Die eerste pos op my blog. Wat sal ek sê? Ek weet nie, ek skryf sommer. Ek speel nou al vir jare lank op die Internet rond. Het verskeie pogings tot 'n webtuiste gehad, naderhand vasgesteek by Padlangs wat ek tot 'n redelike groot webtuiste uitgebou het (+-100 blaaie).
Padlangs het bietjie rondgeswerf op die Internet en verskeie kere van adres verander. Rondgetrek van plek tot plek soos die lewe mens nou maar laat rondskuif. Dis nou mos maar jou lot as jy op ander se genade leef en nie 'n plek van jou eie het nie. So het Padlangs van gratis webspasie gebruik gemaak om 'n tuiste te hê, 'n adres waar mens by kon gaan kuier.
Die afgelope ruk oorleef Padlangs by Jislaaik.com. Padlangs het tot stilstand gekom, die belangstelling in 'n eie webtuiste het getaan. Maar wat maak mens nou ook met 'n eie webtuiste deesdae? Geen nut daarin om 'n klomp tjol iewers te los en te dink mense gaan daarna kyk nie. Dis immers lankal al ou nuus, die fotos ia al welbekend en min van die inhoud is enigsins relevant indien dit ooit was.
En nou tjommel ek weer hier op my eie blog. Ek dink ek het 'n tyd gelede al 'n poging tot 'n blog aangewend want daar is reeds 'n adres vir padlangs.blogger.com. Sal moet gaan soek of ek nie dalk iewers in 'n vergete e-pos die besonderhede het vir daardie adres nie, dalk kan ek dit weer aan die lewe kry. Ek het in elk geval nooit daar gepos nie.
So, hier blog ek nou. Wat van die blog gaan word, sal ek maar nog moet sien. Daar draai 'n klompie idees in my kop rond. Een is om sommige van die inhoud van my ou webtuiste hier te kom pos. 'n Ander is om my lewensstorie hier te vertel, soort van 'n autobiografie, waarvoor weet ek nie. Dalk vir my kinders om eendag meer oor hulle pa te wete te kom. Dalk sommer net omdat elke mens graag sy eie storie wil vertel. Of sommer net oor dit lekker is.
Hoe dit ookal sy, ek sal wel iets doen met hierdie blog...
No comments:
Post a Comment