer:
Christus ALLEEN!
Hy doen ALLES ~
Hy het reeds VOLLEDIG vir jou sonde betaal!
Hy het REEDS vir jou ‘n plek in die hemel gereed gemaak
en nou DANK jy Hom vir sy genade
deur aan die 10 gebooie gehoorsaam te wees!
Ons hoor hierdie VERANDERING aan die evangelie vandag nog, geliefdes.
Baie mense sê inderdaad:
God sal Sy deel doen,
maar dan moet jy eers JOU deel doen!
Maar die oomblik as jy aan die evangelie VERANDER,
dan is dit NIE meer die evangelie van God se genade nie!
Dit wat Hy in die Bybel vir ons gee, staan VAS.
Dit is ALLES wat ons MOET weet vir ons redding.
Wie aan hierdie evangelie VERANDER
of daaraan iets BYVOEG
of daarvan iets WEGLAAT,
speel met VUUR!
Daarom die SKERP waarskuwing in ons teks: (vers 8 – 9)
Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig
in stryd met die wat ons julle verkondig het,
laat hom ‘n vervloeking wees!
Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer:
As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het,
laat hom ‘n vervloeking wees!
Die woord vervloeking beteken:
om oorgegee te word aan die oordeel van die hemelse Regter.
Dit staan hier nie as wens nie ~
dit is ‘n opdrag:
As iemand julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het,
dan MOET hy ’n vervloeking wees!
Dan MOET hy aan die STRAF van die Here oorgegee word!
En die STRAF van die Here,
is niks anders as die EWIGE dood,
die HELSE straf nie!
Verstaan u die geweldige KRAG van hierdie woorde, geliefdes?
Verstaan u waarom ons soveel KLEM lê op die SUIWER verkondiging van God se Woord?
Dit is nie ENG en OUTYDS en ONVERDRAAGSAAM nie!
Wyle ds. Thys Booyens het gesê:
Dit is BARMHARTIG, want dit gaan om die ewige saligheid van mense!
Dit gaan oor die WIL van God!
Hoe WIL Hy mense red?
Ons moet Sy reddingspad volg, soos Hy dit in Sy Woord vir ons AANWYS!
Wanneer dit oor God se wil vir ons verlossing gaan, mag ons NOOIT sê:
Alle paaie lei na Rome, nie!
Daar is net een Pad na verlossing:
Jesus Christus alleen!
Hy het ALLES gedoen vir ons redding!
Daar is geen alternatiewe roete nie.
Alle ander paaie is afdraaipaaie en doodloopstrate.
Daar is net Een Padbouer:
naamlik God.
Die pad wat Hy in Christus gebou het, is voltooi.
Hierdie Pad bring ons nie halfpad nie,
maar die hele pad ~
tot in die hemel.
God het nie PADBOUERS nodig nie,
maar PADGEBRUIKERS!
Geliefdes, in Sy groot genade het die Here Sy Woord aan ons gegee.
Sy Woord staan altyd VAS!
Sy Woord VERANDER nooit!
KLOU daarom met AL die krag wat die Heilige Gees jou gee,
aan die SUIWER Woord van die Here VAS!
Moet jou nie laat MISLEI en VERLEI nie!
Moenie AFVALLIG word nie!
Amen.
Ds. A. P. Krüger
Gereformeerde Kerk Welkom
No comments:
Post a Comment